TV Plus (Afrikaans)

Op die oorlogspad

Conrad wil At onttroon om die Binneland-kliniek se reputasie te red.

-

Die Binneland-kliniek is in chaos gedompel. Die grootbaas At Koster (Hans Strydom) se handlanger, Piet (Deon Coetzee), het dinge sonder At se goedkeurin­g gedoen, en dit het alles op die lappe gekom. Conrad (Hykie Berg), Binneland se HUB en At se seun, kan nie agteroor sit en kyk hoe Binneland se reputasie skade ly oor al sy pa se bose dade in die verlede nie, en Conrad besluit dis tyd om sy pa te onttroon en volle mag oor Binneland te neem. Maar daar is verskeie slaggate en wanneer dr. Annelize (Cindy Swanepoel) haar by At skaar, verklaar Conrad oorlog teen haar.

AT SE GEHEIME

Piet het homself onlangs aan die polisie oorgegee en erken hy het die portier Tommy (Pieter Human), van wie se moord Delia (Odelle de Wet) aangekla was, doodgemaak. En Piet het ook gebieg hy was agter Annelize en Tertius (Reynardt Hugo) se motorongel­uk omdat Annelize en Tertius byna die waarheid oor Delia se onskuld uitgepluis het.

Die skinderton­ge klap en mense wonder of Piet nie tog dié dinge in opdrag van At gedoen het nie, al ontken At dit ten sterkste. En Binnelande­rs kan ook nie help om te wonder hoeveel ander dinge Piet vir At gedoen het nie . . .

Iemand wat graag die volle waarheid wil weet, is die joernalis Jeremy (Craig Urbani), wat reeds sy mes in het vir Binneland. Hy reël ’n onderhoud met At en plaas druk op At om eerlik te wees, maar At verloor sy humeur met die verslaggew­er.

Intussen praat Conrad met sy meisie Tracy (Melinda Viljoen) oor die situasie met At en hoekom Conrad At as ’n probleem sien. “At staan tussen twee vure,” sê Hykie. “Binneland aan die een kant en Piet aan die ander kant, en dit gee die hospitaal asook die Kosters ’n slegte naam. Boonop meng At ook in met hoe Conrad die hospitaal bestuur – At neem besluite sonder om hom te raadpleeg, en daarom lyk Conrad soos ’n gek wanneer hy nie seker is wat At volgende doen of sê nie,” voeg Hykie by.

ANNELIZE KIES KANT

Conrad voel die druk om die kliniek se reputasie te red en hy probeer sy pa oortuig om hom van Piet te distansiee­r en Binneland te kies. Maar At kan Piet nie heeltemal afskryf nie, want die man ken al sy geheime en as dit op die lappe kom, sal dit At se einde beteken.

Die enigste persoon wat tans bankvas agter At staan, is Annelize (Cindy Swanepoel), die mede-eienaar van ongevalle en ook ’n hospitaalr­aadslid. “Annelize sal altyd lojaal wees aan At,” sê Cindy. “Sy voel hulle is eenders en het dieselfde passie en visie vir Binneland.” En At sien dit al hoe meer raak – en so word Annelize sy bondgenoot en Conrad sy vyand . . .

OLIE OP DIE VUUR

Binneland ervaar nóg ’n terugslag wanneer die hospitaal weer die media-opskrifte haal weens Delia, wat intussen uit die tronk vrygelaat is en met ’n joernalis gepraat het. “Delia sê sy vrees al jare lank vir haar lewe wanneer dit by die Kosters kom. En dié keer het dinge net erger geraak, want weens ’n laborato-riumfout met haar vrugbaarhe­idsbehande­ling, het sy ’n Koster-baba oor wie At graag ’n sê wil hê,” vertel Cindy met verwysing na Delia se dogter wat sy by At se broer Louis (Germandt Geldenhuys) het.

Die berig gooi olie op die vuur en dit moedig Conrad aan om stappe teen At te doen. “Conrad vra die raadslede om hom te ondersteun om van At ontslae te raak, maar Annelize weier om saam met Conrad te stem wat weer groot drama veroorsaak,” sê Hykie.

GROOT GEKONKEL

At hoor van Annelize se lojaliteit teenoor hom tydens die raad se stemmery, en om dankie te sê belowe hy haar alles waarvan sy nog gedroom het. “Ek kan nie te veel daaroor uitlap nie, maar dit maak Annelize verseker bly en vestig die band tussen haar en At verder,” sê Cindy. Met At wat Annelize ten volle vertrou, werk Annelize aan ’n plan om Binneland se reputasie te red en die joernalis Jeremy van At se spoor af te kry deur Jeremy se kredietwaa­rdigheid te vernietig. Op sy beurt werk Conrad aan ’n plan om van At en Annelize ontslae te raak. Praat van ’n gekonkel!

 ?? ?? At (links) en Conrad (regs) sit nie om dieselfde vuur nie, terwyl Annelize (inlas) bankvas agter At staan.
At (links) en Conrad (regs) sit nie om dieselfde vuur nie, terwyl Annelize (inlas) bankvas agter At staan.
 ?? ??
 ?? ??
 ?? ??
 ?? ??
 ?? ??
 ?? ??
 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa