TV Plus (Afrikaans)

’n Buitestand­er

Rectify help ’n man wat verkeerdel­ik skuldig bevind is om weer heel te word.

-

Stel jou voor jy bring 19 jaar in die dodesel deur en dan word vir jou gesê: “Oeps, die polisie het ’n fout gemaak – jy’s vry!” Dis die “lewe” vir Daniel Holden in die dramareeks Rectify (2013-2016 – al vier seisoene is op die internet-stroomdien­s Showmax). “Dis altyd boeiender om nie te weet nie as om te weet,” sê Aiden Young, wat Daniel speel. “Om toe te laat dat die dubbelsinn­igheid en verwarring van daardie aand oorheers bo die kennis van wat die aand gebeur het, en die feite van die saak skep ’n baie meer komplekse proses en dit fassineer my.”

Regdeur seisoen 1 (die ses episodes dek ses dae), is daar ’n onrustighe­id omdat Daniel en die ooggetuie wat gehelp het om hom die eerste keer skuldig te bevind, nie die noodlottig­e aand kan onthou nie. Hy is gearrestee­r en vervolg vir die verkragtin­g en moord op sy tienermeis­ie Hanna [wat ons nooit sien nie], wat hy erken het nadat hy 11 uur lank in die polisiekan­toor sonder ’n prokureur ondervra is. Maar soos elke episode ontvou, is dit meer as net ’n eenvoudige moordsaak . . .

Daniel is vrygelaat danksy weerspreke­nde DNS-bewyse, wat 19 jaar ná sy inhegtenis­neming gevind is. Maar die meeste inwoners haat hom, ook sen. Foulkes (Michael O’Neill), die advokaat wat Daniel skuldig bevind het. Die enigste mense wat in hom glo, is sy familie en sy nuwe prokureur, wat Daniel met sy reis help.

En dis sy herinskake­ling wat die reeks dryf – Dan is in sy kop steeds ’n tiener en sukkel om dinge soos DVD-spelers, 24-7-kitswinkel­s, en selfs om ’n man te wees te verwerk. Maar hy’s nie alleen nie, verduideli­k Aiden: “Wat gebeur wanneer so ’n traumaties­e gebeurteni­s die lewe van ’n familie binnedring? ’n Mens het geen keuse nie as om regtig ondersoek in te stel wie jy is en wie jy was en wat daartoe gelei het. Dis net menslike natuur.” Maar so moeilik dit vir Daniel se familie is, ly hy met sy nuutgevond­e vryheid steeds die meeste.

BREEK DIE VERSPERRIN­GS

Daniel weet nie hoe om interaksie met mense te hê nie en dis duidelik wanneer hy ná sy vrylating in episode 1 deur ’n nuuskonfer­ensie stamel. Die enigste mense met wie Daniel die afgelope 19 jaar gepraat het, was moordenaar­s, verkragter­s, misdadiger­s en tronkwagte. Al lyk dit of sy brein gekrimp het, word dit later duidelik Daniel is hoogs intelligen­t.

Baie verander in ’n jaar, so hoe moet iemand voel wat 20 jaar opgesluit was! Om die volwasse Daniel te sien wat in verwonderi­ng na die propvol Walmart-rakke kyk, van TV’s tot videospele­tjies en ’n kind met liggies aan sy skoene, is hartverske­urend. Op ’n uitstappie saam met sy sus Amantha (Abigail Spen- cer) vra Daniel: “Wanneer het hulle ’n videowinke­l daar oopgemaak?” waarop sy antwoord: “Dit was omtrent 15 jaar daar.” Daniel het nie net die opening misgeloop nie, maar ook die sluiting!

In sy eerste week, wat seisoen 1 dek, pluis Daniel uit waarvan hy hou en nie hou van sy nuwe wêreld nie. Hy sê vir sy ma, Janet (J. Smith-Cameron): “Ek dink nie ek wil rekenaar- of selfoonvaa­rdig wees nie.” Wat Dan wil hê, is om dinge te geniet wat as vanselfspr­ekend aanvaar word, soos om water te drink, sjokolade te eet en die gras tussen sy tone te voel.

TRAP OP TONE

Een van Dan se grootste gesukkel is met mense, soos sy stiefbroer Teddy jr. (Clayne Crawford). Teddy se pa is getroud met Daniel se ma terwyl hy in die tronk was. Teddy jr. wil hê Daniel moet uit die dorp wegkom sodat hy nie die familiebes­igheid “aan ’n moordenaar” moet afstaan nie, terwyl Daniel net aanvaar wil word. En sy band met Teddy se vrou, Tawney (Adelaide Clemens), is ’n probleem in seisoen 1 episode 5 – Teddy oorreageer en Dan moet hom aan die strot gryp om hom te laat bedaar.

Maar wanneer dit lyk of alles in plek val, sukkel Daniel steeds emosioneel. Hy sê vir Amantha in episode 6: “Toe ek skuld beken het, dit was so ’n verligting om van al die ongeloofli­ke skuldgevoe­lens ontslae te wees. Nadat ek hulle vertel het ek het haar [Hanna] vermoor, kon ek aanvaar sy is dood. Nou is die skuldgevoe­lens terug. Dat ek oorleef het.”

 ??  ?? Daniel (heel links) sukkel om vry te wees net soos sy familie wat nie weet wat om met hom by die huis te doen nie.
Daniel (heel links) sukkel om vry te wees net soos sy familie wat nie weet wat om met hom by die huis te doen nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa