Gepak vir die Amasone
Die avonturier Hazen Audel praat oor wat vir hom noodsaaklik is in die oerwoud – van sy rugsak tot die kameraspan.
Die oorlewingskenner en avontuurghoeroe Hazen Audel (van die realiteitsreekse Primal Survivor en Survive The Tribe) is terug met ’n splinternuwe reis na die onbekende in Primal Survivor: Escape The Amazon, Woensdae op National Geographic (*181) om 21:00. Dis ’n ekspedisie te voet oor 60 dae en 805 km deur die onbekende Amasone-oerwoud tot by die Atlantiese kus van Guyana. Of hy herhaaldelik gesteek word wanneer hy sy hande in ’n byenes steek vir ’n handvol heuning, bedorwe vis saamdra, want dis te nat om ’n vuur te maak, of aan iets sags suig vir ontbyt, niks keer Hazen om te oorleef nie, en hy verloor nooit sy sin van verwondering vir die natuur nie. Maar hy was nie alleen op die reis nie. Ons het met Hazen gesels oor wat hy en sy span moes beleef om Primal Survivor: Escape The Amazon seisoen 1 te maak.
DRIE NOODSAAKLIKE VRAE Ons gaan jou ervaring op die skerm sien, maar hoe was dit vir jou en jou span?
Dis een ding vir my om deur (die oerwoud) te gaan. Ek het dalk ’n machete in my hand en ’n rugsak en ek storm voort. Maar my span het ’n kamera van 27 kg en kyk na die omgewing deur ’n baie klein gaatjie (lens), en probeer by my bly. Aan die einde van die dag is die son dikwels al onder wanneer hulle kamp moet opslaan. Hulle moet ’n hangmat span, hulle was reeds modderig die heel dag, en daar is geen manier vir hulle om hulle skoon te maak nie. Hulle slaap in die modder, hulle skrik wakker met hul voete en klere steeds vol modder, en dan gaan hulle voort en volg my.
’n Klomp kameras het tydens die ekspedisie gebreek, maar hulle [die span] is taai. Hulle het allerhande infeksies gehad. Hulle moes al die insekte en byte versorg. ’n Klomp van ons het verskillende parasiete gehad, en ons moes dit net hanteer. Ons het saam gely.
Ek raak wel ontsteld omdat die program oor my gaan, terwyl dié ongelooflike span so hard werk. Hulle kan by die wêreld spog met wat hulle werklik doen, en ek kan nie dié [ekspedisie] sonder hulle doen nie. Ek sou ook nie baie ver kom indien ek nie die goed gebruik het wat ek van die inheemse volke langs die pad geleer het nie. Dit is dus ’n spanpoging. Aan die einde van daardie maande en maande en maande was ons almal hegte vriende. Ons is steeds ’n span.
Hoe groot is die span wanneer julle in die veld is?
Ons het twee primêre kameraoperateurs wat die kameras dra. Ons het ook ’n mens wat toegewys is vir die klank; dit is nie ’n stilprent nie. Dan verg dit baie bystand van die inboorlinge om ons plaaslike kennis te gee. Hulle help die span met bootreise, en bied ons die veiligste plekke aan waar ons kamp kan opslaan of die kameratoerusting vir die volgende dag kan gereed kry. Hulle bou dalk skerms vir die kameratoerusting, sodat dit uit die reën kan bly. Dikwels sal jy dié hoëtegnologietoerusting sien, en dis onder grasdakke, gemaak van palmtakke en goed wat enkele minute voor ’n groot storm afgesny is. Baie van die plaaslike span en die inheemse mense het langs die pad gehelp. Ons is almal daar om die lewe van die inheemse mense te belig en die natuur wat om ons is. Dit was wonderlik.
Wat was in jou rugsak? Al is dit die trope is dit soms onmoontlik om ’n vuur aan die brand te steek wanneer dit gestortreën het, en saans raak dit tot 15 °C. Dit klink nie koud nie, maar wanneer jy dae lank nie geëet het nie en dit hou aan reën, kan jy hipotermie ontwikkel.
Ek het ’n outydse, oorgeërfde wolhemp, ’n rol atleetverband vir in geval ek ’n groot wond opdoen – ek plak my vel bymekaar en dit help my deur die dag. En dis omtrent al. Die res van die tyd, is dit dalk gedroogde vleis, van wat ek ook al vang, natuurmedikasie of enigiets wat ek maak, soos tou.