Take vir November
Soveel voëls!
Dra by tot dié verdienstelike projek deur al die voëlspesies wat jy in ’n bepaalde tuin, park, skoolterrein of voorstad (of, as jy daarvoor kans sien, binne ’n radius van 50 km van jou huis af) sien en hoor, aan te teken.
Lok voëls deur allerlei voëlvriendelike plante in jou tuin te kweek: Vir nektarvretende voëls Aalwyn, Kaapse kanferfoelie (Tecoma capensis), koraalboom (Erythrina-spp.), notsung (Halleria lucida), wildedagga (Leonotis leonurus), huilboerboon (Schotia brachypetala), erikas en proteas is gewild onder suikerbekkies. Vir vrugtevretende voëls Plant grootnoemnoem (Carissa macrocarpa), waterbessie (Syzygium cordatum), witpeer (Apodytes dimidiata), wildeperske (Kiggelaria africana) en fynblaarrooihout (Ochna serrulata) om voëls soos loeries en muisvoëls te lok.
Vir insekvretende voëls Deklae van blare en opgekerfde tuinafval behou nie net water in die grond en hou onkruid in toom nie, dit dien ook as spens waar lysters, rooiborsies en witogies kan rondsnuffel vir kos. ’n Ruigte van struike soos vlam-van-die-vlakte
(Bauhinia galpinii) en syselbos beskut voëls teen roofdiere en gure weer, en is ’n goeie plek om nes te bou. Plant grasse en palms sodat voëls materiaal het vir hul neste, asook struike en bome met dorings wat hulle teen roofdiere beskerm.