TV Plus (Afrikaans)

Vaardige pa

Hy kan nie net sing nie – Jay du Plessis kan ook kaskarre bou.

-

Jay En Die Boys Seisoen 1 Dinsdae VIA (*147) 21:00 (begin 19 September)

Met treffers soos Melanie (2010) en Dis Hoe Ons Rol (2013) is Jay du Plessis een van ons talentvols­te sangers. Maar ons was verbaas om te hoor hy’s ook ’n voorslag wanneer dit by selfdoen-take kom. In die nuwe leefstylre­eks Jay En Die Boys word sy vernuf met hamer en spykers gewys, en hy doen dit alles saam met sy seuns Aidan (11), Samuel (8) en Luka (3). Kykers gaan sien hoe Jay se vrou, Mia, die span verskeie opdragte gee om binne ’n sekere tyd te voltooi. Mia is baie kunssinnig en sit partykeer hand by. Jay rol sy moue op, en tussen al die gekap en getimmer word pa en seuns se verhouding nog hegter.

HOUTWERK OP SKOOL

Die sanger se hande staan vir niks verkeerd nie. “Ek was van jongs af baie handig met gereedskap. Ek het ook houtwerk op skool geneem, en hout is vandag my gunsteling om mee

te werk,” sê hy. Hy wil sy seuns (die jongste, Jamie, is 9 maande en kon dus nog nie saamtimmer nie) aanmoedig om hul tegniese vaardighed­e te ontwikkel.

“Omdat daar vandag so baie tegnologie is wat kinders binne die huis besig hou, is dit goed om handwerkpr­ojekte aan te pak – en hulle daarmee uit die huis te lok,” sê Jay.

Van die selfdoen-take kon hulle maklik baasraak. Hulle bou kaskarre (ep. 1) en maak ketties (episode nog nie vasgestel). Daar’s wel ’n paar projekte wat meer inspanning verg: hulle bou ’n boomhuis en maak die visdam reg (episodes nog nie vasgestel).

Gelukkig was daar tot dusver geen groot flaters of beserings nie. “Ek is baie streng op veiligheid ingestel,” voeg Jay by.

OP DIE MAAT VAN MUSIEK

Jay vier vanjaar 21 jaar in die musiekbedr­yf (hy was van 2001 tot 2016 lid van die boyband Eden), en van sy musiek word in die reeks gehoor.

“Die agtergrond­musiek is alles my liedjies. Van my jongste liedjies, wat volgens beplanning in Oktober op ’n nuwe album uitgereik word, gaan ook vir die eerste keer gehoor word,” vertel Jay.

 ??  ?? Jay du Plessis, sy vrou, Mia, en hul vier woelwaters (van links): Luka, Samuel, Aidan en Jamie.
Jay du Plessis, sy vrou, Mia, en hul vier woelwaters (van links): Luka, Samuel, Aidan en Jamie.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa