Verlore familie gevind
Dramatiese verhale volg wanneer biologiese ma’s en aangenome kinders versoen word.
Waar begin ’n aangenome kind sy of haar biologiese familie soek as hulle reeds jare geskei is? Die navorser Leonie Erasmus herenig reeds 20 jaar aangenome kinders en hul biologiese gesinslede en as aanbieder deel sy nou vir die heel eerste keer van die gelukkige en soms hartverskeurende verhale
REGTE KANALE EN PROSEDURE
Dit is ’n ingewikkelde en soms tydsame proses om biologiese ouers en aangenome kinders, wat al jare lank deur aanneming geskei is, te versoen, vertel Leonie. “Ek volg baie streng reëls en prosedures wat deur die wet bepaal word. Jy kan nie ’n biologiese ma opspoor en haar kontaknommer vir die aangenome kind gee wat haar soek nie,” sê sy. “Die ma se eggenoot en kinders weet tien teen een nie sy het in haar jong dae ’n baba vir aanneming opgegee nie. Indien die proses verkeerd en onsensitief benader word, kan die biologiese ma dalk weier om die kind weer te sien omdat haar privaatheid nie gerespekteer is nie.” Sy gebruik nooit Facebook om betrokkenes op te spoor nie. “Ek gebruik slegs inligting wat ek deur middel van die aannemingsdokumente kry.”
SOEKENDES
Leonie vertel die ma’s en kinders wat hul biologiese nasate soek, kontak haar gewoonlik op haar webtuiste (www. adoptedchild.co.za). “Mense kom ook deur mondelingse verwysing by my uit.” Om deelnemers te vind vir die reeks het Leonie van die familielede wat sy reeds suksesvol herenig het, genader om te hoor of hulle bereid is om deel te neem.
EMOSIONELE ONTMOETING
Die formaat is soortgelyk aan die van die Britse TV-reeks Long Lost Family (2011-nou), maar Leonie sê anders as die aanbieders Davina McCall en Nicky Campbell is sy nie teenwoordig wanneer die eerste ontmoeting plaasvind nie. “Ek berei die betrokke partye emosioneel voor op die ontmoeting.”
Wanneer die soektog eindig, moet sy self trane afvee. “Dis onvermydelik om nie emosioneel betrokke te raak nie. Maar dis gelukkig trane van pure blydskap wat ek ervaar wanneer ek biologiese families herenig.”