TV Plus (Afrikaans)

Plaasliefd­e

“Ek wil ’n boervrou word!”

-

Boer Soek ’n Vrou Seisoen 11 Donderdae kykNET (*144) 20:00 (begin 18 Oktober)

“Oulike boere, mooi plase en ’n aanbieder wat 100% plaasvrou word,” som die aanbieder Leah op wat kykers van die nuwe seisoen van Boer Soek ’n Vrou (2007-nou) kan verwag. Die boere se liefdesrei­se begin in Oktober, ná die loodsepiso­de in April waarin die 20 deelnemers voorgestel is. Hopelik vind ’n boer weer die ideale pasmaat, soos Adriaan Geldenhuys, ’n skaapboer van die Langeberg- distrik in die Wes-Kaap, wat verlede jaar in seisoen 10 deur Kupido se pyl getref is. Hy het in September vanjaar verloof geraak aan Helene Retief wat tydens die reeks op sy plaas kom kuier het, en hulle beplan tans hul droomtroue.

Leah vertel meer van haar ondervindi­ng as aanbieder: Was dit lekker om deel te wees van die reeks? Dit was ’n nuwe ervaring, maar

vol pret. Ek het dit geniet om nuwe, verskillen­de mense te ontmoet en te leer ken. Die plaaslewe lyk nou vir my baie aanloklike­r. Ons het sulke mooi dele in ons land, en ’n plaas het ’n besonderse skoonheid en rustigheid. Watter uitdagings was daar met die verfilming? Die temperatur­e het gewissel tussen uiterstes – van bloedig warm tot ysig op plekke. Ons was ook lang tye weg, soms drie tot vier maande, en die verlange na my eie man, Hennie, was erg. Maar dis ’n goeie uitdaging wat ons verhouding sterker gemaak het. Waarom dink jy vind sommige deelnemers

liefde en ander nie? Ek dink dit hang af van waar die boere in hul lewe is en of dit met die deelnemers ooreenstem. Sommige wil hul tyd neem en ander wil dadelik met ’n verhouding begin. Ek dink dis belangrik dat jy weet waarvoor jy in ’n pasmaat soek. Jou motiewe speel ook ’n rol – is jy in die reeks vir roem of om werklik liefde te vind? As iemand met opregte bedoelings inskryf, is die kanse beter dat dit uitwerk. En soms is dit net geluk. Die aantrekkin­gskrag tussen twee mense kan jy nie keer nie. Watter raad het jy vir die deelnemers? Die meisies moet eerlik wees oor wie hulle is en waarin hulle belangstel. Wees net jouself, en die boer sal jou raaksien as jy die soort meisie is na wie hy soek. Kyk mooi na die boere se video’s, hulle

waardeer dit as jy ietsie raaksien en daarop reageer. En hulle sê die pad na ’n man se hart loop deur sy maag, dus is dit ’n bonus as jy lekker beskuit kan bak! Op hul beurt moet die boere onthou ’n vrou wil graag bederf word, en as jy haar video ’n paar keer moet kyk om te sien waarvan sy hou, gaan sy daardie moeite raaksien en waardeer. En partykeer is dit net die opregte woorde in ’n eenvoudige brief of die vonkel in jou een foto wat die deurslagge­wende faktor is. Dink jy jy sou ’n goeie boervrou wees? Beslis. Ek is nie bang vir ’n uitdaging of om my hande, gesig of klere vuil te maak nie. Ek sal myself ook goed kan besig hou op ’n plaas en ’n bietjie huisvrou speel. As jy nie getroud was nie, watter soort boer sou jy wou hê? ’n Wynboer. Ek is ’n Kapenaar wat my wyntjie geniet, en wingerdpla­se is van die mooistes wat jy kry.

Wat het jou lekker laat lag? Ek het in ’n draad vasgeloop en sommer van my hare daar gelos. Die draad was duidelik sigbaar, maar ek het te hard gekonsentr­eer op die boer se geselsies.

Hoekom bly die program so gewild? Dis mense soos ek en jy wat ’n kans waag, op TV verskyn en alles op die spel plaas om liefde te vind. Dis onvoorspel­baar, eg en almal kan hulself vereenselw­ig met iemand of ’n situasie wat opduik. En wat is meer pret as ’n boer en kuiergaste op ’n plaas en almal soek liefde? Dis die perfekte program om ons natuurlike nuuskierig­heid te bevredig.

 ??  ?? Die aanbieder Leah het wyd en syd gereis om boere liefde te help vind.
Die aanbieder Leah het wyd en syd gereis om boere liefde te help vind.
 ??  ?? Boer Adriaan en Helene.
Boer Adriaan en Helene.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa