# 2 Proetuin
Grootte: 1,2m hoog, 3m breed en 5m lank Volson
Wat is lekkerder as kraakvars organiese groente? Dié spiraalvormige groentetuin is perfek vir ’n klein ruimte. Dit kan selfs op ’n dak of ’n geplaveide deel gemaak word – los dan net die kamillegrasperk uit, sê Jaco. • Kies ’n sonnige hoekie wat minstens 6 uur son per dag kry. Bou die spiraal met skanskorwe (draadmandjies waarin klip gepak is), bakstene of klip en vul die spiraal met komposryke grond. Moenie die spiraal te breed maak nie – jy moet by die groente kan uitkom wanneer jy langs die spiraal staan. • Plant laer groeiende groente in die buitenste sirkel van die spiraal sodat jy by die binneste spiraal kan bykom vir pluk. Plant roosmaryn heel bo en snoei dit in ’n interessante vorm. • Installeer drup- of sprinkelbesproeiing wat net die spiraaltuin natmaak sodat geen water vermors word nie. • Maak voorsiening vir ’n dammetjie in die ontwerp om lewe na jou spiraaltuin te lok. Dit is ook die perfekte plek om bronkors te plant. • Plant ’n kamillegrasperk reg rondom jou spiraaltuin. Terwyl jy jou groente en kruie pluk, geniet jy sommer die heerlike geur van dié grasperk!
PLANTLYS
1 Spinasie 2 Sitroentiemie (Thymus citriodorus)
3 Origanum (Origanum vulgare ‘Aureum’) 4 Pers opaalbasiliekruid (Ocimum
basilicum ‘Purpurascens’) 5 Grasuie (Allium schoenoprasum) 6 Mosterdslaai (Eruca vesicaria) 7 Aarbeie 8 Basiliekruid (Ocimum basilicum) 9 Roosmaryn (Rosmarinus officinalis) 10 Knoffel 11 Bronkors in die dammetjie (Nasturtium officinale) 12 Sitroengras (Cymbopogan citratus) 13 Wortels 14 Beet 15 Preie en uie 16 Blaarslaai in verskillende kleure
17 Kamillegrasperk (Anthemis nobilis)