TV Plus (Afrikaans)

Een groot gemors

Willem is vas oortuig hy en Amorey is bedoel vir mekaar en hy vra haar die jawoord.

-

7de Laan

Weekdae SABC2 (*192) 18:00

Dinge ruk nou handuit! Willem (Markus Haywood) se optrede nadat hy en almal behalwe Petro (Carla van der Merwe) die vliegramp in Julie oorleef het, is duidelik dié van iemand wat voluit wil lewe. Dit kan goed wees om alles te waardeer, maar ons het begin wonder of hy dalk ook sy kop verloor het toe hy sy niggie Amorey (Kristen Raath) op Donderdag 27 Julie die jawoord vra.

VERLIEF OF KENS?

Willem het daar suutjies in O’Malleys-kroeg, waar niemand hulle kon sien nie, die woorde gevorm. Die oorblufte Amorey het dadelik die ring uit sy hand gegryp, dit in haar baadjiesak geprop en spore gemaak. “Die groot probleem wat sy nou het, is hoe sy van hom ontslae gaan raak,” sê Kristen. “Daar is geen twyfel dat sy ook verlief is op Willem nie, maar sy is vreesbevan­ge alles gaan uitkom en dit gaan haar familie uitmekaars­keur.” ’n Vasbeslote Willem hou aan om haar te druk vir ’n antwoord, totdat Amorey op Woensdag 2 Augustus ’n blink plan kry. “Sy beplan om te maak of sy op Diederik (Hennie Jacobs) verlief is,” sê Kristen. Diederik, wat van haar penarie weet omdat hy hul skelm soen tydens die vliegramps­age (op Donderdag 13 Julie) gesien het, is ’n groot steunpilaa­r vir Amorey. Hy weet ook Willem het haar gevra om te trou en is self heimlik verlief op haar.

DIE GROEN MONSTER

Amorey sê op Woensdag 2 Augustus vir Willem sy kan hom nie meer sien nie, want haar hart is reeds verower. “Dit breek haar om vir hom te sê sy is op Diederik verlief, maar dis die enigste manier hoe sy kan keer dat haar familie se lewe verwoes word met so ’n skandaal.”

Amorey vertel die volgende dag vir Diederik sy kon dinge met Willem beëindig, maar sê nie vir hom sy het Diederik as rede voorgehou nie. Om dankie te sê vir sy ondersteun­ing nooi sy hom vir drankies by Stasie Ses. Maar dinge loop skeef wanneer Willem ná ’n paar doppe opdaag en met Diedie begin stry. “Willem is buite homself van jaloesie en laat Diederik mooi verstaan Amorey gebruik hom net en voel niks vir hom nie,” sê Markus.

SNUF IN DIE NEUS

Daar is nog ’n Laner wat weet van die familie-verhouding. Alexa (Carina Nel), Amorey se ouer suster, vermoed die afgelope tyd die geheimsinn­ige meisie wat Willem so op hol het, is Amorey. Sy probeer op Vrydag 4 Augustus antwoorde uit Amorey kry oor die saak, maar sy ontken alles en kies die hasepad. “Dis net een groot gemors, want Alexa kan alles aan hul ouers verklap,” sê Kristen.

Op Maandag 7 Augustus probeer Alexa met Willem praat, maar hy jak haar af. Dis eers op Woensdag 9 Augustus dat Willem sommer nonchalant aan Alexa erken hy is verlief op Amorey en basta met die res van die wêreld. “Hy is gatvol om dit weg te steek en voel ’n veer oor wat mense gaan sê,” verduideli­k Markus. Maar ongelukkig gaan die tonge klap, Willem . . . En dis beslis nie net die familie wat geskok gaan wees nie.

ZELDA KOM TERUG

Laanliefhe­bbers kan uitsien na die platvloers­e en slinkse Zelda (Amor Vittone), Mariaan Welman (Deirdre Wolhuter) se suster, wat in September weer in die Laan op haar hoë hakke haar neus in sake gaan kom steek. Amor het op sosiale media verklap sy leer klaar weer woorde. Rosa-Mari le Roux, publisitei­tsbeampte vir die sepie, het bevestig sy is terug op stel. “Zelda gaan weer lekker amok in die Welmanhuis maak.”

 ??  ?? Diederik (bo) het ’n sagte plek vir Amorey. En Alexa (inlas) vermoed onraad. Amorey is doodbang die waarheid oor haar en Willem kom uit.
Diederik (bo) het ’n sagte plek vir Amorey. En Alexa (inlas) vermoed onraad. Amorey is doodbang die waarheid oor haar en Willem kom uit.
 ??  ?? Willem wil aan die wêreld sy liefde vir Amorey verkondig.
Willem wil aan die wêreld sy liefde vir Amorey verkondig.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa