Ontvlugting
Getty se drinkery is op die punt om handuit te ruk wanneer iemand uit haar verlede alles verander.
Weekdae SABC1 (*191) 20:00
Getty (Andisiwe Dweba) is op die afdraande pad sedert sy in Maart bevordering gekry het by #hashtag World en kort daarna het sy met ’n berg skuld gesit. Die berugte geldvoorskieter vir wie sy geld geskuld het, is in Junie ná ’n gewelddadige konfrontasie deur Getty se suster Lucy (Manaka Ranaka) doodgemaak. Al het die susters die moord toegesmeer, was Getty se skuldgevoelens die oorsaak dat sy haar lewe weggedrink het – totdat ’n bekende gesig sake kom vererger het.
ALGEHELE LAAGTEPUNT
“Dis haar laagste punt wat die drinkery betref,” sê Andisiwe. Getty beweeg verder teen die afdraand af totdat haar drinkpel Wandile (Chi Mhende) op Maandag 22 Augustus sin in haar kop probeer praat, maar dit help niks. “Getty geniet dit te veel om te besef sy kan ’n alkoholis word,” sê Andisiwe. “Sy doen enigiets om van alles te vergeet – skuld, moord en haar mislukte verhouding met die perfekte Max (Thono Modipa) ’n paar maande tevore.
IEMAND UIT DIE VERLEDE
Terwyl sy op Donderdag 25 Augustus by Lucy se sjebien is, loop Getty vir Mrekza (Kope Makgae) raak, haar eks wat ons nog nie gesien het nie. “Sy het ’n vuil verlede met die ouens wat sy gedate het toe sy ’n wilde lewe gelei het,” sê Andisiwe. “Mrekza het ’n sekere iets wat Getty weer na hom aantrek.” Wandile sien dit en waarsku Getty teen haar nuwe “vriend”, maar min weet hulle albei watter groot rol Mrekza in Getty se lewe gaan speel.
Dinge raak ernstig tussen Getty en haar eks wanneer haar familie uitvind sy gaan weer met hom uit en haar suster Lucy begin in Mrekza belangstel. Andisiwe verduidelik: “Getty se opportunistiese suster is ingestel om vinnig geld te maak, en die kwessie dat hy nie werk nie maar baie geld het, vind Lucy boeiend.”