Bloedsusters
Die twee susters en misdaadtoneelskoonmakers se hande staan vir niks verkeerd nie.
Bloedsusters Seisoen 1 Vrydae VIA (*147) 21:00 (vanaf 7 April)
Wie onthou nog die karakter “The Wolf” in die fliek Pulp Fiction (1994), vertolk deur Harvey Keitel, wat ingeroep word om ’n bloederige toneel op te ruim nadat Vincent (John Travolta) en Jules (Samuel L. Jackson) per ongeluk iemand in ’n kar doodgeskiet het?
Wel, hier in Suid-Afrika het ons ons eie gedugte span misdaadtoneelskoonmakers – die susters Eileen de Jager (40) en Roelien Schutte (38) het reeds in twee boeke, Bloedsusters (2011) en Vlees En Bloed (2016), van hul ongewone werk vertel.
In die nuwe realiteitsreeks Bloedsusters (2017-nou), wat in April op VIA begin, volg die kameras die twee susters in hul relatief makabere dagtaak, en kan mense presies sien wat hul morsige werk behels. “Ons gee kykers die geleentheid om in ons skoene te staan,” sê Roelien.
WAAR ALLES BEGIN HET
“Dis ’n werk wat niemand wil doen nie, maar tog moet iemand dit doen,” vertel Roelien. “Daar bestaan die persepsie dat die polisie misdaadtonele skoonmaak ná hulle dit vir bewyse en leidrade gefynkam het, maar in werklikheid gebeur dit nie. Dis wanneer ons ingeroep word.”
’n Familielid in Engeland het Roelien en Eileen vroeg in die jare 2000 aan die ongewone loopbaankeuse blootgestel. “En toe ons ná ’n paar jaar uit Engeland terugkeer Suid-Afrika toe, het ons die gaping in die mark vir so ’n skoonmaakdiens raakgesien en besluit om ons eie besigheid te begin,” sê Eileen.
Dis hoe Crime Scene Clean-up 15 jaar gelede tot stand gekom het. Roelien is gebaseer in die Wes-Kaap en Eileen in KwaZulu-Natal, en daar is nog 12 agentskappe. “Ons werk letterlik regoor die land om misdaadtonele op te ruim,” vertel Roelien.
NIE VIR SENSITIEWES NIE
Die grafiese beeldmateriaal in die reeks kan ontstellend wees, dus word sensitiewe kykers gewaarsku. “Daar is grusame tonele waarvoor mense hul oë sal wil toedruk,” sê Roelien. “Maar dis nie al wat ons wys nie. Daar is ook tonele waar ons die slagoffer se familie en vriende bystaan, en selfs snaakse tonele wanneer ons uit die maag lag. Ons probeer ’n geheelbeeld van ons werk gee, en miskien sal mense se persepsies daaroor selfs verander.”
In die eerste episode (7 April) word die susters uitgeroep na ’n vermeende selfdoodtoneel van ’n jong man. Maar sodra hulle begin skoonmaak, vind hulle ’n tweede koeël onder die wasmasjien, wat daarop dui dis ’n moordsaak.
“Daar is baie gevalle wanneer ons op bewyse afkom wat die polisie nie raakgesien het nie, en dan is dit ons plig om dit te oorhandig,” sê Eileen.
In episode 2 (14 April) verloor twee matrikulante hul lewe ná ’n aand van drank en dwelms. En episode 3 (21 April) se toneel behels ’n tuinier wat van die trap afval en sterf, maar omdat sy werkgewers met vakansie is, word sy lyk eers ná ’n paar dae gevind.
STEUNPILARE
Depressie en nagmerries is iets wat Roelien en Eileen al beleef het weens hul werk. “Ons praat in die reeks daaroor en vertel van hulpmiddels wat ons gebruik,” sê Roelien.
Die susters vind ook ondersteuning en begrip by mekaar. “Al werk ons in verskillende provinsies, praat ons elke dag met mekaar,” sê Eileen.
Roelien voeg by: “Ons is baie na aan mekaar. Jy kan ons beskryf as een mens met twee lywe.”
VREEMDE VONDSTE
In die loop van hul werk het hulle en hul spanne al op snaakse goed op misdaadtonele afgekom. Soos ’n reuseversameling toiletpapier, seksspeelgoed, kunsledemate, moordwapens en versteekte selfdoodnotas.
Met die twee onverskrokke susters en die onverwagte wat altyd wag, kan TV-kyk op Vrydagaande beslis nie as vervelig beskryf word nie . . .