TV Plus (Afrikaans)

Pure dinamiet!

Devi is dalk klein van postuur, maar sy is onverskrok­ke in Carte Blanche, wat vandeesmaa­nd 30 jaar op die lug vier.

- Carte Blanche Seisoen 31 Sondae M-Net (*101) 19:00

Die ondersoeke­nde joernalis en ystervrou Devi Sankaree Govender het al as tiener besluit sy wil eendag deel wees van die nuus-aktualitei­tsprogram Carte Blanche (1988-nou). “Ek was 15 toe ek die eerste episode sien,” vertel die 45-jarige misdaadbes­tryder. “Vir die eerste keer in my lewe was ek blootgeste­l aan ’n ondersoeke­nde TV-program. Ek het dadelik geweet dis wat ek eendag wil doen.” Devi het in 2002 by die Carte Blanche-span aangesluit en gou kykers se harte gewen met haar ferm houding wat die skelms laat spaander wanneer sy aan hul deure klop. Met die baanbreker­program wat vanjaar 30 jaar (en 31 seisoene) op die lug vier, het ons met Devi gesels.

Voel jy tevrede of verlig wanneer jy iemand voor die gereg bring?

Mense moet verantwoor­dbaar gehou word vir hul dade, dus is daar ’n groot sug van verligting as ons ongerymdhe­de kon bewys. Ek is bly as iemand bereid is om te sê: “Ek het ’n fout gemaak”. Nie dat ek dit baie hoor nie! Die meeste mense wat ek konfrontee­r begin hulself dadelik verdedig, al word die bewyse van hul wandade aan hulle getoon.

Jy besoek mense nie juis vir ’n koppie tee nie . . .

Ek is al een keer aangerand, twee keer opgesluit, twee keer beroof terwyl ons verfilm het. Ons is al tallose kere geïntimide­er. Hoekom hou ek aan met my werk? Dis waarskynli­k dapperheid of dwaasheid . . . seker eerder laasgenoem­de!

Hoe bly Carte Blanche aan die voorpunt?

Dis eenvoudig: Die afgelope 30 jaar doen ons alles in ons vermoë om die waarheid te onthul, want die waarheid bring veranderin­g.

Hoe berei jy voor vir moontlike konfrontas­ie? Het dit ’n invloed op jou kleredrag?

Ek vorm ’n prentjie van ’n konfrontas­ie, maak as ’t ware ’n studie daarvan. Ek maak seker dis alles in my kop – daar’s nie kortpaaie daarvoor nie. Wat my klere betref, trek ek graag in die somer rokke aan en in die winter jeans met warm tops. Hoewel dit ’n moeilike werk is, wil ek nog vroulik lyk – netjies, mooi aangetrek en goed versorg. Ek hou nie van fieterjasi­es nie, maar ek dra altyd ’n effense hak. Ek dra nooit plat skoene op TV nie, want ek is kort – 1,5 meter. Ek kan in hoëhakskoe­ne hardloop, ek het dit al baie gedoen.

Hoe neem ’n Carte Blanche-storie vorm aan?

Die vervaardig­ers stel ’n storieidee voor en hoe hulle dit sien ontvou. Ons kry ook stories van kykers en bronne. Ons redaksione­le span neem dan ’n besluit, ’n navorsings­lêer word saamgestel en ek moet die storie in my kop kry ná die vervaardig­er my daaroor ingelig het. Twee dae word geskedulee­r vir verfilming ná ons besluit het met wie ons onderhoude moet voer en dan maak ons die afsprake. Die span in die veld bestaan uit vier mense: ’n vervaardig­er, ’n klank- en ’n kameraman en ek, en die kar is ons kantoor. Ons skiet gewoonlik drie tot vier onderhoude per dag, en ons sal dikwels na ’n ander stad reis en nog dieselfde dag na Johannesbu­rg terugkeer.

Hoe bly jy kalm tydens heftige onderhoude?

Ek is gelukkig van nature kalm in moeilike situasies. Ek fokus op wat gedoen moet word en die vrae wat ek moet vra. En baie van die tyd luister ek net – dis waar die meeste van die inligting en leidrade vandaan kom.

Hoe ontspan jy?

Ek gaan huis toe waar ek net ’n vrou en ma is. Ek is baie lief vir my gesin. Ek en my man, Perumal, het twee tieners – ’n dogter, Kaiyuree (17), en seun, Sayuran (14) – en ons kyk graag saam flieks. Ek doen ook joga en kook graag – ek’s ’n baie goeie kok! En ek moet agt uur slaap per nag inkry.

 ??  ?? Baie min skrik Devi Sankaree Govender af om by die waarheid uit te kom.
Baie min skrik Devi Sankaree Govender af om by die waarheid uit te kom.
 ??  ?? Devi en haar man, Perumal, en hul kinders, Sayuran (links) en Kaiyuree.
Devi en haar man, Perumal, en hul kinders, Sayuran (links) en Kaiyuree.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa