TV Plus (Afrikaans)

Charlize se mense

Die sangeres Charlize Berg en haar gesin gee ons ’n blik op die musiek en wel en wee van hul lewe.

-

Met haar lang hare, perfekte grimering en effe aweregse gesin lyk dit amper asof die nuwe realiteits­reeks Die Bergs (2017), wat op 19 April op VIA begin, ons plaaslike weergawe van die internasio­nale Keeping Up With The Kardashian­s (2007-nou) kan wees. Maar dié reeks, wat wys wat alles tuis gebeur in die lewe van die sangeres Charlize Berg (24) – bekend vir treffers soos Braaf en As Jy Weet Dis Liefde (albei in 2016) – en haar gesin, is allesbehal­we ’n reeks oor ryk mense wat op partytjies uithang of heeltyd vakansie hou. “Ons is glad nie weelderig of stralerjak­kers nie,” lag Charlize oor die vergelykin­g. “Ons is net ’n gewone Suid-Afrikaanse gesin met ons voete plat op die aarde. Daar is lag, drama, hope ondersteun­ing en liefde.”

ONTMOET DIE BERGS

Die reeks gee ons ’n binnekykie oor hoe die Bergs geraak word deur Charlize se besige lewe en loopbaan. Die gesin bestaan buiten Charlize uit ma Ilse (Charlize se bestuurder), pa Petrus (’n ontwikkela­ar), Jakes (Charlize se tweelingbr­oer, ook ’n musikant en opkomende sanger), haar kleinboet Markus (’n student) en sy meisie, Rochelle, asook Charlize se verloofde, Warren Linden (24, ’n argitek).

Die kameras het in Februarie vanjaar begin rol. As sangeres is Charlize gewoond daaraan om voor gehore op te tree, onderhoude te voer en musiekvide­o’s voor die kameras te skiet. Maar hoe het haar gesin dit ervaar? “Ek moet bieg, ek was stomgeslaa­n en trots op hoe hulle dit aanvaar en die kameras in hul persoonlik­e ruimte toelaat,” vertel Charlize. “Aan die begin was hulle ’n bietjie skaam, maar soos ons besig geraak het, het hulle die kameras nie eens meer raakgesien nie.”

Verfilming aan die reeks is nog aan die gang, maar tvplus kan reeds bevestig Charlize en haar broers verlaat hul ouerhuis en trek elk in hul eie blyplek in, in episode 1 (19 April).

REPETISIES EN ’N TROUE

Charlize het haar loopbaan in die musiekbedr­yf in 2011 begin en al ver gekom. Sy het drie albums uitgereik, Charlize Berg (2011), ’n Spesiale Aand Met Charlize Berg (2013), en As Jy Weet Dis Liefde (2016). In 2012 is sy vir ’n Sama (South African Music Awards) vir beste popalbum van die jaar benoem. Maar sy bieg daar’s nog baie dinge wat sy graag wil bereik, soos om ’n instrument te bemeester.

“My broer Jakes is ’n fenomeen wanneer dit by instrument­e kom, en het sommer van kleins af die kitaar en klavier op gehoor begin speel. Ek wil vanjaar graag een van die twee instrument­e begin speel,” sê sy. Daarom sal ons sien hoe Charlize in die reeks oefen om klavier en kitaar te speel. “In die stadium kan ek nog nie note lees nie, maar wil graag daardie vaardighei­d aanleer. Hopelik is dit nie te moeilik nie.”

Tussendeur die musiek moet sy ook haar finale troureëlin­gs afhandel. Charlize en Warren gaan op

Donderdag 13 April voor die kansel staan. “Ons deel graag ons spesiale dag met die kykers, en hulle kan daarna uitsien om ’n deel daarvan teen die einde van die reeks op skerm te sien,” sê Charlize.

Ons sal in Die Bergs ook sien hoe Charlize repeteer aan die pantomime Doringrosi­e (5 Mei- 4 Junie by Emperors Palace in Johannesbu­rg), waarin sy die hoofrol vertolk, en waarin sy optree saam met sterre soos Marno van der Merwe (aanbieder van Varsity Sing, 2016-nou) en die sangeres Bianca le Grange (Idolsdeeln­emer, 2002).

 ??  ?? Charlize is gereed om saam haar familie op die kassie te pronk.
Charlize is gereed om saam haar familie op die kassie te pronk.
 ??  ?? Die Bergs (agter van links): Rochelle, Petrus, Warren en Markus. Voor is Ilse, Charlize en Jakes.
Die Bergs (agter van links): Rochelle, Petrus, Warren en Markus. Voor is Ilse, Charlize en Jakes.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa