TV Plus (Afrikaans)

Nuwe horisonne

Dorette Potgieter oortref haarself as die gefolterde Annalien.

-

Swartwater Seisoen 2 Dinsdae SABC2 (*192) 19:00

Toe Dorette Potgieter (44) hoor sy het die kans om die rol van Annalien in die tweede seisoen van Swartwater (seisoen 1, 2014) te vertolk, wou sy dit nie deur haar vingers laat glip nie. Nie net moes sy die rol by Annie Malan oorneem nie, maar dit was ook ’n gulde geleenthei­d om haar staal as aktrise te toon met ’n emosioneel-belaaide rol – Annalien, die bullebak Philip Steyn (Dirk Stoltz) se trofeevrou wat in ’n inrigting beland.

“Met Annalien kon ek wys daar’s ’n ander kant aan my,” sê Dorette, wat met haar wilgerlatl­yf meestal die rol van ’n verleidste­r of mannejagte­r vertolk, soos die sexy diepdekkin­gsagent Sandra Cilliers in Vloeksteen 1 en 2 (kykNET, 2012 en 2013). En Dorette se sensitiewe en oortuigend­e vertolking van die gefolterde Annalien laat kykers nou regop sit.

MA’S WAT SAAMSTAAN

Toe sy gevra is om die rol oor te neem, was Dorette eers huiwerig. Dit het beteken sy sou aan en af weg wees van haar huis in Vredehoek, Kaapstad, en haar dogtertjie, Lia Luna Li (7), terwyl die 26 episodes oor ’n tydperk van vyf maande in Arniston in die Wes-Kaap en ook in Johannesbu­rg verfilm is. “Ek is ’n enkelma, en dit sou beteken iemand anders moet Lia versorg.” Die blondekopp­ie is gebore uit die vyf jaar lange verhouding tussen Dorette en die sanger Riku Lätti.

Ná deeglike oorweging het Dorette besluit om dit te laat werk. “Gelukkig is ons ’n groep enkelma’s in my omgewing wat mekaar ondersteun, en my vriendinne Nicolette Reyneke en Lauren Basson het in my afwesighei­d na Lia omgesien. Sy het ook in die vakansiety­d by haar pa, wat in die Strand woon, gaan kuier.”

Dit was vir Dorette moeilik om die oulike Lia, wat nes haar ma gereeld model- en advertensi­ewerk doen, agter te laat. “Lia het in die aande na bande van my stem geluister om aan die slaap te raak.”

LEWENSERVA­RING

Die rol van Annalien kom op die regte tyd in haar lewe. “Ek twyfel of ek Annalien op ’n jonger ouderdom sou kon speel. Ná 40 bereik ’n mens ’n rypheid en het jy lewenserva­ring waaruit jy kan put om ’n emosionele rol met soveel substansie te speel,” sê sy.

Annalien het ná jare se misbruik en mishandeli­ng deur haar manipulere­nde man ’n baie swak selfbeeld. Dorette het ook al ’n paar sakke sout opgeëet. “Ek is nooit in my lewe geslaan nie, maar is wel op ander maniere misbruik en kon uit daardie seerkry delf,” sê Dorette.

Annalien is ’n karakter met vele lae. “Wanneer Annalien in die inrigting beland ná sy vir poging tot moord op Philip aangekla is, besef sy sy het haar hele lewe in ’n valse waarheid geplaas. En ironies, tussen al die mense met geestesiek­tes kyk sy vir die eerste keer objektief na haar situasie,” vertel Dorette.

Nadat Annalien in die inrigting verkrag is en ontdek sy is swanger, raak sy vreesbevan­ge, want sy besef sy is nie opgewasse om ’n ma te wees nie. Maar alles is darem nie hopeloos nie. “Daar is wel hoop vir Annalien,” sê Dorette. “Haar versoening kom op die ou end in ’n nuwe wêreld wat sy vir haarself skep.”

HOOP VIR TIENERS

Ma-wees en toneelspee­l is nie al waarmee die veelsydige Dorette besig is nie. Buiten advertensi­ewerk bied sy ook slypskole in film- en TV-produksie asook kreatiewe teksskryfk­ursusse aan, hoofsaakli­k vir jong mense. “Ek het ’n passie vir jong mense en wil ’n verskil in veral tieners se lewe maak.”

Dit het begin toe Dorette in 2015 by die Korrektiew­e Dienste se opheffings­werk betrokke geraak het, en ’n program, Restorativ­e Justice, onder leiding van die predikant Jonathan Clayton vir Hope Ministries waargeneem het. Sy werk tans aan ’n nuwe projek in digitale filmproduk­sie, met die samewerkin­g van FILM (Film Industry Learner Mentorship), vir die Korrektiew­e Dienste in die Wes-Kaap. “Ek wil jong mense ’n stem vir die toekoms gee. Ek wil hulle leer om hul stories te skryf en om ’n nuwe selfbeeld en liefde vir jou Skepper te vind,” vertel Dorette.

Nes met die karakter Annalien se gebroke lewe, glo Dorette die negatiewe kan in iets positiefs verander.

 ??  ?? Dorette Potgieter (Annalien) en Dawid Minnaar (Ben) in Swartwater. Dorette en haar dogtertjie, Lia Luna Li.
Dorette Potgieter (Annalien) en Dawid Minnaar (Ben) in Swartwater. Dorette en haar dogtertjie, Lia Luna Li.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa