TV Plus (Afrikaans)

Trofeevrou

Caroline word die “prys” wanneer Ridge sy seun werk kritiseer.

- The Bold And The Beautiful

Weekdae SABC3 (*193) 18:00

Familie is ’n baie gelaaide begrip in Bold, veral as dit kom by pa en seun wat albei hul oog op een vrou het. Dis presies wat aan die broei is wanneer Thomas Forrester (nou gespeel deur Pierson Fodé) op Donderdag 18 Augustus prentjies begin teken van sy pa, Ridge (Thorsten Kaye), se liefde, Caroline (Linsey Godfrey). Thomas fantaseer sommer ook hoe hy haar soen! En hy sal weet hoe sy soen, want Caroline is immers Thomas se eksmeisie. Sy beheptheid met Caroline gaan egter oor meer as net hartsake. “Hy wil bewys hy is ook belangrik en hy maak saak,” skimp Pierson.

PAPPABEER BRUL

Thomas drentel op Vrydag 19 Augustus by die Forrester-kantoor in om sy ontwerptal­ent ten toon te stel en ’n werk los te slaan. Hy gedra hom byna soos ’n jong leeu wat arrogant by ’n ouer trop wil aansluit, en sê vermakerig vir sy pa die modelle maak nou vir hom ogies en nie meer vir Ridge nie.

G’n wonder Ridge wil hom wys hy kan harder brul nie . . . Ridge trek sy seun se ontwerpe uitmekaar. “Waarvoor was jy Parys toe? Om lui te word?” snou Ridge Thomas toe. “Soek jy ’n werk hier net omdat jy my seun is? As dit die beste is wat jy kan doen, is jy die laaste persoon wat ek sal aanstel.”

THOMAS KAP TERUG

Die knou wat Thomas se eer toegedien word, versterk net sy gevoel vir Caroline. Inderdaad aardjie na sy vaartjie, want Ridge het mos ogies gemaak vir sy pa, Eric (John McCook), se vrou Brooke (Katherine Kelly Lang). As Thomas nie in die kantoor kan wen nie, wil hy darem in die slaapkamer koning kraai. Op Maandag 22 Augustus huil hy op Caroline se skouer, en hoewel hy op Woensdag 24 Augustus vir Brooke sê hy en Caroline “was net ’n minuut in ’n verhouding en het aanbeweeg”, vertel sy fantasieë ’n ander storie!

HIER KOM MOEILIKHEI­D

As Ridge en Caroline ’n sterk verhouding gehad het, sou Thomas nie ’n bedreiging gewees het nie. Maar wanneer Caroline op Woensdag 24 Augustus vir Ridge sê sy wil ’n kind van haar eie hê, antwoord hy: “Ek sien myself nie weer as ’n pa nie.” Oeps! Moenie ophou kyk nie, hier kom ’n kinkel!

 ??  ?? Caroline is vasgevang in die magstryd tussen Thomas (links) en sy pa, Ridge.
Caroline is vasgevang in die magstryd tussen Thomas (links) en sy pa, Ridge.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa