TV Plus (Afrikaans)

AT SE “MA”

Susan Coetzer weer op TV as Mercia – en in die Koster-huis!

-

Almal is uit die veld geslaan wanneer Mercia

Jooste Koster (Susan Coetzer) op Woensdag 3 Oktober by Nagskof instap op soek na haar seun

Louis (Germandt Geldenhuys). Die Binnelandp­ersoneel het die afgelope paar dae naarstigli­k probeer om Mercia, wat in Engeland verpleeg, in die hande te kry om haar die slegte nuus mee te deel: Louis was einde September in ’n ernstige ongeluk en is in Binnelandk­liniek opgeneem. Maar hul pogings was tevergeefs. “Toe Mercia sê sy soek na haar seun wat die bestuurder van die kuierplek is, is almal verstom. Louis se vriende en kollegas besef Mercia het nooit die dringende boodskap gekry nie,” vertel Susan. Tertius (Reynardt Hugo) red die ongemaklik­e situasie en vertel Mercia van Louis se ongeluk in die myn en Mercia skrik haar asvaal. “Maar die skok is nog veel erger wanneer Tertius haar na Louis se hospitaalk­amer neem waar hy hulpeloos en in pyn lê.”

TELEPATIES VERBIND

Al het Mercia haar seun ’n paar jaar laas gesien, het hulle gereeld kontak. “Hulle het ongetwyfel­d ’n telepaties­e verbinding. Mercia het nie sonder rede in die middel van die nag wakker geskrik en aan Louis gedink nie. Sy het net geweet – iets is nie pluis met Louis nie en sy moet so gou moontlik op die eerste vliegtuig na Suid-Afrika klim,” vertel Susan.

Die herontmoet­ing is bittersoet. Germandt vertel Louis het baie gemengde gevoelens oor sy ma se skielike kuier. “Hulle het ’n sekere mate van afhanklikh­eid van mekaar, want hy het vir 26 jaar eintlik net sy ma gehad en nie sy ander familie geken nie. Hy is baie bly om Mercia te sien, maar hy verkwalik haar terselfder­tyd dat sy die afgelope paar jaar afwesig was.”

Mercia het haar enigste spruit grootgemaa­k om heeltemal onafhankli­k te wees, maar hulle ondersteun mekaar tydens krisisse, voeg Germandt by. “Die ma-en-seun-rolle word soms omgeruil, want Louis is baie meer konserwati­ef as sy ma en speel baiekeer die ouer wanneer sy ma droogmaak.”

TYDELIKE WOONPLEK

Dit is gou duidelik Mercia se kuier gaan uitgerek wees. As ervare verpleegst­er besef Mercia Louis het ernstig seergekry en dit gaan nog ’n rukkie duur voor hy volkome herstel – maar waar moet sy intussen bly? Louis weet sy sal nie welkom wees in die Koster-huis nie, want At (Hans Strydom) kan haar nog nie vergewe nie dat sy jare gelede op sy pa verlief geraak het, terwyl sy sy sieklike ma verpleeg het. Mercia is later teen At se wens met At se pa, wat

veel ouer was, getroud en Louis is kort daarna gebore.

Op Vrydag 5 Oktober vra Louis tog vir At se seun

Conrad (Hykie Berg) of Mercia tydelik in die Koster-huis kan woon. “At is uitstedig en Conrad hoop maar net sy korrelkopp­a kom nie terug terwyl Mercia daar is nie,” vertel Susan.

Mercia is aanvanklik self onwillig, want sy weet At gaan haar nie met ope arms verwelkom nie, maar stem tog in, aangesien At nie daar is nie.

Conrad kners op sy tande met Mercia in die rondte omdat hy die familieges­kiedenis ken en weet sy pa het ’n renons in haar. Maar tot sy eie verbasing begin sy vyandige houding mettertyd afkoel en hy begin nogal van haar hou. Mercia maak ook vriende met At se susterskin­d

Quinton (Ramey Short) wat ook in die Koster-woning bly. Maar ná ’n paar dae maak sy ’n skok-aankondigi­ng: Sy het besluit om nie na Brittanje terug te keer nie en in Suid-Afrika te bly.

VONKE SPAT AANHOUDEND

Op Dinsdag 9 Oktober verander die gemoedelik­e stemming handomkeer wanneer At terug is – en Mercia tot sy verbasing daar aantref. Conrad ontgeld dit dadelik. “Maar Conrad paai sy pa en vra hom mooi om Mercia ’n regverdige kans te gee,” vertel Susan.

Susan sê At se houding is onwrikbaar teenoor hierdie vrou. “Hy is bombasties en verdra Mercia aan die begin, maar die wrywing word al hoe erger. Hy haat Mercia met ’n passie, en hoewel sy probeer om sy guns te wen en selfs ’n bietjie by hom probeer aanlê, werp haar pogings nie juis vrugte af nie. Die vonke spat onophoudel­ik.”

Mercia besef At het die afgelope 30 jaar nog niks verander nie. “Wanneer Mercia vir At tydens hul argumente sê sy pa was ’n baie beter mens as hy, is dit olie op die vuur, want hy wil glad nie oor sy pa praat nie. Hy laat Mercia ook verstaan hy laat hom deur niemand voorskryf of beledig nie. Die konflik tussen hulle word amper soos ’n skaakspel waar die een die ander wil uitoorlê,” vertel Susan.

NUWE VRIENDSKAP

Mercia besluit om die stroewe atmosfeer in die Koster-huis op te vrolik en op Vrydag 12 Oktober nooi sy Louis se hegte vriendin Naomi (Je-ani Swiegelaar) vir ete. “Naomi is ’n bietjie agterdogti­g teenoor Mercia, maar besef gou ma en seun is goed vir mekaar,” sê Je-ani. “Maar sy bevraagtek­en steeds Mercia se motiewe waarom sy so skielik Suid-Afrika toe gekom het.”

Die aand verloop nie na wense nie en Naomi merk dadelik At se negatiwite­it teenoor Mercia op. Maar op Maandag 15 Oktober begin Naomi meer begrip vir die ongemaklik­e situasie kry wanneer Mercia haar hart teenoor Naomi oopmaak oor die verlede en vir haar ’n foto van At en sy pa wys.

Die geraamtes begin uit Mercia en At se kaste tuimel, maar meer oor al hierdie vuil wasgoed wil Susan nie verklap nie. Intussen probeer Conrad self om agter die kap van die byl van sy pa se nydigheid teenoor Mercia te kom, want hy begin iets tussen die lyne lees . . .

NÁ 10 JAAR TERUG VOOR DIE KAMERAS

Susan was 10 jaar laas voor die kameras in 7de Laan (2000-nou) as die sakevrou Robyn de Swardt, wat R2 miljoen van die Terblanche-familie gesteel het. “My loopbaan het wye draaie geloop. Ek was van 2002 tot 2012 mede-eienaar van die venue Die Blou Hond in Gauteng en spits my die afgelope klompie jare toe op skryf en skilder. Ek lewer ook landwyd motivering­spraatjies.”

Susan het reeds 16 boeke gepublisee­r en is tans besig met ’n bemarkings­toer vir haar nuutste twee boeke: Bruistable­tte Vir Die Lewe, wat dagstukke bevat, en haar roman Selma En Louise.

Met haar eenvrou-komedie Koek En Tert, wat sy self geskryf en vanaf 2016 op die verhoog opvoer, het sy weer selfvertro­ue gekry om meer toneelwerk te doen. “Toe ek ’n paar maande gelede by Binneland as Mercia voor die kameras moes inval, was ek nogal senuagtig, want ek het gehoor hoe ouer jy word hoe moeiliker is dit om jou woorde te onthou. My hart het tydens die eerste toneel hard in my borskas geklop, maar gelukkig het die woorde in my kop gebly! My hele ervaring by Binnelande­rs was vir my soos ’n tuiskoms,” vertel Susan. “Ek en Germandt het dadelik gekliek en ’n hegte band gesmee. Germandt het selfs gesê ek laat hom aan sy eie ma dink.”

Susan sê sy het self raakpunte met haar karakter, Mercia wat dit makliker vir haar gemaak het om haar te speel. “Mercia is ’n bietjie boheems, het medelye met haar medemens en ’n lekker humorsin.” En wie weet, dalk is sy net die vrou wat die hardekwas At Koster kan ore aansit.

 ??  ??
 ??  ?? Mercia is baie ontsteld wanneer sy Louis kom soek en hom in die hospitaal kry .
Mercia is baie ontsteld wanneer sy Louis kom soek en hom in die hospitaal kry .
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? Mercia het nooit die boodskap gekry Louis was in ’n ernstige ongeluk nie.
Mercia het nooit die boodskap gekry Louis was in ’n ernstige ongeluk nie.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa