Swierige detail in ’n plaasstyl-huis in die Boland
In dié Bolandse huis kan jy jou oorgee aan die skoonheid.
As jy by dié bekoorlike “plaashuis” buite Stellenbosch stilhou, kan jy jou vir ’n oomblik misgis.
Die U-vorm van die huis, en die werf met sy keisteen-paadjies, perfek gemanikuurde heinings en stokkielekkerboompies laat dit kompleet soos die Franse platteland lyk.
Maar kyk jy mooi, is dit onmiskenbaar Suid-Afrika: Die KaapsHollandse gewel van die hoofhuis verklap dis ’n stukkie Bolandse paradys; so ook die geelhout- en wildevyboom agter die huis.
Dis Jean en Teresa Groenewald se droomhuis. Ná jare in Johannesburg het hulle in 2006 besluit om die Goudstad se stof van hul voete af te skud en die Eikestad hul nuwe tuiste gemaak.
“Jean het twee jaar tevore die geleentheid gekry om ’n deel van die geskiedkundige plaas Libertas te koop, waarvan 30 hektaar in die Patrysvlei-landgoed ontwikkel is,” vertel Teresa, ’n oudverpleegster. “Jean het vier erwe van altesaam 15 hektaar bekom, en drie daarvan verkoop. Elke eiendom op die landgoed het sy eie dam, olyfboord en wandelpaaie, en die nuwe wonings moes inskakel by die geskiedenis van die omgewing en die styl van die Libertas-opstal, deesdae ’n erfenisgebou.
“Ek voel baie bevoorreg en dankbaar om hier te kan bly,” vertel Teresa. “Die Eersterivier loop voor ons huis verby en daar is ’n dam met 50 voëlspesies in ons agterplaas.
“Veral die buitegeboue met hul klipafwerking is vir ons baie spesiaal, want al die klip het hier uit die grond gekom toe die fondasies gegrawe is.” >>
Uitleg
Jean het ’n baie spesifieke idee gehad van hoe hul nuwe blyplek moes lyk. Hy en Teresa het ’n paar jaar voor hulle begin bou het in ’n lugballon oor die Franse platteland gesweef en hul hart verloor op die uitleg van die kleinhoewes wat hulle daar uit die lug aanskou het: ’n werf met ’n ingang of poort wat jou lei na die hoofhuis, en verskeie buitegeboue langsaan.
Aanvanklik het hulle met ’n argitek koppe bymekaargesit om iets soortgelyks te prakseer, maar op die ou end het hulle self planne opgetrek en hul eie ontwerp gevolg.
“Die kinders, Franchette, Martinique en Jacques, was reeds klaar met skool en ons wou vir elkeen hul eie kothuis buite bou sodat hulle kon kom en gaan soos hulle wil,” vertel Teresa. “Dis ook ideaal wanneer jou volwasse kinders trou en daar kleinkinders kom – sodoende is almal steeds bymekaar, maar met hul eie leefruimtes.”
Gevolglik het die hoofhuis net twee slaapkamers en is daar twee buitegeboue met volledige kothuise. Jean se kantoor is ook hier: ’n romantiese klipgebou links op die werf.
Hoewel die buitegeboue heeltemal los van die hoofhuis staan, word dit slim verbind deur middel van verskeie “tuinkamers” wat gemaklike vloei tussen die onderskeie geboue verseker. Teresa het die hulp van die afgetrede tuinontwerper Bettie Ludick ingeroep, en hoewel dié aanvanklik gesê het sy sien nie meer kans vir groot projekte nie, kon sy nie die versoeking weerstaan om so ’n pronkstuk te help skep nie. “Ons het die projek saam-saam aangepak,” vertel Teresa. “Dit was so lekker en tannie Bettie noem dit nou haar aftreeprojek.” >>
Liefde vir mooigoed
Teresa beskryf haar styl as eklekties dog romanties, met ’n stewige dosis klassiek Frans – niks gestroop, minimalisties en onpersoonliks vir haar nie!
Sy wou ’n gevoel van weelde in dié huis hê, en het dit reggekry om ’n fyn balans te skep tussen ’n luukse woning en ’n plaashuis waar gaste altyd welkom voel.
“Ons het klein begin. In ons 33 jaar van getroude lewe het ons al sewe huise gekoop, opgeknap en verkoop,” vertel sy. “Dit gebeur maar as jou man in die eiendomsbedryf is. Hy soek altyd die swakste huis in die beste buurt uit en gee dit ’n nuwe baadjie. Ek glo nie ons sal weer trek nie, maar ’n mens weet nooit!”
Baie van die meubels in die huis is nog dieselfde as toe hulle destyds getroud is. “My hande het al baie hout geskuur,” lag Teresa. “Ek glo nog altyd aan tweedehandse meubels koop, verf en restoureer. As jy min geld het, dan moet jy maar net klaarkom met wat jy het. Dis nou nog vir my lekker om self ’n projek aan te pak.”
Daarom snuffel sy ook graag rond by tweedehandswinkels regoor die Boland tot in die Moederstad: Koöperasie Stories op Simondium, On Site in The Palms Lifestyle Centre in Kaapstad en Gister op Somerset-Wes. “’n Mens sal altyd iets daar kry. Ek glo regtig dat jy met jou hart moet kies: Koop waarvan jy hou, dit sal iewers ’n plekkie kry,” sê Teresa. >>