TV Plus (Afrikaans)

Moordstori­e

Die verdagtely­s bars uit sy nate: Wie het Adler doodgemaak?

-

Brett Adler (Anton Schmidt), die hoof van die hospitaal Southern Hope, die Binneland-kliniek se mededinger, het die afgelope ruk baie vyande gemaak. G’n wonder iemand het so ver gegaan om hom te vermoor nie. Maar met soveel mense wat hy kwaad gemaak het, is dit ’n ope vraag wie vir sy einde verantwoor­delik was. “Hy was ’n koue karakter en het net sy eie belange op die hart gedra,” vertel Anton. “As hy iets wou hê het hy alles in sy mag gedoen om dit te kry. En enigiets of iemand wat in sy pad gestaan het sou hy summier uit die weg ruim.”

’N SKOK, MAAR NIE VERREGAAND­E NIE

Anton het die afgelope vyf jaar sporadies die rol van Adler vertolk en sê dit was ’n wonderlike ervaring. “Ek was geskok toe ek my draaiboek in November verlede jaar kry (toe die storielyn verfilm is) en daar staan my karakter word vermoor. Maar tog was dit ook nie so ’n wildvreemd­e storie nie want Adler het telkemale dinge te ver gevoer – ’n mens sou dink iemand moes hom al lankal van kant gemaak het.”

Tans is Anton betrokke by stemwerk vir radio-advertensi­es, korporatie­we besighede en videomater­iaal. “Basies enigiets waarvoor ’n stem nodig is, doen ek,” sê hy.

Is daar ’n kans dat hy uit die dood sal opstaan en terugkeer na Binnelande­rs? Anton sê: “Ons sal moet wag en sien. Enigiets kan in ’n sepie gebeur, en ’n skyndood is dalk iets wat die skrywers kan oorweeg.”

 ??  ?? Adler se doppie is sowaar geklink.
Adler se doppie is sowaar geklink.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa