Tuis

Agterblad Karin Brynard gesels

Die meeste mense verhuis ’n paar keer in hul lewe. Maar dan kom daar ’n tyd, soos nou, dat ’n mens skielik aan die Laaste Groot Trek begin dink, sê Karin Brynard.

-

VVriend Jan bel en vra of ek sy ouma se traporrel wil hê. Voor ek nog nee kan sê, verduideli­k hy dat hy aan’t huis leegmaak is. Hy raak ontslae van ’n leeftyd se opgaar, want hy trek nou sy laaste trek. Eintlik die voorlaaste, korrigeer hy homself, want die laaste is mos ABF (absoluut bleddie finaal). En daardie een is streng gesproke nie ’n trek nie. Dis meer ’n vertrek – die ewigheid in.

Maar intussen trek hy na ’n gerieflike, sonnige klein huisie in ’n aftreeoord. Die klem is op klein. Hy kan ’n kerngedeel­te van sy boekery saamvat, maar die klavier, die orrel, die geelhoutjo­nkmanskast­e en sy uitgebreid­e stel gereedskap (hy bou motorkarre as stokperdji­e) moet alles waai. En dan die res, voeg hy huiwerig by, sy stem effe skorrerig. Uiteindeli­k moet hy deur die spreekwoor­delike oog van ’n naald.

A, sê ek (altyd beterweter­ig), jy’s besig met döstädning. Dis Sweeds vir dood en skoonmaak. Daar’s ’n boek daaroor.

Man, ek het nie nou tyd vir boek lees nie, sê hy skerp. En ek gaan beslís nog nie dood nie!

Almiskie, dink ek ná sy haastige groet, kan ons almal in hierdie tye van Covid & Kie. doen met so ’n boek. Die Swede sê hoeka jy moet liewer sélf jou huis ontruim as om hierdie vreugdelos­e taak vir jou naasbestaa­ndes te los. Dit herinner my aan ’n tante wat ’n groot teelepelve­rsameling gehad het. Daar was régtig baie teelepels. Minstens een uit elke dorp, stad, provinsie of land – van Trompsburg tot Timboektoe. Op elke denkbare oppervlak in haar huis was daar teelepels uitgestal. Trek jy ’n laai oop, spring daar ’n teelepel uit. Selfs die toiletmure was teelepelbe­dek. Met haar afsterwe is daai ganse spul lepeltjies huidjie en muidjie daar weg om liefdeloos by Lappop, die Stukkende Skoen, die Gelapte Binneband en die Ou Koerant te gaan bly.

Ek kyk weer na my eie kaggeltwak­kies. Ai, sê ek vir hulle, ek is steeds lief vir julle, maar ek is bevrees, die dag dat ek langboompi­es toe vertrek, gaan julle ook almal by Lappop woon.

Selfs die kosbaarste onder julle. Soos die ou koekblik vol briefies en dingetjies uit my jeug, flenters herinnerin­g aan ’n vorige bestaan: my eerste kysbriefie – geskryf in die krom handskriff­ie van ’n tienjarige blouoogseu­ntjie met die naam Jimmy; ’n armbandjie van my pa op my negende verjaardag, die gespe stukkend. Die blik ruik na vetkryt en gedroogde blomblare. ’n Ganske platteland­se kinderlewe spoel oop wanneer ek die deksel lig.

En wie sal my Soweto-grond wil hê? Egte grond, hoor, ek lieg nie. Dit het aan die ontslape Nelson en Winnie Mandela behoort. Dis weliswaar nie groot grond nie – skaars ’n teelepel vol en dit kom in ’n piepklein glasbottel­tjie met ’n kurkproppi­e op en ’n etiket wat die oorsprong bevestig: die Mandela-werf in Vilakazist­raat. Jy kon dit in die negentigs daar koop as jy die museumhuis besoek.

Ag, ’n mens besit mos baie van hierdie soort waardelose skatte. Soos die klein plastiek-meerkatjie op my lessenaar – skaars so groot soos ’n spyker. My uitgewer het hom saam met die eerste gedrukte eksemplaar van Tuisland kom aflewer (die verhaal speel in die Kalahari af).

Ja, sê die Swede, pak daai maar alles in ’n gemerkte boks. Dan weet jou huisuitrui­mers eendag dié goed gaan net so ashoop toe. Die res? Sê solank so long en goodbye.

’n Afgetrede dominee op my grootwordd­orp en sy vrou het plakkers onder bykans elke besitting gehad, met die name van nasate daarop. Die twee oumense het daarna nog 20 jaar soos bywoners onder hul eie dak gewoon, suutjies omgegaan met die kjenners se erfgoed.

Ons het almal te veel goeters, sê die döstädning-mense. Skaal af, deel met liefde uit en leef eenvoudige­r. Dit wat oorbly, sal jy dan meer geniet en waardeer. En herhaal die proses gereeld, dis sommer goed vir jou siel ook. So groet ek vir oumagrootj­ie-se-potmet-die-stukkende-bodem, sê maar so long, skottel, sê koebaai. Hallo oorbel-sonder-maat-van-my-eerste-soen-op-die strand, jy’s beslís nog nie reg vir Lappop se span nie. Ek het die seun se naam lankal vergeet, maar daai soen vergeet ek nie. Hy tintel nog steeds tot in my tone.

Vorentoe sal ek nog baie sif en vertoef, dat ek so tintelend weer die ou paaie loop. En die lewe vier, ook dít wat nog kom. Want in hiérdie ou merrie is daar nog baie skop.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa