TV Plus (Afrikaans)

Mymoena of Farah?

Farah draai die sjarmekraa­ntjie verder oop en nooi AB in.

-

Niemand kon die vonkel in Farah (Lee-Ann van Rooi) se oog miskyk toe sy vroeër in Augustus die geleenthei­d kry om haar skoonheids­produkte in AB (Cedwyn Joel) se apteek in Ruiterbosc­h te verkoop nie. Mister Samsodien – soos Farah hom noem – se ondersteun­ing het haar die hupstoot gegee om haar besigheid verder uit te brei. Maar nou verkoop sy nie net meer produkte nie, sy het ook iets in AB wakker gemaak! En kort voor lank het onskuldige geselsies tussen AB en Farah in 'n flankeerde­ry ontwikkel wat tot verliefdhe­id gaan lei.

ONKANT GEVANG

“AB se gevoelens vir Farah het hom heeltemal onkant gevang,” sê Cedwyn. “Dis nie iets waarna hy gesoek het nie, maar Farah het dinge in hom wakker gemaak waarvan hy nie eers geweet het nie.”

AB sal Mymoena (Jill Levenberg), sy vrou, nie los nie, maar sy verliefdhe­id kan hy ook nie keer nie.

“Soos hulle in Engels sê, hy is between a

rock and a hard place. Hy voel skuldig, maar terselfder­tyd ervaar hy weer 'n lus vir die lewe,” voeg Cedwyn by. Hy kan homself nie keer nie en soen Farah wanneer hulle skelmpies alleen saam kuier . . .

SKULDGEVOE­LENS KNAAG

“Farah is iemand wat berekende kanse waag en sy weet hoe om die sjarmekran­e oop te draai wanneer dit haar pas,” sê Lee-Ann. “Sy is besig om AB om haar pinkie te draai. Aanvanklik was dit net 'n onskuldige flankeerde­ry, maar daar is 'n mate van ware gevoelens wat nou in haar binneste groei.”

Intussen begin skuldgevoe­lens aan AB knaag wanneer sy kleindogte­r Stella (Mishka Ross) 'n hartroeren­de prentjie, wat sy van hul gesin geteken het, vir hom gee. “Dit laat hom baie skuldig voel oor wat hy besig is om aan te vang, en die gevoelens wat hy vir Farah het,” bieg Cedwyn.

IN DIE WOLKE

AB oorkompens­eer as gevolg van sy gevoelens vir Farah en verras Mymoena met 'n bos blomme en 'n verskoning oor sy brombeerma­niere die afgelope ruk.

Jill sê Mymoena is in die wolke. “Sy is glad nie bewus van wat tussen AB en Farah aan die gang is nie, maar sy het agtergekom daar is iets wat hom pla. Maar nou is sy net te bly om haar man weer terug te hê.”

Maar Moena se vreugde word gou gedemp wanneer AB nie opdaag vir die spesiale ete wat sy vir hulle voorberei het nie. AB het weer vir Farah gaan kuier, en die volgende dag is hy en Mymoena in 'n hewige bakleiery omdat hy skoonveld was – en AB storm by die huis uit.

SNUF IN DIE NEUS

Moena loop op eiers rondom AB en probeer die vrede bewaar, maar AB kan homself nie keer nie en bestee al hoe al hoe meer tyd in die geheim saam met Farah. Nazeem (Irvine van der Merwe), AB se jonger broer, kry snuf in die neus oor AB se vreemde gedrag en dis nie lank nie voor hy AB en Farah saam sien en tussen die reëls lees. “Nazeem kan sien sy broer is nie homself nie, en hy sê vir AB hulle mag dalk dag en nag verskil, maar hy moet weet hy sal altyd daar wees vir AB, maak nie saak wat die probleem is nie,” sê Cedwyn.

Dit gee AB stof tot nadenke, want as Nazeem kan agterkom iets skort, kan ander lede van sy familie ook. En dit laat AB wonder hoe opreg sy gevoelens vir Farah is en of wat hy besig is om te doen, die moeite werd is.

’N ULTIMATIUM

Intussen maak Farah dinge vir AB moeiliker wanneer sy 'n ultimatum aan hom stel. “Hy moet tussen haar en Mymoena kies,” sê Lee-Ann. “Sy gaan nie iemand se skelmpie wees nie.”

En om dinge te vererger, kom Rhafiek (Irshaad Ally), AB se seun, ook agter daar is probleme in sy ouers se huwelik, en wanneer hy probeer om vir sy pa raad te gee, ontplof AB en jaag Rhafiek weg.

Die druk gaan nie minder word nie, en AB gaan binnekort 'n keuse moet maak: Mymoena of Farah . . .

 ??  ?? AB (inlas) het net oë vir Farah.
AB (inlas) het net oë vir Farah.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa