TV Plus (Afrikaans)

Generation­s

Die eensame Getty sal enigiets doen om ’n man te kry.

-

Generation­s – The Legacy Weekdae SABC1 (*193) 20:00

Die eiewillige enkellopen­de Getty (Andisiwe Dweba) is moeg gewag vir haar Meneer Reg. Dus neem sy die inisiatief en op Woensdag 15 Maart vra sy Lungelo (Anelisa Phewa), die nuwe ou by die werk, uit. Maar Lungelo stel nie belang nie. “Hy beskou haar net as ’n kollega,” sê Andisiwe, en voeg by: “Getty gaan egter nie moed opgee nie.” Dit blyk Lungelo het eintlik Getty se bestie, Wandile (Chi Mhende), in die oog en dit krap Getty om. “Sy’s selfs bereid om die vriendskap op die spel te plaas,” sê Andisiwe.

DESPERATE SKUIF

Terwyl Getty planne beraam om Lungelo se aandag te trek, lê hy by Wandile aan en op Donderdag 16 Maart stem sy in tot ’n date met hom. “Getty is woedend!” sê Andisiwe. En sake vererger wanneer Lungelo op Dinsdag 21 Maart afsydig teenoor Getty by die werk is. “Sy dink Lungelo is besig om haar lewe te leef. Hy’s die nuwe kantoorgun­steling en dan gaan hy boonop met haar eks uit. Dis net nie regverdig nie,” vertel Andisiwe.

Getty moet vinnig met iets vorendag kom en sy doen dit op Dinsdag 21 Maart. Maar dis ’n bra desperate skuif en sy hoop dit sal dinge tussen Lungelo en Wandile beduiwel en ook haar kanse by Lungelo verbeter: Getty onthul Wandile se transgende­r geheim.

Dit lyk of haar plan werk, want op Woensdag 22 Maart los ’n woedende Lungelo Wandile, wat in Augustus 2016 met haar gender-transforma­sieproses begin het. Andisiwe meen Getty het die keer te ver gegaan. “Sy het toegelaat dat haar jaloesie haar oordeel beïnvloed, en dit lyk of sy ’n wonderlike vriendskap bederf het.”

VERWERPING EN FRUSTRASIE

Maar Getty se plan slaag nie heeltemal nie. Hoewel Lungelo nie meer saam met Wandi is nie, stel hy steeds nie in haar belang nie. Sy bied hom ’n skouer om op te huil op Vrydag 24 Maart, maar hy stoot haar weg.

Andisiwe sê haar karakter weet nie hoe om verwerping te hanteer nie. “Pleks dat Getty leer om haar alleenheid te hanteer, verwoes sy haar verhouding­s en vriendskap­pe.” Boonop haal sy haar frustrasie­s op die arme Wandile uit – Getty maak op Dinsdag 28 Maart openlik grappe oor Wandi se geslagsver­andering. “Getty dink steeds sy sal Lungelo se hart kan wen,” sê Andisiwe. “En sy sal enigiemand vernietig wat in haar pad staan.”

 ??  ?? Lungelo (heel bo) en Wandile. Getty is op die oorlogspad om te kry wat sy wil hê.
Lungelo (heel bo) en Wandile. Getty is op die oorlogspad om te kry wat sy wil hê.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa