TV Plus (Afrikaans)

Knorrige professor

Frank Opperman gaan die volk weer laat skaterlag.

-

Nes met sy vorige rolle glip Frank Opperman gemaklik onder die vel van die eksentriek­e brompotpro­fessor Knipoog Knoetze in die aweregse kykNET-komedieree­ks Phil 101 (2017-nou). “Een rol is nie vir my groter of belangrike­r as ’n ander nie. Elke nuwe rol wat ek aanpak bly ’n uitdaging,” sê Frank. Komedie is sy kos, maar hy probeer nie noodwendig ’n komiese karakter snaaks speel nie. “Ek het Knipoog juis baie ernstig probeer speel,” verklap die 56-jarige akteur.

KNIPOOG 101

Hy draai nie doekies om oor sy karakter nie. “Hy is ’n regte vark,” lag Frank. “Knipoog is een van daai professore wat dink hy’s vrek slim – en oulik. Hy is boonop ’n eenkantmen­s en baie plofbaar. Hy is so ’n tipiese professor, maar eintlik wou hy ’n beesboer wees.”

Vir die rol het Frank ’n grys baard en lang hare, maar hy het dit nie spesiaal laat groei nie. “Dit was reeds lank vir my rol as die kolonel in Ryk Hattingh se verhoogdra­ma Sing Jy Van Bomme, wat ons in Maart by die Woordfees op Stellenbos­ch opgevoer het.”

ALTYD OUBOET

Frank het ’n rits verhoogstu­kke en flieks agter sy naam en ons het hom al in uiteenlope­nde TV-rolle gesien, soos die Ciprioties­e emigrant Chris Karedes (The Big Time, 1991 en 1993), die bose superinten­dent Yster Swart (Die Vierde Kabinet, 1998), en die begrafniso­ndernemer Tony in die kykNET-reekse Vlug Na Egipte en Terug Na Egipte (2014, tans weer Sondagaand­e om 20:00 op kykNET & kie). Maar vir die meeste mense sal hy altyd die bekendste wees as Ouboet in die immergewil­de sitkom Orkney Snork Nie (1982-1992).

Frank is nie die enigste gryskop in Phil 101 nie – Pierre van Pletzen speel die dosent Manie Kraaywinke­l en dis die eerste keer dat Frank weer saamwerk met Pierre, wat Spike in Orkney was en deesdae nog gereeld te sien is as die gevleuelde-woordespre­ker Oubaas in 7de Laan (20002017).

GESIN EN KITAARKLAN­KE

Hoewel die werk van ’n vryskutakt­eur onvoorspel­baar en onstabiel kan wees, sal Frank nooit sy kinders – Frankie (28) en Ena (10) – afraai om in sy voet-spore te volg nie. “Frankie is wel ’n vervaardig­er en nie ’n akteur nie. Maar as dit in jou bloed is, is dit in jou bloed . . .”

Sy gesin speel ’n groot rol in Frank se lewe. Frankie, sy seun by die aktrise Susan Coetzer (Ralie in Meester, 1992), is onlangs met die aktrise en kabaretkun­stenaar Debré Rossouw getroud en die paartjie woon reg langs Frank en sy lewensmaat, Esmarie, in Melville, Johannesbu­rg. Frank is ’n betrokke pa en besorg Ena daagliks by haar laerskool in Aucklandpa­rk sodat Esmarie betyds op haar pos kan wees in haar klerewinke­l in Melville.

Tussendeur ruim hy tyd in vir ’n ander passie: musiek. “Ek het ’n musiekatel­jee onder in my huis ingerig en tokkel gereeld op die kitaar,” vertel Frank. Hy het twee albums op sy kerfstok, Serial Boyfriend (1999) en Let’s Be Frank (2009).

En ja, natuurlik herken mense hom nog ná al die jare as Ouboet. “Wat praat jy? Orkney word mos weer en weer uitgesaai, dus noem selfs die jong laaities my deesdae Ouboet.”

Sonder huiwering sê hy sommer Ouboet se rympie vir Yolanda (Sally Campher) op: “Poeksie Woeksie se Woepsie Wapsie Worsie is nog baie lief vir hom!” en voeg laggend by: “Jy sal nie glo hoeveel geld ek al met daai rympie verdien het nie, want mense betaal my om dit op te sê.”

Is dit ’n grappie? Dalk sal professor Knipoog die waarheid weet. • Lees meer op bl. 4 oor een van Frank se nuwe TV-projekte.

 ??  ?? Frank Opperman is ’n omgesukkel­de proffie in Phil 101.
Frank Opperman is ’n omgesukkel­de proffie in Phil 101.
 ??  ?? Op Frankie se troudag in 2016 is (van links) Esmarie, Ena, die bruid, Debré, Frankie en Frank.
Op Frankie se troudag in 2016 is (van links) Esmarie, Ena, die bruid, Debré, Frankie en Frank.
 ??  ?? Frank soos hy as Ouboet in Orkney Snork Nie gelyk het.
Frank soos hy as Ouboet in Orkney Snork Nie gelyk het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa