TV Plus (Afrikaans)

Babadrama x 2

Die nuwe baba dryf die broers Mazwi en Smanga uitmekaar.

-

Generation­s – The Legacy Weekdae SABC1 (*191) 20:00

Om ’n Moroka te wees is met die beste van tye moeilik weens al die binnegeveg­te en wedywering. Maar dit raak byna onhoudbaar wanneer Smanga (Moopi Mothibeli) gedwing word om tweede viool te speel by sy broer Mazwi (Musa Ngema). Smanga moet op sy tande kners om nie te onthul hy is baba Rorisang (Lethokuhle Jiyane) se biologiese pa nie. “Dis bitter ongemaklik,” sê Moopi. “Almal voel vasgekeer. Maar hulle byt vas ter wille van die baba, wat nou ernstig siek is.” Mazwi se vrou, Sphe (Pearl Monama), is moeg daarvoor om vals te wees en sy wil onthul wie haar dogtertjie se pa is – dat sy by haar swaer geslaap het – maar op Woensdag 7 Junie swyg sy ook, want sy besef die waarheid sal haar huwelik vernietig.

VASGEKEERD­E LEEUS

Smanga en Mazwi stap soos vasgekeerd­e leeus in ’n hok rond op Donderdag 8 Junie, angstig vir nuus oor die baba se asemhaling­sprobleme. “Hulle stry die keer nie met mekaar nie, maar met iets anders – vaderskap,” sê Moopi. Smanga is spyt hy’t by Sphe geslaap om te verseker daar is ’n Moroka-erfgenaam, en Mazwi is verward. Hy het in Januarie 2017 gehoor hy kan nie kinders hê nie, dus weet hy hy’s nie Rorisang se pa nie. Maar hy weet nie wie dit kan wees nie!

Smanga hou ’n veilige afstand van sy dogter om nie agterdog te wek nie, maar hy kan kwalik sy jaloesie wegsteek wanneer die Moroka-oudstes Mazwi op Vrydag 9 Junie vir sy vaderskap prys. “Smanga maak ’n snedige aanmerking. Hy is bitter omdat hy weer eenkant toe geskuif word,” sê Moopi, en voeg by Smanga hou ’n brawe front voor en oortuig homself hy’t nie die familie se ondersteun­ing nodig nie.

BESORG MAAR UITGESLUIT

Smanga kan die situasie nie langer verduur nie, en op Donderdag 15 Junie probeer hy by die hospitaal insluip om sy dogter te sien. “Maar Mazwi is daar en Smanga verskoon homself,” sê Moopi. Dis net genoeg om Mazwi te laat wonder oor sy broer se besorgdhei­d oor Rori . . . Wanneer die hospitaal op Vrydag 16 Junie bel omdat Rori ’n terugslag beleef het, kan Smanga hom nie keer nie en gaan na sy kind toe. “Sphe sien Smanga kom te naby en waarsku hom om weg te bly. Maar Smanga is kwaad omdat Sphe hom van Rori se lewe uitsluit. Hy is vasbeslote om sy dogter te sien – en niks en niemand gaan hom keer nie,” sê Moopi.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa