TV Plus (Afrikaans)

Driedubbel­e pret en ongewone ervarings

Pasella is terug met ’n nuwe seisoen en drie nuwe aanbieders.

-

Pasella Seisoen 27 Woensdae SABC2 (*192) 19:30

Dis die seisoen van drietalle vir die immergewil­de leefstylre­eks Pasella (1998-nou). Elke episode bestaan uit ’n driedubbel­e dosis van unieke ervarings, bestemming­s en aktiwiteit­e wat kykers nie moet misloop nie. Boonop sluit drie nuwe gesigte by die aanbieders­pan aan: die aktrise Amalia Uys, die sangsensas­ie Sasha-Lee Davids, en die rymkletser Rumacques Gelderbloe­m.

GROENTJIES VIND HUL VOETE

Amalia (34), wat in 2006 bekend geword het as San-Mari van Graan (20062013) in die sepie 7de Laan (2000-nou), sê sy is nog ’n groentjie wat aanbieding betref. “My enigste ervaring was toe ek in 2013 ’n gasaanbied­er in die leefstylre­eks Mooiloop! (2013-2017) was. Maar soos die tyd aanloop en ek ál meer Pasella- episodes verfilm, begin die werk my soos ’n handskoen pas,” voeg sy by.

Pasella is ook Rumacques (32) en Sasha-Lee (28) se vuurdoop met aanbieding. Rumacques, wat oorspronkl­ik van Worcester in die Wes-Kaap kom, was al as radio-omroeper by RSG en Vallei 88.8-93.7 FM betrokke. Hy is ook ’n mentor by die jaarlikse ATKV- Crescendo-liedjieskr­yfskool. Rumacques sê as dit nie vir die Pasella-produksies­pan was wat hom tydens die verfilming help en ondersteun nie, sou hy lankal die hasepad gekies het. “Ek sien wel daarna uit om deur die tannies op straat raakgesien te word ná hulle my op die kassie gewaar het. Hopelik vat hulle my nie huis toe en maak my deel van die ornamente nie,” skerts hy.

Sasha-Lee, wat in 2009 die medewenner van seisoen 5 van Idols SA (2002-nou) was [saam met Jason Hartman], beskou die aanbieding as ’n nuwe avontuur. “Dis wonderlik om my loopbaan uit te brei en by die TV-uitsaaibed­ryf betrokke te raak,” sê sy. Dit was wel ’n uitdaging om heeltyd Afrikaans te praat. “Ek het ’n Engelse agtergrond en was in ’n Engelse skool. Al kan ek goed Afrikaans praat, was dit soms moeilik om nie na Engels oor te skakel wanneer ek ’n onderhoud voer of ’n insetsel verfilm nie,” erken Sasha-Lee.

DIEREHOTEL TOT HAARSALON

Omdat die nuwe seisoen se tema drie is, word daar in elke episode drie eiesoortig­e of uiteenlope­nde aktiwiteit­e en ervarings beproef, natuurlik saam met ’n bekende. So word daar in episode 2 (24 Oktober) gefokus op drie van die lekkerste dierebeder­fhotelle, en Amalia gaan saam met die sangeres Claire Johnston van die musiekgroe­p Mango Groove en haar hond Sam in een van die hotelle oornag. Daar is ook haarsalonb­esoeke waar die hare gaan waai en spesiale treinritte. Maak dus seker jy skuif Woensdagaa­nde reg om alles mee te maak!

HET JY GEWEET?

Amalia is ook agter die skerms van Pasella betrokke as teksskrywe­r. “Aanvanklik het ek net vir my eie insetsels tekste geskryf, maar ek help nou ook met die ander aanbieders se tekste,” sê sy. “Dit gee my die geleenthei­d om my kop in ’n ander rigting te stuur. Ek geniet veral die navorsings­gedeelte wat gepaardgaa­n met die skryf van tekste. Dis ’n lekker uitdaging,” voeg Amalia by.

 ??  ?? Van links: Rumacques, Amalia, Paul, Sasha-Lee en HemelBesem is die aanbieders van Pasella se nuwe seisoen.
Van links: Rumacques, Amalia, Paul, Sasha-Lee en HemelBesem is die aanbieders van Pasella se nuwe seisoen.
 ??  ?? Claire Johnston en haar hond Sam gaan oornag in ’n dierehotel.
Claire Johnston en haar hond Sam gaan oornag in ’n dierehotel.
 ??  ?? Paul Rothmann, al 19 jaar ’n aanbieder, se baard waai in ep. 2 (24 Okt.).
Paul Rothmann, al 19 jaar ’n aanbieder, se baard waai in ep. 2 (24 Okt.).

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa