TV Plus (Afrikaans)

Die twyfel skop in

Mariaan se plan om Lesedi te vernietig maak Justin skielik kriewelrig.

- 7de Laan

Weekdae SABC2 (*192) 18:00

Die prokureur Lesedi (KB Motsilanya­ne) gaan deur ’n moeilike tyd. Die sterk, vurige vrou is sedert Augustus nie haarself nie: Sy het ernstige probleme met haar sig en haar oë pyn kwaai. “Lesedi het steeds geen benul dat Mariaan [Deirdre Wolhuter] en Justin [Dann-Jaques Mouton] haar sig gesaboteer het deur met haar kontaklens­vloeistof te peuter nie,” sê KB. Die skrander prokureur gaan nie gou die waarheid uitvind nie, maar ’n wending wat ons nie sien kom het nie, is dat Justin op Dinsdag 26 September gevoelens vir Lesedi begin ontwikkel.

OP DIE OORLOGSPAD

Daar is tans geen keer aan Mariaan nie. “Sy’s vasbeslote Lesedi moet boet omdat sy Mariaan se man, Chris [David Rees], valslik laat glo het hy’t ’n moord gepleeg [in Junie]. Mariaan gaan nie rus voordat Lesedi heeltemal vernietig is nie,” verklap Deirdre. En Mariaan beklemtoon dit vir haar handlanger, Justin, wanneer sy hom op Woensdag 13 September instruksie­s gee. “Mariaan wil hê Lesedi se sig moet verder verswak en dit moet haar loopbaan kelder,” voeg Deirdre by.

SKULDGEVOE­LENS KNAAG

Justin help bloot vir Mariaan omdat hy desperaat is. Mariaan het belowe sy sal betaal vir ’n prokureur vir Justin se verloofde, Amanda (Carina Nel), wat in die tronk is op aanklag van poging tot moord. In ruil daarvoor moet Justin Mariaan eers met haar wraakplan help. “Justin is in ’n hoek,” sê Dann-Jaques. “Soos Mariaan se wraakplan vorder en Lesedi ál meer met haar sig sukkel, begin die skuldgevoe­lens aan Justin knaag. Hy wonder of dit alles die moeite werd is,” voeg Dann-Jaques by.

Dan is daar ’n interessan­te verwikkeli­ng wanneer Lesedi Justin op Dinsdag 19 September vra om haar assistent te word. “Sy’t haar vorige assistent in die pad gesteek [op 18 September] omdat dié haar verkeerde inligting gegee en sy toe ’n saak verloor het,” sê KB. “Lesedi weet Justin is werkloos, en omdat sy met haar sig sukkel vra sy hom om namens haar deur dokumentas­ie te werk vir toekomstig­e sake,” vertel KB.

 ??  ?? Lesedi is raadop, want haar oogproblem­e word nie beter nie. Mariaan (bo) en haar handlanger, Justin (heel bo).
Lesedi is raadop, want haar oogproblem­e word nie beter nie. Mariaan (bo) en haar handlanger, Justin (heel bo).

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa