Droomhuis teen die Helderberg met tonne natuurlike lig
Nadat sy lank oor ’n huis teen ’n berg gedroom het, het dié koper presies geweet hoe sy dit na haar smaak sou inrig – en toe maak sy so!
Die leefvertrek se dubbelvolume is te danke aan die hoofslaapkamer op ’n hoër vlak langsaan. ’n Kleurskema van blou tussen wit en grys mure verleen ’n vars, koel gevoel aan die ruimte. Meubels is in knus kuierhoekies gerangskik vir ’n gesellige atmosfeer. Die onverwagte spatsel rooi in die skildery deur Paul Marais by die trap pas, volgens Antoinette, nie eintlik by die kleurskema nie. “Tog werk dit so goed,” sê sy. “Ek het dit by die destydse Jan se Shop op Stellenbosch gesien en dadelik gekoop.”
Van die heel eerste dekor-items wat Antoinette vir die huis gekoop het, was twee yslike handgemaake kandelabers van klei en glas.
“In die aand, as mens hulle aanskakel, is die weerkaatsing op die vloer en teen die glas net ongelooflik,” sê sy. Bedags stroom natuurlike lig deur ’n groot glaspaneel net onder die plafon. Kandelaber van Mud Studio
Antoinette Stockley het presies geweet wat sy sal doen op die erf waar ’n doodgewone ou huis teen die hange van die Helderberg in Somerset-Wes gestaan het, al was sy nie die eienaar nie.
Sewe jaar lank het sy gereeld by haar vriendin gaan kuier wat dié huis gehuur het. Toe, op ’n dag sowat ’n dekade gelede, kom die eiendom op die mark. En dit word hare – maar nie sonder ingrypende veranderinge nie.
“Een halwe muur en die fondasie is al wat oorgebly het,” vertel sy. “Ek wou báie glas hê, want die erf is in die natuur.”
Die middelpunt van die huis is die dubbelvolume-leefruimte op die grondvloer. ’n Ry glasdeure aan die westekant onthul met die intrapslag haar tuin en die inheemse woud daaragter. Lig stroom in oorvloed deur die staalraamvensters, die groenigheid amper naatloos deel van die binneruimte.
Hoewel die oopplanvertrek in die middag die westeson vang, hou Antoinette net te veel van haar omgewing om dit met hortjies of gordyne af te sper. Dubbelglas help teen die hitte, terwyl die soliede houtvloere, hoë plafon en die regte kleurskema bydra tot ’n gevoel van koelte, saam met kraakwit kombuiskaste en vlekvryestaal-werkvlakke.
Daar is pasgemaakte glaspanele in elke vertrek, ook in die dak. “As ek saans opstap huis toe en Emma, my dogter, het reeds die ligte aangeskakel, is dit amazing, want dit lyk soos ’n glasboks. Al wat jy sien, is lig.”
“Dis wat ek hier wou hê. En dis heerlik, want ek sien die berg, waar die wolke is.” >>
Welige potplante bring koelte na die leefvertrek, al bak die middagson teen die vensters. Antoinette versamel Oosterse beeldjies.
Haar wenk is dat versamelings subtiel uitgestal word, sonder dat dit soos
’n altaar lyk.
Kleibeeld deur Evette Weyers
Antoinette is net so dol oor tuinmaak as oor kosmaak. Die spens langs die oopplankombuis is gerieflik naby als, maar tog uit die oog. Dit kry ook net die regte hoeveelheid lig om steggies en kruie in die vensterbank te kweek. Die rakke teen die mure is breed genoeg vir groot gebruiksware wat byderhand moet wees, pleks van diep in ’n kas, en die vlekvryestaalblaaie is maklik om skoon te hou.
Styl met siel
Dis nou sewe jaar dat Antoinette hier woon. Destyds het sy ’n lêer gehad met prente en idees wat haar binneversiering geïnspireer het. Dié bestaan nie meer nie, want met verloop van tyd het sy haar eie styl bemeester.
Sy beskryf dit as modern-huislik. “Ek hou daarvan om vintage en modern te meng.
“Die eerste jaar of wat nadat ek hier ingetrek het, was als baie klinies. Hier het niks rondgestaan nie. Maar ek is mal oor beelde soos Oosterse Boeddhas, wat ek so tussen my plante uitstal.” En so het sy mettertyd haar eie stempel begin afdruk.
“My dekor is my eie interpretasie van styl,” verduidelik sy. “Dis ’n proses wat voorturend verander en ek kry gedurigdeur nuwe planne. ’n Mens kan nie net werk met ander mense se idees en reëls nie, want dit maak nie van ’n huis ’n tuiste nie.
“As ek al die goedjies wat hier rondstaan, sou wegvat, gaan dit net ’n dop wees, sonder ’n siel. En ’n huis moet ’n siel hê, dis my groot ding. ’n Mens moet doen waarvan jý as ’n individu hou.”
Sy dink ’n rukkie na en verklaar dan laggend: “Eintlik ís daar nie reëls nie.”
[ HOU DIT INTERESSANT]
Antoinette sê dis vir haar maklik om te keer dat haar huis vervelig raak – sy bring net dikwels veranderinge aan. En dit hoef nie ’n fortuin te kos nie:
• Bring koeler kleure in wanneer dit warmer word. Die spatsels blou in die kombuis is gelukkig ’n maklike kleur en alles werk teen die grys-en-wit agtergrond.
• Wissel bykomstighede soos strooikussings en dekens op ’n rusbank in die winter af met ander in ’n warmer skakering of ryker tekstuur.
• Moenie aarsel om dekor of meubels met vriende te ruil nie. Antoinette het byvoorbeeld twee gestoffeerde gemakstoele in haar slaapkamer by ’n vriendin verruil vir twee leerstoele.
• Vra raad. “Ek en ’n vriendin het baie dieselfde idees, hoewel haar huis heeltemal anders as myne lyk. As ek wonder oor iets, sal ek altyd haar raad vra. Sy weet presies wat in my huis pas en ek weet presies wat in hare sal werk.”
• Snuffel deur die tweedehandswinkels in jou buurt of dorp vir winskopies (en neem daardie vriendin saam). >>
Wanneer die son opkom is dit die mooiste,
mooiste mooi. Ek wil net kyk, en kyk... – Antoinette
Kuier binne en buite
Twee buitekuierareas op die grondvlak dien as skakel tussen dié gesellige huis en sy tuin. ’n Soliede L-vormige houtdek strek van die voorstoep af om ’n hoek na die swembadarea. Hier kan Antoinette haar rottangmeubels sonder moeite agter die son aan skuif en van oral ’n pragtige uitsig oor haar tuin, die see of die berg geniet. Op mooiweersdae staan die glasdeure wawyd oop sodat binne en buite as’t ware een word – wat natuurlik ook die onthaalruimte vergroot.
Want so lief as wat Antoinette vir haar plante en die natuur is, so versot is sy ook op kosmaak en kuier. “Ek sal op die ingewing van die oomblik vir vriende sê: ‘Oukei, kom ons braai vanaand.’ Dan maak ek al die deure oop en almal sit waar hulle wil. In die somer is dit heerlik buite; in die winter kuier ons binne om die kaggel. My huis pas gemaklik aan by die weer,” verduidelik sy.
Antoinette het reeds by die ontwerp van haar oopplanhuis seker gemaak haar kombuis is naby die eetarea. “As ek ’n klomp mense nooi, kuier ons binne én buite. Maar ek dek my tafel binne, naby die kombuis. Dis net soveel makliker om kos aan te dra en af te dek.”
Sy slaag uitstekend daarin om ook die buiteleefareas prakties en gesellig te hou deurdat sy verskillende sit-areas geskep het – net soos binne.
“Ek hou van die idee van verskillende hoekies waar mense enige tyd kan gaan sit. Nie soos die sitkamers van ouds wat net vir spesiale geleenthede gebruik is nie,” sê sy laggend. >>
My ma se huis was altyd fantasties. Sy het verskriklik goeie smaak, so ek het daarmee grootgeword. – Antoinette