TV Plus (Afrikaans)

Die Kosters teen die Du Preezs

Pippa is reg in die middel van ’n nuwe magstryd.

- Binnelande­rs

Weekdae kykNET (*144) 19:30

Al is dr. Annelize Roux (Cindy Swanepoel) se moeilikhei­dmakerman Eben (Zak Hendrikz) uit die prentjie nadat sy hom gehelp het om weg te kom voordat die polisie hom kon vang, is haar probleme nog lank nie verby nie: Nou moet sy Jana du Preez (Brümilda van Rensburg) keer wat haar uit haar pos wil verwyder. “Jana het nog nooit ooghare vir Annelize gehad nie, en sy was selfs wantrouig toe At Koster (Hans Strydom) Annelize in Maart aangestel het ná dr. Gustav Kemp (Stefan Ludik) se skielike bedanking,” vertel Cindy.

Op Dinsdag 14 Junie moet die raad stem of hulle Annelize as die hoof van die ongevalle-afdeling wil behou. Jana, Pippa (Nadia Valvekens) en haar man Rian (Erik Holm), wat dink sy is nie opgewasse vir die pos nie, stem nee, maar At en Conrad (Hykie Berg), wat weer dink sy is heeltemal bevoeg vir die werk, stem ja.

Annelize se doppie is darem nie heeltemal geklink nie: Haar pos word geadvertee­r en sy kry nog ’n kans om daarvoor aansoek te doen.

INTIMIDASI­E EN VERDEELDHE­ID

Intussen praat Rian op Donderdag 16 Junie vir dr. Tertius Jonker (Reynardt Hugo) om om vir dieselfde pos aansoek te doen. “Dit beteken daar is steeds twee kampe en Pippa (Nadia Valvekens) se stem gaan in die volgende vergaderin­g die deurslagge­wende faktor wees,” verduideli­k Rian.

Conrad (Hykie Berg) en At probeer Pippa intussen beïnvloed om vir Annelize te stem. En dit beteken daar vlam nuwe spanning tussen Rian en Pippa op, want Rian wil weet of Pippa se lojaliteit nou by hom of by die Kosters lê.

“Eintlik is dit onregverdi­g van Rian om te verwag Pippa moet ook vir Tertius stem,” meen Erik. “Op die ou end is dit elke raadslid se persoonlik­e keuse. Pippa word nie so maklik beïnvloed nie, en Rian besef dit. Hy wil bloot hê Pippa moet insien Tertius is die beste keuse,” sê Erik. En net so graag wil Conrad hê sy moet vir Annelize stem.

Erik sê Rian het genoeg rede om te dink die Kosters intimideer Pippa. “Die Kosters tree nog altyd in eiebelang op en sal tot enige laagtepunt daal om te verseker hulle kry hul sin,” sê hy. “Daarbenewe­ns was daar altyd ’n hegte band tussen Pippa en At,” voeg Erik by.

Op Vrydag 17 Junie stem die raad weer oor wie die nuwe hoof van die ongevalle-afdeling sal wees. Naomi (Je-ani Swiegelaar), wat goeie pelle is met Tertius, probeer Pippa oorreed om haar kruisie agter Tertius se naam te trek omdat hy en Pippa ook goed bevriend is.

AGTERDOG EN NUWE BEPROEWING

Terwyl almal vir die uitslag wag, wonder Rian of hy hom moet bekommer oor sy vrou en Conrad wat in 2012 op trou gestaan het en deesdae weer baie in mekaar se geselskap is. “Ek dink die mens se ego bly maar ’n kwesbare ding. Omdat Conrad en Pippa ’n geskiedeni­s het, sal daar altyd ’n gevoel van onsekerhei­d by Rian wees,” sê Erik.

“Conrad en Pippa sou immers getrou het,” voeg Erik by. Pippa het Conrad voor die kansel gelos omdat hy haar net voor die troue vertel het hy het haar met die feeks Stefanie (Rolanda Marais) verneuk. “Al wil Rian hoe graag vir Pippa glo en vertrou, is hy net ’n mens. En vir Conrad vertrou hy natuurlik glad nie,” sê Erik.

Al het hul huwelik die hartseer oorleef dat Pippa nie kinders kan hê nie, voel dit vir Rian of sy jaloesie die keer dalk die einde van hul huwelik kan beteken. En ongeag wat die uitslag van die tweede stemmery gaan wees, is die kanse skraal dat die onmin tussen die Kosters, die Du Preezs, en die Malherbes gou gaan bedaar.

 ??  ?? Rian vertrou Conrad glad nie.
Rian vertrou Conrad glad nie.
 ??  ?? Conrad probeer Pippa intimideer.
Conrad probeer Pippa intimideer.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa