Kortpadkos Aandete in ’n japtrap
Vier hartlike gesinsetes vir weeksaande.
Pesto-pasta
Onder R110 • Genoeg vir 4 • Bereidingstyd: 10 minute Gaarmaaktyd: 15 minute
• 300g spaghetti • 200g spek, gekap • 15ml olyfolie • 1 klein eiervrug, in klein blokkies gesny
• 200g kersietamaties, gehalveer • 100g olywe, ontpit en gekap • 1–2 wiele feta, gekrummel • 60ml basiliepesto
1 Bring ’n pot soutwater tot kookpunt en kook die pasta tot al dente. Terwyl dit kook, braai die spek in die olie totdat dit begin kleur kry. Voeg nou die eiervrugblokkies by en braai tot gaar. Roer die tamaties by tot hulle bars en ’n sousie begin vorm. Roer ook die olywe en feta by en skakel die hitte af. 2 Dreineer die pasta sodra dit reg is en roer dit by die gebraaide groente en spek. Voeg ook die pesto, en sout en peper na smaak by. Meng goed deur en smul dadelik.
Groen slaai met forel
Onder R175 • Genoeg vir 4 • Bereidingstyd: 20 minute Gaarmaaktyd: 10 minute
• 50g amandels, gekap • 45ml gemengde sesam-, sonneblom- en pampoensaad • 30ml olyfolie • sap van ’n halwe suurlemoen • 7,5ml korrelmosterd • 250ml risoni-pastarys, gaar gekook
• 450 g gemengde murgpampoentjies, langsteelbroccoli en groenboontjies • 200 g gerookteforel-stukkies • 1 avokado, in blokkies gesny • ’n hand vol babaspinasie • 1 rooi ui, in ringe gesny
1 Braai die neute en sade in die olie tot ligbruin. Verwyder van die hitte en roer die suurlemoensap en mosterd by, gevolg deur die gaar pastarys. Geur na smaak met sout en peper. 2 Sny die groen groente effens kleiner en dompel dit vir ’n paar minute in kookwater. Dreineer en verfris in koue water; geur met sout en peper en ’n bietjie olyfolie. Meng die groente by die pastarys saam met die forel, avokado, spinasie en uieringe.