TV Plus (Afrikaans)

Harde bene kou

Die dramareeks Verspeelde Lente is terug op die kassie – 35 jaar ná dit die eerste keer uitgesaai is.

-

Verspeelde Lente Seisoen 1 Dinsdae SABC Encore (*156) 08:30 (begin 6 November)

Die Groot Depressie en droogte van die 1930’s het baie mense geknak. In Verspeelde Lente (1983), gegrond op die 1963-roman van Johannes van Melle, is die Le Roux- gesin op hul knieë en bywoners op ’n plaas. Pa Sagrys (Limpie Basson) en ma Griet ( Wilma Stockenstr­öm) se enigste dogter, Pop (Elize Cawood), moet met ’n donkie en ploegskaar die droë lande bewerk. Maar Pop droom daarvan om iets beters van haar lewe te maak as om met die donkie in die stof aan te sukkel.

TYDLOSE STORIE

“Die reeks is vandag nog relevant,” sê Ian Roberts, wat die rol van Pop se groot liefde, Hermaans (Manie) Cronjé, vertolk het. “Dit was ’n oorlewings­tryd. Mense wou uit hul sukkelbest­aan kom en ’n beter lewe vir hulself maak, soos vandag nog die geval is. Die nuwe geslag kykers sal daarby aanklank vind.”

Dit was van Ian en Elize se eerste groot TV-rolle. “Ek was nog onervare,” sê Elize, wat mense laat regop sit het met haar vertolking van die vurige Pop. “Die kykers was gaande daaroor toe dit destyds uitgesaai is, want dis ’n tydlose storie. Ek is bly ’n jonger geslag kan dit sien, want dis ’n gehalteree­ks,” sê Elize.

EG SUID-AFRIKAANS

“Verspeelde Lente was vir my ’n goeie reeks vol emosie,” voeg Ian by, wat erken hy kyk nie meer plaaslike dramas nie. “Deesdae is dit baie Europees en ek hou nie daarvan nie,” verduideli­k hy. Maar Verspeelde Lente is eg Suid-Afrikaans en Ian en Elize kan nie wag om dit weer te sien nie. “Dit gaan snaaks wees om te sien hoe ek toe gelyk het,” lag Ian.

Die feit dat hulle nie tantième kry vir die reeks wat nou weer uitgesaai word nie, is egter iets waaroor Ian nie lag nie. Destyds het hulle bloot ’n “handskud-ooreenkoms” gehad sonder ’n kontrak, en geen akteur word nou vergoed vir die heruitsend­ing nie.

“Ten spyte daarvan is ek baie trots op Verspeelde Lente. Ons was ’n fantasties­e groep mense wat hard gewerk het om ons beste te lewer,” sê Ian. Die regisseur was die gevierde Manie van Rensburg. “Hy het intensief saam met elkeen gewerk om van die reeks so ’n groot sukses te maak,” voeg Ian by.

 ??  ?? Manie by Elize en Ian tydens die verfilming van die vrytoneel.
Manie by Elize en Ian tydens die verfilming van die vrytoneel.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa