TV Plus (Afrikaans)

Potblou gemoker

Ronel word disnis geslaan wanneer sy probeer om een van haar skoliere te help.

-

Die meeste Arendsvlei-inwoners beskou Ronel (Melanie du Bois) as ’n barmhartig­e samaritaan. Sy dra ander se belange op die hart en help waar sy kan. “Sy het ’n baie sagte hartjie,” vertel Melanie, “maar haar goeie bedoelings gaan haar nou in ’n moeilike situasie plaas wanneer sy met ’n blouoog by die huis opdaag.” Almal wonder wat gebeur het, maar die waarheid oor haar blouoog is skokkend: Dit was die skool se groot bullebak Chantel (Menicia Sass) wat haar bygekom het.

MOEILIKE OMSTANDIGH­EDE

Ronel roep Chantel in om met haar te gesels, want Chantel teister die ander leerders. “Die arme kind het ’n moeilike lewe en haal haar aggressie op die kinders uit,” verduideli­k Melanie. Ronel weet dis weens haar huislike omstandigh­ede en roep haar in om te hoor wat in Chantel se lewe aangaan. Chantel vertel Ronel haar ma, Valdonia (Gerwen Simon), wat berug is vir haar wilde leefwyse en drinkery, slaan Chantel wanneer sy dronk is en Chantel weet nie hoe om dit te hanteer nie.

ROLSPEL

Om Chantel te help om haar ma se woedebuie te hanteer, stel sy voor hulle doen ’n rolspel: Ronel gee voor sy is Chantel en Chantel beeld haar ma se gedrag uit. Melanie sê dinge raak warm. Chantel klap na Ronel nes Valdonia aan Chantel sou slaan, en “slaan Ronel op die oog”.

Haar oog word vinnig blou en Ronel moet haar besering vir nuuskierig­es verduideli­k. “Sy kom met ’n powere verskoning vorendag en sê sy het haar oog teen haar kardeur gestamp,” verduideli­k Melanie. Maar nie almal glo die storie nie.

Wanneer die waarheid uitkom, is daar oorlog tussen Ronel en Valdonia – iets wat Ronel nie verwag het toe sy Chantel probeer help het nie. “Valdonia hou nie daarvan dat ander mense in haar gesin se sake krap nie. Sy begin Ronel teister en dreig en beswadder haar naam in die gemeenskap. En die storie gaan nie goed eindig nie,” waarsku Melanie.

 ??  ?? Ronel loop haar rieme styf met een van haar leerders.
Ronel loop haar rieme styf met een van haar leerders.
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa