Drama: Gunpowder
Mark Gatiss laat bars die bom oor die biografiese drama Gunpowder, Kit Harington en sy tweedehandse kostuum.
LET WEL! Sekere tonele is nie geskik vir jonger kykers nie. Daar is net drie episodes in die BBC-minireeks Gunpowder (2017), “maar hulle is baie plofbaar!”, lag Mark Gatiss (Mycroft Holmes in die aksiereeks Sherlock, 2010-nou). Hy speel die graaf van Salisbury, Robert Cecil, die man wat Guy Fawkes se buskruitverraad (die sogenaamde Gunpowder Plot) in 1605 onthul het om die Britse parlementsgebou op te blaas. Mark sê “mense dink hulle ken die Guy Fawkes-storie, maar nie eintlik nie. Die tydperk [die vroeë 1600’s] is nog nie deeglik ondersoek nie en tog speel dit ’n belangrike rol in Brittanje se geskiedenis.” Dis ’n bonus dat Mark se vriend Kit Harington (Jon Snow in die fantasiereeks Game Of Thrones, 2011nou) die uitvoerende vervaardiger en hoofspeler is. “Dis sy projek en ek’s bly ek kon deel wees daarvan. Dis vir Kit belangrik, want hy speel sy voorvader Robert Catesby, wat ’n sentrale figuur in die komplot was,” sê Mark.
Het julle pret gehad om goed op te blaas? Vir ’n onderwerp soos buskruit en plofstof word daar verrassend min goed opgeblaas. [Lag.] Daai deel is altyd “pret”, maar ons vertel die storie van die mislukte sameswering, die Katolieke opstand, die teregstellings. Daar’s wel ’n paar baie goeie swaardgevegte. Daar was klagtes oor die grafiese tonele in
episode 1 . . . Die tonele is nie ongegrond nie. Dis deel van die storie en dis wat in daardie tyd gebeur het. As jy die doodstraf gekry het, is jy gehang, gesleep, in vier stukke gekap. Die marteltonele was eintlik moeiliker. Om op die pynbank uitmekaargetrek te word klink verskriklik pynlik en dis realisties uitgebeeld. Wat maak Robert so ’n gedugte opponent vir die samesweerders? Hy
is genadeloos en wreed in sy soeke na die waarheid. Hy bestudeer die gelowe en is oortuig daarvan hy is reg en almal wat nie saamstem nie is verkeerd. Maak nie saak wat Catesby en die ander na sy kant toe gooi nie, hy loop hulle plat. Godsdiens is ’n sterk tema – dis waaroor
die 1605-sameswering gegaan het. Die geskiedenis word deur wenners geskryf en dit hou dikwels met geloof verband. Die Katolieke was in die spervuur en dis wat die Katolieke samesweerders teen die Protestantse koning gedryf het.
Jy het byna nie ’n oudisie gaan aflê nie. Ja, en tog stel ek baie in die geskiedenis belang en lees graag meer oor tydperke wat grootliks geïgnoreer word, want hulle het wonderlike stories om te vertel. Daar’s so baie verhale oor die manne agter die troon, soos Robert Cecil, wat die toutjies getrek het en groter ambisie gehad het as om bloot die kroon te dra. Is die kostuums so ongemaklik as wat hulle op skerm lyk? Snaaks genoeg is my kostuum al gedra deur [die voormalige sokkerspeler] Eric Cantona [in die 1998-periodedrama Elizabeth]. Ek kon my oë nie glo nie toe ek dit die eerste keer aanpas en die etiket binnein sien. Nie een van die kostuums is spesiaal gemaak nie, dis alles gehuur en net klein verstellings is toe gemaak. Selfs my baard was “tweedehands” en is al voorheen gebruik. Maar as jy na die tydperk kyk, was ’n onberispelike voorkoms nie juis belangrik nie. Het dit jou gehelp om in karakter te kom? Klere maak dit altyd op ’n manier makliker. Jy kry ’n gevoel danksy die kleredrag en dit beïnvloed ook hoe jy jou karakter vertolk. As jy iets ongemakliks dra, sal jy nie baie vrolik voel nie. Jou karakter het ’n spesifieke profiel. Robert het skoliose [ruggraatverkromming] gehad en was net sowat 1,5 m lank. Ek is 1,85 m en dis ’n aansienlike verskil. Ek het so half skuins probeer staan en loop om korter te lyk in die reeks, maar is nie seker of dit gewerk het nie. [Lag.]