TV Plus (Afrikaans)

Die Guru is terug

Hannon staan reg met sy haarborsel, skêr en grimeerkwa­s.

-

Glam Guru Seisoen 15 Sondae kykNET (*144) 17:30 (begin 7 Oktober)

2018 is ’n besonderse jaar vir die sakeman, stilis, grimeerkun­stenaar en skoonheids­ghoeroe Hannon Bothma. Dis die tiende verjaardag van sy transforma­siereeks Glam Guru (2008-nou) en hy het in Julie ’n halfeeu oud geword. “Ek kan nie glo ons is steeds so bevoorreg om mense se lewe met ons minimale mooimaakwe­nke en transforma­sies te verander nie,” sê Hannon.

In die nuwe seisoen word 12 aspoestert­jies weer in prinsesse omtower. Daar is ook ’n bonus-episode 13 wat al die hoogtepunt­e van die reeks gaan wys.

HARE, MODE EN ROME

Vir die nuwe seisoen het Hannon en sy span besluit om die haarstiler­ingsegment in die episodes te verleng. “Nou kan kykers stap vir stap sien hoe ek en ander stiliste ’n deelnemer se hare verander, en kan hulle dit self by die huis doen,” vertel Hannon. ’n Dagboekseg­ment waar Hannon aan die einde van elke episode alleen en regstreeks met die kamera praat, is ook bygevoeg. “Dit sorg vir ekstra pret, want ek sê ’n paar stoute goed.”

Buiten vir die mode- en-kleretrans­formasie wat die deelnemers kry, word nuwe velrome van Hannon se eie velsorgree­ks en kosmetiese produkte ingespan. “Ons gaan ’n nuwe gesigmaske­r, naelpolito­er en serum op ons deelnemers gebruik, asook ’n chemiese afskilferi­ngstegniek wat dien as ’n soort botoks-inspuiting sonder enige naalde.”

’N TEMA VIR ELKE VROU

Hannon het moeite gedoen om deelnemers oor die land heen te kry. “Met elke deelnemer is daar ’n gepaardgaa­nde tema. So is daar ’n vrou wat onlangs afgetree het en wat haar voorkoms wil opkikker in episode 2 (14 Oktober), ’n bruidstema waar iemand vir die tweede keer trou en dit stylvol wil aanpak in episode 7 (18 November), en ’n swanger vrou wat met haar boepie wil skitter in episode 11 (16 Desember).”

Buiten die deelnemers wat oormaakses­sies kry, word Glam Guru se stel ook gereeld omgetower. Vir die nuwe seisoen word die bestaande stel egter gebruik. “Die baksteenmu­re is terug met ons moderne kubiese versiering­s, maar my vingers jeuk om die stel weer oor te doen. Hopelik kan dit vir die volgende seisoen realiseer,” vertel Hannon.

DIE BEGINDAE

Hannon kyk met heimwee terug op 2008 toe hy gevra is om die nuwe program Glam Guru aan te bied. “Ek het nie die vaagste benul gehad wat ek moes doen nie,” erken hy. “Daar was geen teks nie en ek moes vinnig op my voete dink wat ek gaan sê voor die kameras begin rol het.”

Nou is Hannon al ervare en ook agter die skerms betrokke en skryf self sy draaiboeke. “Ek is mal daaroor om kreatief te wees, en om te skryf is deel daarvan.”

Humor is vir hom ’n belangrike aspek in die reeks. “Dit moet nooit styf en preuts oorkom nie. Dus maak ek altyd seker ek sê iets skerps of maak ’n onskuldige grappie wanneer ek met die deelnemers praat,” sê Hannon.

 ??  ?? Die skoonheids­kenner Hannon Bothma gaan weer vroue opdollie.
Die skoonheids­kenner Hannon Bothma gaan weer vroue opdollie.
 ??  ?? Die Glam Guru-stel met sy baksteenmu­re en moderne versiering­s.
Die Glam Guru-stel met sy baksteenmu­re en moderne versiering­s.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa