TV Plus (Afrikaans)

’n Nuwe blaadjie

Lindie Stander skitter in ’n nuwe rol.

-

Seepglad Seisoen 1 Maandae kykNET (*144) 21:00

Die rol van die sepieskryw­er Melanie in die kykNET-komedieree­ks Seepglad (2017-nou) is spesiaal deur die skrywer Mitzi Booysen vir die aktrise Lindie Stander geskep om 'n terugkeer na TV te maak. Buiten vir haar rol as Beulah in die sepie Villa Rosa (2005-2016) wat sy in 2015 en 2016 vertolk het, het Lindie sedert 2011 heeltemal van ons TV-skerms verdwyn. En die rede was geen geheim nie. Lindie, wat ses jaar lank, van 2005 tot 2011, die verpleegst­er Elise Krüger in Binnelande­rs (2005-nou) gespeel het, het die trekpas by die vervaardig­ers, Stark Films, gekry omdat haar persoonlik­e lewe sy tol begin eis het. Sy het in 2011 haar eie lewe probeer neem as deel van haar stryd.

“Ek het van hero na zero geval. Ek het alles in my lewe verloor en geen ondersteun­ingstelsel gehad waarop ek kon terugval nie. Maar dit was alles deur my eie toedoen, ek aanvaar vandag verantwoor­delikheid daarvoor en het dit agter my gesit,” bieg Lindie.

NUWE UITDAGINGS

Sedert haar Binnelande­rs- dae het Lindie se lewe soos handomkeer verander. En sy kyk die lewe weer vierkant in die oë. “Ek het myself die afgelope vier jaar hervorm en herontdek,” vertel sy. Lindie het twee en 'n half jaar gelede na Langebaan aan die Weskus verhuis, waar sy in 'n kothuis op 'n kleinhoewe woon. “Die Kaap doen my baie goed en is die beste ding vir my geestesges­ondheid.” En sy voeg nadenkend by: “Hier is ook nie soveel negatiewe afleiding nie.”

Omdat werk vir akteurs in die Kaap skaarser is as in die Goudstad, het Lindie gou besef sy sal haar eie werk moet skep. Sy het 'n klaskamer op die kleinhoewe laat inrig en twee jaar gelede dramaklass­e vir die kinders in die omgewing begin gee. Die nuus van haar toneelklas­se het soos 'n veldbrand versprei, en sy't vandag al 30 leerlinge. “Die klasgee is baie bevredigen­d, en ek sal dit vir niks ter wêreld verruil nie,” sê sy. “My leerlinge, wat wissel van vier tot 21 jaar, hou my geanker.”

Hoewel die klasgee 'n leemte in haar lewe gevul het, vertel Lindie die hunkering om weer toneel te speel was steeds daar. “Die passie vir toneelspee­l en vermaak bly daar. Dit het aan my geknaag . . .”

SEEPGLADDE TERUGKEER

Toe die rol van Melanie verlede jaar na haar kant toe kom, het sy dit met albei hande aangegryp. “Ek was só dankbaar,” erken Lindie. Seepglad is einde verlede jaar in Johannesbu­rg verfilm. “Die reeks van 13 episodes moes binne 13 dae geskiet word, en dan was daar nog 'n herverfilm­ing van 3 dae,” vertel sy. “Ons het dus bitter min tyd gehad en soms tot agt uur per dag in die ateljee gewerk.”

Sy hou baie van haar karakter. “Melanie is beslis 'n bietjie soos ek – 'n regte softie. Sy probeer hopeloos te hard om almal gelukkig te hou. En sy hou nie van konflik en spanning nie,” voeg Lindie by. “Melanie probeer altyd om 'n ongemaklik­e situasie met 'n grappie of humor te ontlont. En die uwe doen natuurlik dieselfde.”

LEWENSLESS­E EN GROOT DROOM

Lindie lag deesdae weer meer en makliker. “My leerlinge se eerlikheid laat my lag, pres. Donald Trump van Amerika laat my lag. En Madonna se arms laat my ook lag,” sê sy.

Die breek met die TV-bedryf het haar wyser laat word. “Ek het die laaste paar jaar baie lewensless­e geleer – om die bedryf en jou mede-akteurs te respekteer en dat niemand onvervangb­aar is nie. Maar bowenal het ek geleer om respek vir my eie talent te hê en dit nie as vanselfspr­ekend te aanvaar nie,” bieg sy.

Lindie, wat al twee keer die Spaanse Camino-pelgrimsro­ete gestap het (in 2011 en 2013), se lewensdroo­m is om eendag die Japannese Camino-roete van 1 200 km te voltooi. “Jy leer glo baie van jouself op daardie staptog,” sê sy.

Maar tot dan stap Lindie graag op die strand met haar honde – Rachel, Akira en Stitch – vang vis en geniet haar sorgvrye lewe aan die Weskus. En wie weet, dalk wag daar nog 'n lekker nuwe komedie- of sepierol êrens.

 ??  ?? Lindie Stander is terug op TV ná ’n beproewend­e paar jaar.
Lindie Stander is terug op TV ná ’n beproewend­e paar jaar.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa