Shades Of Blue
Seisoen 2 e.tv (*194) 20:30 Aksie
Moenie ’n fout maak nie: Ray Liotta speel graag ’n slegte ou. “Selfs my nuwe karakter Matt Wozniak in Shades Of Blue (2016-2018), hy’s ’n speurder wat veronderstel is om te dien en beskerm. Maar hy is korrup. Hy gebruik sy ampswapen asof dit iets is wat aan hom onbeperkte mag gee en hom onaantasbaar maak. Hy is skelm en dis soveel pret,” sê die 64-jarige New Yorker.
1 Die rol van Henry Hill, voormalige rampokker en nou FBI-informant, in die biografiese drama-fliek Goodfellas was ’n werklikheidstoets vir Ray. “Ek het geweet Martin Scorsese was ’n beroemde regisseur, maar ek was onvoorbereid. Alles was groter en luukser,” sê Ray.
2 Sy ouers het sy aanneming nooit verswyg nie en het hom die keuse gegee om sy biologiese ouers te ontmoet as hy wou. Hy het sy biologiese ma eers in 2000 ontmoet.
3 Ray reageer nooit op kommentaar oor sy veranderende voorkoms en praatjies oor plastiese chirurgie nie. Sy agent kyk vraelyste vir onderhoude ook goed deur daarvoor.
4 Hy het as tiener ekstra sakgeld verdien deur brosjures vir sy pa se veldtog in die stadsraad uit te deel. Ray het op kollege ook in ’n begraafplaas gewerk.
5 Die akteur ondersteun die Engelse sokkerspan Tottenham Hotspur. Hy kyk na regstreekse wedstryde wanneer hy in die VK is, en tuis in LA bly hy heelnag wakker om na uitsendings te kyk.
6 Ray is ontnugter met flieks en sê ná die einde van Shades Of Blue gaan hy nie terug na rolprente nie. “TV is baie meer pret.”
7 In teenstelling met ander ouer celebs, is Ray nie mal oor gholf nie – hy ry eerder perd op ’n plaas.