TV Plus (Afrikaans)

Net nog een pilletjie

Stefan neem Stella van Bianca af weg.

-

Chaos. Dit som die kelnerin Bianca (Simone Biscombe) se lewe op. Haar pilverslaw­ing vererger daagliks en sy skeep haar dogtertjie, Stella (Phoenix Isabelle Bennett), toenemend af. Bianca speel met vuur, sê Simone. “Haar oordeel laat haar lelik in die steek. Sy dink sy is in beheer van wie en wat sy is, maar inderwaarh­eid het haar pilverslaw­ing die oorhand gekry,” voeg sy by met verwysing na die dwelms wat Bianca begin gebruik het toe sy vroeër vandeesmaa­nd haar kêrel

Lloyd (Ruben Engel) ontmoet het. Sy val ál dieper in ’n donker gat en dis nie lank voor die pa van haar kind, Stefan (Gideon Lombard), ingryp nie. Dit gaan immers oor hul kind se welstand . . .

NOG PROBLEME

Op Woensdag 26 September daag Bianca met ’n lelike babelas by haar werk by die Oos-Wes-restaurant op ná sy die vorige aand saam met Lloyd uit was. Stefan, wat ook haar baas is, is nie beïndruk nie en stuur haar huis toe om haarself reg te ruk.

Maar nog probleme wag op Bianca by die huis wanneer die argitek

Tim (Marco Spaumer) haar konfrontee­r oor ’n onbesonne ding wat sy in haar benewelde toestand aangevang het. “Bianca het die vorige aand in Tim se motor by die Suidooster­Sentrum vasgery, maar sy het weggery,” vertel Simone. Tim het na die sentrum se kringtelev­isie-beeldmater­iaal gekyk en gesien dit was Bianca – en hy soek vergoeding. Bianca skraap al die kontant wat sy by haar het bymekaar, gee dit vir Tim en oorreed hom om stil te bly oor wat gebeur het.

NAGMERRIE WORD WAAR

Maar al swyg Tim is daar iemand anders wat besef hoe benard die situasie is. Michelle (Greta Pietersen), Stefan se eksvrou met wie hy onlangs versoen geraak het, praat op Donderdag 27 September met hom oor Bianca. “Michelle vertel hom sy het gesien Bianca drink skelm pille,” sê Gideon. “Stefan wil haar eers nie glo nie, maar sy ergste nagmerrie word waar wanneer hy stilletjie­s in Bianca se handsak krap en op die pille afkom.”

Michelle moedig Stefan op Vrydag 28 September aan om iets te doen en ten minste Bianca se ouers, die Samsodiens, van haar verslawing te vertel. Maar Stefan is huiwerig, vertel Gideon, want hy wil Bianca nie in die moeilikhei­d laat beland nie.

NARE GEVOLGE

Dinge raak te veel vir Bianca op Maandag 1 Oktober en sy besef die pille neem haar lewe oor. “Sy gooi haar pille weg,” vertel Simone. Maar die aand kuier sy weer saam met Lloyd en sluk gretig van die pille wat hy het om die onttrekkin­gsimptome teen te werk.

Bianca en Lloyd kom die volgende oggend, Dinsdag 2 Oktober, al vryend by die huis aan ná nog ’n deurnagkui­er wanneer Bianca iets skokkends besef. “Sy is die vorige aand daar weg en het Stella alleen in die huis gelos. Haar ouers is uitstedig en nou het sy nie ’n idee waar Stella is nie,” verklap Simone.

Bianca raak histeries, maar bedaar wanneer haar broer Rhafiek (Irshaad Ally) by die huis opdaag met Stella in sy arms. “Hy en sy vrou Carmen (Desiré Gardner) het die vorige dag daar opgedaag en Stella gevat toe hulle besef niemand is tuis nie.”

Stefan is woedend wanneer hy op Woensdag 3 Oktober hoor wat gebeur het. “Hy, Carmen en Rhafiek probeer sin in Bianca se kop praat, maar sy maak dit duidelik sy het alles onder beheer en het opgehou om pille te drink,” sê Simone. Maar sy lieg vir haarself.

’N ULTIMATIUM

Dan gebeur nog ’n ongeluk. Stella kry op Donderdag 4 Oktober seer terwyl sy by Bianca is. “Sy het van haar fietsie afgeval en ’n kopbeserin­g opgedoen. Bianca kon dit gekeer het as sy by haar volle bewussyn en nie weer onder die invloed van pille was nie,” sê Gideon.

’n Briesende Stefan vat Stella summier by Bianca weg, en hy stel op Maandag 8 Oktober ’n ultimatum: “Óf Bianca sorg dat sy finaal die pille los, óf hy gaan haar dagvaar vir volle toesig oor Stella,” sê Gideon. Dalk is dit die werkroep wat Bianca nodig het?

 ??  ?? Stefan bly bekommerd oor Bianca se vreemde optrede.
Stefan bly bekommerd oor Bianca se vreemde optrede.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa