THE BIG BANG THEORY
Die komediereeks The Big Bang Theory (2007-nou) is verby – seisoen 12, wat op Maandag 24 September begin, sal die laaste een wees. Die reeks is nie gekanselleer weens lae kykertalle nie; dit eindig . . . want Jim Parsons het as Sheldon Cooper bedank. Jim is glo $50 miljoen (R711 miljoen) aangebied vir nog twee seisoene, maar het steeds geweier. Toe die nuus bekend word, het hy ’n ses bladsy lange boodskap vir sy medespelers en fans geskryf, wat lui: “Julle is almal my vriende vir wie ek lief geraak het en wat deel van my lewe geword het op en van die stel af . . . ek gaan julle almal en alles hiervan mis meer as wat ek kan sê en meer as wat ek tans besef.” Nie al Jim se medespelers, insluitend sy vrou in die reeks, Mayim Bialik (as Amy Farrah Fowler Cooper), is bly oor sy besluit nie. Sy het op haar blog laat weet: “Is ek gelukkig? Natuurlik nie. Dit was my werk sedert ek en Melissa Rauch (Bernadette) as gereeldes by die spelers aangesluit het in seisoen 4. Ek’s mal oor my werk. Ek’s mal oor my medespelers.” Intussen is Kaley Cuoco (wat Penny gespeel het van episode 1), glo ontroosbaar en “verdrink in trane” tussen opnames. Sy het fans op haar sosialemediarekenings belowe “die seisoen sal ons beste tot dusver wees”. Die res is stil oor die einde, al hoop hulle op hul eie splinterreekse – Jim is die uitvoerende vervaardiger en verteller in die Big Bang-voorreeks Young Sheldon (2017-nou).