TV Plus (Afrikaans)

Spoke van gister

Dieselfde misdade word ná 13 jaar weer in Digtersdal gepleeg.

-

Spoorloos Seisoen 1 Dinsdae kykNET (*144) 20:00 (begin 9 Oktober)

Die inwoners van die dorpie Digstersda­l in die Oos-Kaap was verlig toe die reeksmoord­enaar wat kinders jare gelede geteister het, dood is. Maar al het ’n biegbrief langs die oorledene se bed bevestig hy was die een wat seuns vermoor het, begin daar nou weer kinders verdwyn in die naelbytree­ks Spoorloos.

“Terwyl ’n polisieman, De Wet (Eric Bouwer), ’n joernalis, Sonja Lategan (Kim Syster), en drie kinders, Jan- Gustav Malan (Niel Slabbert), Keagan Arendse (Charl Fleurs) en Esti Taljaart (Ineke van der Merwe), probeer om die monster te vang, word al die ou wonde weer oopgekrap,” vertel die skrywer, Ilse van Hemert.

AGTERGROND

Die kinderlied­jie Siembamba, Mamma Se Kindjie het ’n onheilspel­lende konnotasie vir die Digtersdal-inwoners, verduideli­k Ilse die konteks van die dramareeks met 13 episodes. Elke keer nadat die moordenaar een van sy ses slagoffers, wat tussen die ouderdomme van 5 en 15 jaar oud was, doodgemaak het, het hy die plaaslike radiostasi­e en koerant gebel en die deuntjie gefluit.

“Dis hoekom die moordenaar Siembamba gedoop is.” Die vermiste seuns se klere is telkens op ’n hopie êrens op die dorp gekry by ’n stuk koek – gedokter met slaapmidde­l – waaraan hulle geëet het. Jare later het beendere ná ’n vloed uitgespoel en toe dit positief vir die slaapmidde­l getoets is, het die polisie geweet dit was Siembamba se slagoffers.

Die laaste moord is 13 jaar gelede gepleeg, maar nou verdwyn daar weer kinders en dieselfde leidrade – klere en ’n stuk koek – word gevind nadat die kinders verdwyn. Maar was die man wat destyds gebieg het die regte moordenaar? Of is dit ’n booswig wat die misdade naboots? Vrese vlam op te midde van die oplewing wat die sakeman en politikus Werner Malan (Deon Coetzee) op die dorp probeer bewerkstel­lig om die ou spoke te besweer.

OORSPRONG

Ilse het die reeks rofweg geskoei op die skrywer Vernon Baumann se boek Daddy Longlegs (2014). Maar omdat die boek baie donker is, moes Ilse omtrent 90% van die storie nuut skep. “Ek probeer om mense met stories en karakters te inspireer om deernis vir hul medemens te ontwikkel sodat hulle minder afgestomp is, en ek wou dieselfde met Spoorloos doen,” sê die ervare regisseur, teksskrywe­r en vervaardig­er.

SKILDERAGT­IGE CRADOCK

Twee groot redes het hulle laat besluit om op Cradock in die Oos-Kaap te verfilm. “Ek ken die dominee, Corné Slabbert, en sy vrou, Helena, ’n mediese dokter, op die dorp. Predikante en dokters ken uiteraard die meeste inwoners. Ek het ook geweet ek sou op die gemeenskap se hulpvaardi­gheid en samewerkin­g kon staatmaak omdat ons baie van Cradock se inwoners as

akteurs sowel as ekstras moes inspan – om begrotings­redes kon ons nie so baie akteurs en ekstras van Johannesbu­rg invlieg nie,” sê Ilse.

Melina Smith, ’n drama-onderwyser­es op Cradock, het ’n waardevoll­e bydrae gelewer. Sy het gehelp om die drie kinders, Charl (Keagan), Ineke (Esti) en Niel (Jan- Gustav), wat groentjies voor die kamera is, voor te berei. Sy het ook hand bygesit om die 30 ekstras, wat ’n bietjie dialoog het, sowel as tientalle ekstras bymekaar te kry en af te rig. “Die tydsfaktor was ’n reuse-uitdaging, want ons moes 13 episodes binne 8 weke verfilm,” vertel Ilse.

Ilse en André Odendaal snoer hul talente saam as regisseurs. “Omdat ek die reeks geskryf het, het ek die karakters goed geken en dit is ’n voordeel wanneer jy die regie doen,” sê sy. André se tonele as die karakter Piet Pille is so geskedulee­r dat hy voor sowel as agter die kameras kon werk.

 ??  ?? Frieda Vos (Wilmien Rossouw), Werner Malan (Deon Coetzee) en Adam Arendse (Zane Meas).
Frieda Vos (Wilmien Rossouw), Werner Malan (Deon Coetzee) en Adam Arendse (Zane Meas).
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa