Onskuldig aangekla
Lesedi se aantygings van verkragting het die onnie mnr. Carlson in die tronk laat beland, maar sy hou iets geheim.
Generations – The Legacy Weekdae SABC1 (*191) 20:00
Wanneer die polisie in die middel van die skooldag op Dinsdag 18 September by die skool opdaag, is die laaste ding wat die onderwyser mnr. Carlson (Clayton Boyd) verwag dat hy geboei daar weggelei sou word. “Hy’s verstom,” onthul Clayton. “Hulle vertel hom nie hy word ondersoek vir die verkragting van die leerder
Lesedi (Luyanda Mzazi) by ’n skoolkamp laat in Augustus nie. Hulle sê niks nie – dis angswekkend en vernederend.” Wat dit vererger, onthul Clayton, is Carlson het nie aan Lesedi geraak na sy die pynpille by hom geneem het nie.
Wat Carlson en die polisie nie weet nie is Lesedi kan niks onthou van die aand nie, want die pille het begin werk voor sy verkrag is. “Dit moes hy gewees het,” sê Luyanda. Carlson word vrygelaat ná ondervraging en gewaarsku om Lesedi “onder geen omstandighede te probeer kontak nie. Maar hy’s onskuldig en kan sy werk verloor,” verduidelik die akteur.
BETAAL DIE PRYS
Die goeie mnr. Carlson raak oornag berug wanneer dit bekend word hy is vermoedelik ’n verkragter. “Die gemeenskap verkies om die ergste te glo, want dis opwindender,” sê Clayton. “Daar is daagliks voorbeelde van mense wat hul mag misbruik. Dis natuurlik om iets slegs van ander te glo.”
Die eerste ding wat Carlson op Woensdag 19 September doen, is hy stel die prokureur Fana (Duma Mnqobi) aan. Hulle besluit hulle gaan mnr. Carlson se leerders en ouers vra om sy karakter te bevestig.“Maar die man word daarvan beskuldig dat hy ’n kind op ’n nare manier seergemaak het. Geen ouer sal help nie,” kla Clayton.
LEERDERS BESKERM
Om die skool se beeld en ander leerders te beskerm word Carlson op Donderdag 20 September geskors. “Sy vriende en kollegas wil niks van hom weet nie,” sê Clayton, en voeg by die situasie gaan nie gou verbeter nie: “Omdat dit is wat Lesedi dink en nie feite is nie, gaan dit langer duur om die waarheid te hoor. Intussen begin Carlson na die waarheid soek.”