Desperate dogter
As Xolile se liefie Mthunzi haar in die steek sou laat, sal dit voel of sy opnuut haar pa verloor.
As kykers hul kop skud oor Xolile Langa (Sivenathi Mabuya) se besluit op Maandag 5 November en wat tussen haar en haar aan-af-verloofde Mthunzi (Bongile Mantsai) gebeur op Woensdag 7 November, is hulle nie eens haar grootste kritici nie. “Haar jonger self sal na haar kyk en net kan uitkry: ‘Sjoe! Xolile!’” erken Sivenathi. Maar sedert Xolile op Donderdag 16 Augustus uitgevind het van die moord op haar pa,
Siseko (Hlomla Dandala), hardloop sy weg van die waarheid – en reg in Mthunzi se arms.
PA SE OOGAPPEL
“Toe sy haar pa verloor, het sy ’n man verloor wat baie vir haar beteken het. Daardie leemte word nou gevul deur Mthunzi. Haar aangetrokkenheid tot hom help haar wegvlug van die moeilike situasie om haar pa se dood te moet verwerk, en trek ook haar aandag af,” verduidelik Sivenathi. “Sy gee haarself nie kans om behoorlik te rou nie. Dit lei grootliks daartoe dat sy sulke ondeurdagte besluite neem en so oorhaastig is met alles.”
VERLIES EN RUIMTE
Mthunzi het haar gevoel van verlies gebruik om Xolile te manipuleer deur doelbewus afsydig teenoor haar te wees sedert sy hom op Vrydag 26 Oktober gevra het om ’n voorhuwelikse kontrak te teken – onder die voorwendsel hy gee haar ruimte om alles te verwerk. Maar Mthunzi bring nie net minder tyd saam met Xolile deur nie, hy vryf ook haar neus daarin deur al sy aandag te wy aan die ander vroue in haar familie. Buiten dat hy gedurig met Yvonne (Kgomotso Christopher) flirt, het hy selfs Xolile se ma,
Boniswa (Lusanda Mbane), op Woensdag 31 Oktober gesoen. Die “ruimte” wat hy Xolile gun, dwing haar om te besef hoe dit met haar familie gesteld is. “Alles het verander en hulle is nou allesbehalwe gelukkig, maar verdeeld,” sê die aktrise.
ONTHOU DIE DATUM
Wanneer Xolile haar aanvanklike troudatum van Maandag 19 November sien naderkom, voel sy nog meer verward. “Sy raak paniekerig,” sê Sivenathi. “Dis ’n baie stresvolle tyd vir haar. Kykers sien hoe sy haar bes doen om nie te aanvaar die troue gaan waarskynlik nie plaasvind nie. Sy is heeltemal in ontkenning en probeer voorgee alles is in die haak,” voeg Sivenathi by.