TV Plus (Afrikaans)

Geen verskieten­de ster

Tarryn skitter as die dowe, funky kelnerin in Dwaalster.

- Dwaalster Seisoen 1 Dinsdae kykNET (*144) 20:00

Vir die rol van die dowe kelnerin Gina Devine in die dramareeks Dwaalster moes die Kaapse aktrise Tarryn Wyngaard (27) gebaretaal leer en leer rolskaats. Sy moes ook ’n blou kontaklens dra, want Gina se een oog is blou en die ander een groenbruin. “Dit was alles ’n reuse-uitdaging,” vertel Tarryn. “Rolskaats is nie so moeilik nie, maar as jy moet rolskaats en terselfder­tyd ’n skinkbord met glase of koppies en pierings balanseer, moet jy jou storie ken.”

Gina is op die oog af ingetoë en beskeie, maar daar skuil veel meer onder daardie komkommerk­oel fasade, sê Tarryn. “Sy is baie sensitief vir energie, veral donker energie. Gina kry voorgevoel­ens oor wat in die toekoms met sekere mense gaan gebeur, veral wan- neer die bloedmaan verskyn.” Maar die inwoners van die klein Karoo- dorpie Maanhaarsd­rif loop nie draaie om Gina en haar sesde sintuig nie, want sy is hul morele kompas.

INTENSIEWE VOORBEREID­ING

Tarryn het voor die verfilming van Dwaalster sowat ses weke lank intense voorbereid­ing vir die uitsoekrol gedoen. “Ek het gebaretaal by Jessica en Christophe­r Bothma, wat albei doof is, sowel as Jabaar Cassiem Mohamed, die provinsial­e direkteur van die Federasie van Dowes in Suid-Afrika, geleer,” sê sy. Christophe­r het ook stel toe gekom vir die tonele waar Tarryn gebaretaal moes doen om haar verder touwys te maak.

Die rolskaatse­ry het baie oefening geverg. “Ek kan rollemskaa­ts, maar het nog nooit gerolskaat­s nie. Amore van Sittert van die Cape Town Rollergirl­s het my geleer rolskaats. Ek het ’n paar weke voor ons begin skiet het elke dag van Seepunt tot Mouillepun­t in Kaapstad gerolskaat­s om die tegniek heeltemal onder die knie te kry,” vertel die aktrise.

Gedurende verfilming op Bonnievale het Tarryn gereeld in die dorpie gerolskaat­s om vir haar toneel op te warm en in oefening te bly. “Ek het gelukkig nie een keer tydens tonele geval nie. Dit was wel moeiliker wanneer ek doodstil op die rolskaatse moes staan.”

Gina is supercool, vertel Tarryn, en dit word deur haar kleredrag weerspieël. Mariechen Vosloo van Marche Media se garderobe-afdeling het Gina se kleurryke kostuums uitgekies. “En Gina kou gereeld kougom en blaas borrels, wat haar nog meer funky maak,” voeg Tarryn by.

GINA SE VERLEDE

Net soos vele van die ander karakters in Dwaalster het Gina ’n interessan­te en misterieus­e verlede. “Gina woon nie lank op een plek nie en skiet nie maklik wortel nie. Sy het op Worcester by die Skool vir Dowes skoolgegaa­n, maar uiteraard nie goed leer spel nie,” sê Tarryn.

Ná skool het Gina by ’n groep motorfiets­ryers aangesluit – en dis waar haar paaie met haar ekskêrel die sterrekyke­r Charlie (Albert Pretorius) gekruis het. “Maar toe hul groep ysterperdg­eesdriftig­es op ’n keer met hul motorfiets­e op Maanhaarsd­rif was, het sy ’n psigiese konneksie met die dorpie gevoel en besluit om daar te bly. Maar Charlie is steeds verlief op Gina en wil haar terugwen,” vertel sy.

Die ambisieuse kroegman Randall (Jarrid Geduld), Gina se kollega in die restaurant Die Piering, en Gina het goeie vriende geword. “Jarrid moes ook gebaretaal leer praat om met Gina te kommunikee­r. Sy kan egter goed liplees wanneer sy klante bedien.”

Tarryn vertel daar was negatiewe kritiek omdat ’n dowe nie vir die rol gekies is nie. “Maar dit is moeilik om iemand te kry wat doof is en terselfder­tyd kan toneelspee­l – en rolskaats. Ek hoop net ek het Gina realisties uitgebeeld en dat kykers van haar hou.”

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa