Opknapghoeroe wys sy handewerk op Villiersdorp
Bernie Diedericks kan ’n vervalle huis nie weerstaan nie en móét dit eenvoudig regmaak – soos hy ook met dié een gedoen het.
Die graffiti-bekrapte tafeltjie voor die komvenster in die gastekamer het
Bernie by ’n “stokou Chinese omie” in Observatory gekoop.
Die stoel het hy gekoop by ’n bergie wat eendag in Woodstock daarmee verbygestap het in ’n winkeltrollie. Een van die pote was af en ’n plaatjie agterop het gelees “Parliament”. Bernie het dit reggemaak en laat oortrek. >>
Dié keer het Bernie Diedericks byna sy moses teëgekom.
Hy het in sy lewe al hoeveel huise gebou of opgeknap en sy hande staan werklik vir niks verkeerd nie, maar met dié kasarm op Villiersdorp was hy ná aan moed verloor.
Die huis, wat hy by die bank gekoop het, het drie jaar lank leeggestaan. “Dit was vieslik, ’n nagmerrie,” sê Bernie. “Ook die tuin was ’n bosgasie; jy kon nie jou voet daarin sit nie.”
Nou hoekom dan so ’n stukkende plek hoegenaamd koop?
“As jy vir my al die geld in die wêreld gee, maak ek al die ou huise in die wêreld reg. Ek raak kwaad as ek sien hoe plekke agteruitgaan,” sê hy.
“Maar hierdie huis... Ek was nie by my volle positiewe nie! Die dromer in my het nie in gedagte gehou hoeveel dit gaan kos om dit van voor tot agter oor te bou nie. Maar ek het mos delusions of grandeur.”
Bernie het tevore twee huise uit die grond gebou: een op Riebeek-Kasteel in die Swartland, die ander in die Lynedochekodorp buite Stellenbosch. Ses huise het hy opgeknap: in Kaapstad, die Paarl en Greyton, asook drie eenhede op Kylemore buite Stellenbosch.
En toe gebeur Villiersdorp, “want dit was die naaste aan die Kaap wat ek kon bekostig”. Hy het in Maart 2016 met die projek begin en eers drie jaar later, net betyds vir ons jaarlikse Regruk met Flairwedstryd, was hy tevrede met sy handewerk.
En toe kon Tuis uiteindelik sy nuutste blyplek kom afneem … >>
Ek vereenvoudig altyd eers ’n plek en verwyder alles wat dit toe- of volmaak sodat ek van voor af kan begin. – Bernie
Eiesoortige styl
Wanneer ’n mens Bernie se huis binnestap, is dit nie net die gestrooptheid wat jou opval nie, maar hoe slim hy met dekor werk.
“Ek verkies funksionaliteit bo estetika. Dinge moet werk, gebruik word. Nie net mooi lyk nie.”
Iemand het jare gelede sy styl as Voortrekker-Zen beskryf; self noem hy dit ’n styl “uit noodsaak gebore”.
“Ek gebruik maar net wat ek het. Dit is maar toevallig dat my besittings alles oud is.”
Miskien is sy laaste stelling ’n bietjie te beskeie, want hy is ’n man met ’n oog vir hoe ’n outydse voorwerp ingespan kan word vir ’n aantreklike interieur. Hy het ook ’n onfeilbare oog vir die uitsnuffel van skatte in tweedehandswinkels – ook al is iets stukkend, want dié herstel hy self tot hul eertydse glorie.
Om bruin jou hoofkleur te maak is ’n waagstuk waarmee nie baie mense sukses sal behaal nie. Maar Bernie kry dit perfek reg.
“Dis die skoon doek wat die dekor so treffend maak. Dit is soos ’n uitstalruimte of kunsgalery. Mens kan enigiets hier binne sit en dit sal mooi lyk.”
As hy eendag sy droomhuis kan opknap of bou, sal alles net nog eenvoudiger word.
“Ek kan vier mure vat en dit regmaak, dis nie vir my ’n probleem nie. Een muur van bakstene en die ander drie van glas of met vensters. So goedkoop en so mooi as moontlik. En ’n groentetuin is baie belangrik. Eintlik wil ek maar net tuinmaak.”
En mooimaak voor hy weer verkoop en aanbeweeg. Soos nou, want hy het reeds ook hierdie lieflik opgeknapte huis in die mark gesit.
“Elke keer dek ek die tafel vir iemand anders.”