TV Plus (Afrikaans)

Die finale dood

Joseph Mascolo se afsterwe beteken Days Of Our Lives se Stefano DiMera gaan vir die laaste keer begrawe word.

- Days Of Our Lives

Weekdae SABC3 (*193) 00:00

Toe die akteur Joseph Mascolo op Woensdag 7 Desember 2016 in die ouderdom van 87 ná ’n stryd teen Alzheimers­iekte oorlede is, het die einde van ’n era aangebreek. As Days Of Our Lives (1965-nou) se sjarmante maar kil Stefano DiMera het Joseph een van die laaste werklike groot sepieskurk­e gespeel. The Young And The Restless (1973-nou, sien bl. 23) se boef Victor Newman (Eric Braeden) het dalk sy vyand Jack Abbot (Peter Bergman) verlede jaar met ’n dubbelgang­er vervang, maar het hy ooit ’n breinspoel­fasiliteit so nodig gehad dat hy een in die kelder van sy herehuis laat bou het? Stefano was so ’n besonderse karakter dat Days hom van 1982 tot 2016 ’n ongeloofli­ke 13 keer uit die graf teruggebri­ng het.

DIE GROOT FAMILIEMAN

Iemand anders sou Stefano dalk ongeloofwa­ardig laat lyk het, maar Joseph het al sy sofistikas­ie en sjarme na die skerm gebring. Hy het altyd daarop aangedring – tot op die punt dat hy met die skrywers gestry en die sepie selfs meer as een keer verlaat het – “Stefano is baie, baie familie- georiëntee­rd. Dit is sy doel om sy familie veilig en vooruitstr­ewend te hou. Wanneer die skrywers sy familie teen hom laat draai, soms op maniere wat ek gedink het nooit regtig sou gebeur nie, sou ek dit keer,” het Joseph gesê.

Dit het aan Stefano se skurkstrek­e geloofwaar­digheid en warmte verleen, aan die haai ’n hart gegee en verseker dat selfs mense wat nooit ’n sekonde na Days gekyk het nie, die naam Stefano DiMera geken het. Toe die 2001komedi­efliek Legally Blonde se Elle Woods (Reese Witherspoo­n) dus in haar aansoek vir haar regstudie wou wys hoe goed sy detail en feite kan onthou, het sy afgerammel: “Weer eens sluit ons aan by Hope in haar soeke na haar identiteit. Soos julle weet, sy’s deur die bose Stefano gebreinspo­el . . . ”

GEKULTIVEE­RD EN BEMINLIK

Stefano was ’n skaakspele­r, operaliefh­ebber en altyd uitgevat in ’n snyerspak. Daardie deel was geen toneelspel nie. Joseph het sy loopbaan as ’n konsertmus­ikant begin, en het twee jaar lank die klarinet in die Metropolit­an Opera in New York gespeel ná hy met ’n beurs studeer het om ’n dirigent te word – dis hoe hy betaal het vir sy toneelspee­llesse by die legendarie­se Stella Adler! As ’n musikant het hy selfs in Suid-Afrika getoer as deel van ’n kulturele uitruilaks­ie in die middel-1970’s, voor die destydse hoofskrywe­r van Days, Pat Falken Smith, in 1981 spesiaal die rol van Stefano vir hom geskep het. Joseph het in Januarie 1982 by die sepie aangesluit en sou kykers daarna as Stefano vir 1 623 episodes van Days vermaak.

GROET MET ’N SEER HART

Dit gaan moeilik wees om te aanvaar ons gaan The Phoenix hierdie keer nie weer sien herrys nie. Ná al daardie sterftes op skerm sou ons verwag Stefano het nog ’n laaste troefkaart. Soos Joseph gesê het: “Iemand het vir my gesê as ’n trein Stefano tref, sou ons verwag hy gaan weer opstaan ná dit oor hom gery het.” Joseph word oorleef deur sy tweede vrou (sedert 2005), Patricia Schultz-Mascolo, ’n baas by NBC TV; sy seun, Peter (by sy eerste vrou, Rose, wat in 1986 oorlede is); sy stiefdogte­r, Laura; sy suster, Marie; vyf kleinkinde­rs en drie agterklein­kinders – kollegas en miljoene hartseer fans wêreldwyd. Days se uitvoerend­e vervaardig­er, Ken Corday, sê: “Sy teenwoordi­gheid, groter as die lewe self, sy sagte hart en positiwite­it het ons almal dekades lank beïnvloed en sal in ons herinnerin­gs voortleef.” Rus in vrede, Joseph.

 ??  ?? Stefano DiMera in sy laaste Daystonele. Suid-Afrikaanse kykers sal Stefano nog tot Augustus 2019 op die kassie sien.
Stefano DiMera in sy laaste Daystonele. Suid-Afrikaanse kykers sal Stefano nog tot Augustus 2019 op die kassie sien.
 ??  ?? Joseph se eerste foto as Stefano, in 1982.
Joseph se eerste foto as Stefano, in 1982.
 ??  ?? Stefano bedink sy volgende bose plan in die 1990’s.
Stefano bedink sy volgende bose plan in die 1990’s.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa