TV Plus (Afrikaans)

Deirdre Wolhuter

Wat gaan in jou gunsteling-aktrise se kop aan?

-

Vir die skatryk sakevrou Mariaan Welman (Deirdre Wolhuter) gaan dit alles oor haar gesin en om hul reputasie te beskerm in die SABC2-sepie 7de Laan (2000-nou). Sedert Deirdre in 2016 by die Hillsiders aangesluit het, het ’n paar geraamtes uit haar karakter se kas vol geheime geval, wat ’n opskudding of twee veroorsaak het. Deirdre het ingestem om haar eie TV-kas oop te maak en haar gunsteling-TV-herinnerin­ge met ons te deel.

Wat was die eerste TV-program wat jy kammakasti­g saam met jou vriende gespeel het?

Omdat TV in 1976 in Suid-Afrika begin het en my ouers eers vyf jaar later hul eerste TV-stel gekoop het, was tyd voor die kassie vir my as kind nie so belangrik nie. Ek was ’n boekwurm wat vier tot vyf boeke per week gelees het. Die kinders in ons buurt was naastenby dieselfde ouderdom, en die seuns het ’n bende gevorm soos in die Trompie-boeke, en die meisies het hul eie groep gehad soos in die Saartjie-reeks. Ons het mekaar poetse gebak en probeer uitoorlê. Eers jare later het Trompie (Trompie En Die Boksombend­e, 1980) en Saartjie (1989) TV-reekse geword.

Wie was jou eerste TV-liefling?

Ek was nooit verlief op ’n TV-ster nie, ek het eerder in die stoutseun-rocksterre belanggest­el.

Wat het jy gedoen wanneer ’n intieme oomblik opduik terwyl julle as gesin TV gekyk het?

Een van ons bure het ’n TV gehad en al die kinders is toegelaat om Bonanza (1959-1973) en Little House On The Prairie (1974-1983) by hul huis te kyk. Wanneer daar ’n soentoneel was wou ons duisend dode sterf! Daar was opmerkings soos “Oe, nee” en “Sies, julle seuns is goor” en “Meisies is mislik”. Die een se gesig was rooier as die ander.

Watter produk het jy al in ’n advertensi­e of program gesien wat jy bitter graag wil hê?

Sjokolade-advertensi­es is my swak plek, veral daardie wat riviere van sagte, gesmelte sjokolade wys . . . En natuurlik het ek dan niks in die huis nie – wie het ongeëete sjokolade wat rondlê? Ek het nie soveel selfdissip­line nie. Ja, ek het ’n effense probleem met sjokolade!

Watter karakter se klerekas sal jy graag wil hê?

Ek waardeer pragtige TV- of fliek-klere, maar ek wil dit nie noodwendig hê nie. Ek is op my gelukkigst­e in jeans en stewels.

In wie se TV-huis sou jy wou bly?

Dis nie ’n TV-huis nie, maar Meryl Streep se kombuis in die Nancy Meyers-fliek It’s Complicate­d (2009) is die beste. En as jy my Madeline (gespeel deur Reese Witherspoo­n) in Big Little Lies (2017-nou) se huis aanbied, sal ek nie nee dankie sê nie.

Watter reekse is tans jou gunsteling­e?

Ek hou baie van regs- en politieke dramas. Maar die twee reekse wat my tans vasgenael hou, is Billions (2016-nou) en Big Little Lies. Ek weet ’n mens moenie die tyd wegwens nie, maar ek kan nie wag vir 2019 om die tweede seisoen van Big Little Lies te sien nie. Die draaiboek, die regie en die vertolking­s van veral Nicole Kidman (Celeste) en Reese Witherspoo­n is onverbeter­lik.

Watter werk sou jy agter die skerms wou doen?

Produksie-ontwerp, veral die ontwerp van stelle. Om die visuele agtergrond vir ’n storie te skep is ’n baie kreatiewe en tegniese proses. Maar ek dink die stres sal vir my te veel word. Dis ’n werk waar die eise en spertye selde realisties is, en enigiets kan skeefloop.

Watter storielynw­ending in ’n program is jou gunsteling?

Larry David (akteur, skrywer en vervaardig­er) is ’n meester wat satire en kinkels betref – dus enige episode van Curb Your Enthusiasm (2000-2017).

Watter TV-karakter is jou gunsteling?

Ek het nie fiktiewe TV-helde nie. Ek is verslaaf aan nuus, dus bewonder ek geselsprog­ramaanbied­ers soos Jon Stewart en John Oliver vir hul besonderse sinisme, satire en politieke kommentaar.

• Lees verder op bl. 53.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa