TV Plus (Afrikaans)

Sewende hemel

Amorey en Willem keer terug na die Laan as man en vrou.

-

7de Laan Weekdae SABC2 (*192) 18:00

Dinge het uiteindeli­k uitgewerk vir die paartjie Amorey Welman (Kristen Raath) en Willem Spies (Markus Haywood). Op Donderdag 26 Oktober is hulle terug in die Laan met blink trouringe aan hul vingers nadat hulle Kaap toe gevlug het toe Amorey haar amperman,

Diederik (Hennie Jacobs), voor die kansel gelos het. Die rede daarvoor is hulle het uitgevind Amorey is nie Chris Welman (David Rees) se biologiese dogter nie, wat beteken Amorey en Willem is nie neef en niggie nie, en hulle kon hulself oorgee aan hul liefde vir mekaar. “Amorey en Willem is in die sewende hemel,” sê Kristen. “Hulle voel vry om hul liefde vir mekaar te toon sonder dat hulle veroordeel word.”

BITTER OOR MA

Maar al is sy gelukkig, koester Amorey nog gevoelens van haat en afguns teenoor haar ma, Mariaan (Deirdre Wolhuter). “Sy het jare lank vir Amorey gelieg oor wie haar biologiese pa is. Chris, wat Amorey as haar pa geken het, was haar lewe en dis ’n bitter pil om te sluk om te weet Frank (Albert Maritz), die man met wie Mariaan aan en af ’n affair gehad het, is haar regte pa,” sê Kristen. Amorey gaan Mariaan nie gou vergewe nie en ignoreer haar ma se oproepe op Vrydag 27 Oktober.

’N NUWE BEGIN

Willem reël vir hom en Amorey op Maandag 30 Oktober blyplek in die Heights, sy woonstelbl­ok. “Amorey is opgewonde en sien die intrek in hul eie plekkie as ’n skoon begin,” sêKristen. Maar Willem sukkel om by die ouens in die Laan aan te pas. Hy en Rickus (André Lotter), Amorey se broer, het ’n stywe ontmoeting en sodra Willem verklap hy en Amorey is getroud, versleg die atmosfeer verder.

’N WERKLIKE PAARTJIE

Al is Amorey en Willem se huwelik ’n aanpassing vir sommige Hillsiders, is dit nie vir die akteurs nie. In die regte lewe gaan Kristen en Markus al nege maande uit en hul getroude karakters skrik hulle nie af nie. “Dis ’n voorreg om teenoor jou kêrel toneel te speel en ons weet hoe om ons karakters se lewe van ons persoonlik­e lewe te skei,” sê Kristen.

En gaan ons dalk regte trouklokke in die toekoms hoor? “Dit hang alles van Markus af, hy moet my vra,” sê Kristen laggend. “Maar ons staan voorlopig nog sterk en is dolverlief op mekaar.”

 ??  ?? Die gelukkig getroude Amorey en Willem.
Die gelukkig getroude Amorey en Willem.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa