TV Plus (Afrikaans)

Tydlose romanse

Die fantasiedr­amareeks The Time Traveler’s Wife neem ’n man en vrou op ’n romantiese sprokie . . . oor en oor.

-

The Time Traveler’s Wife

Seisoen 1 Maandae M-Net (*101) 21:30 (begin 16 Mei)

“Dit het weer gebeur. Die lakens word slap. Of die stort bly loop. En jy besef hy is weg,” sê Clare Abshire (Rose Leslie, bekend as Ygritte in die fantasiere­eks Game Of Thrones). Sy praat nie van ’n eenaandafs­praak in die nuwe fantasiedr­amareeks The Time Traveler’s Wife nie – haar man verdwyn op enige tydstip soos mis voor die son. “Henry (Theo James, Sidney Parker in die periodedra­ma Sanditon, lees meer op bl. 8) is met ’n genetiese afwyking gebore en hy kan dit nie verhelp nie,” sê Clare. En hoewel Henry se verdwyning en verskyning buite sy beheer is en spanning in hul huwelik veroorsaak, is Clare tot oor haar ore verlief.

VERDWYN EN VERSKYN

In die meeste programme en flieks is tydreise ’n supermag. Dis allesbehal­we dit in The Time Traveler’s Wife, wat aangepas is van Audrey Niffenegge­r se gelyknamig­e roman van 2003. Dis ’n vloek, sê Theo. “Henry het sy vrou lief en dié toestand het werklik ’n probleem geword. Hy het geen beheer oor sy tydspronge nie. Een oomblik eet hy ontbyt saam met Clare, die volgende oomblik is hy naak by ’n kadriel in 1973. Daar is niks wat hy kan doen nie buiten so lank moontlik by Clare teenwoordi­g wees.” Maar daar is ’n probleem: Wanneer Henry wakker word, onthou hy niks van Clare nie, maar raak telkens weer verlief.

’N OU BEKENDE

Terugflits­e onthul hoe die paartjie die eerste keer ontmoet het. Clare het grootgewor­d met ’n denkbeeldi­ge vriend genaamd Henry, wat die eerste keer in die bos agter hul huis verskyn het, en daarna sporadies tydens haar tienerjare. Maar daar is iets geheimsinn­igs omtrent hom, sê Clare. “Sy besef hy is nie net haar verbeeldin­g nie. Hy bestaan. En hy kom uit haar toekoms en sy weet alles van hom. Dis asof sy op afsprake gaan met haar lot wanneer sy Henry ontmoet by die biblioteek waar sy werk,” sê die aktrise, en voeg by: “Sy ken hom goed, en hoewel hy haar nie herken nie, gaan sy The Time Traveler’s

Wife word.”

’N EEUE OUE VERHAAL

Die program se uitvoerend­e vervaardig­er Steven Moffat (wat gewerk het aan programme soos die Britse sci-fikultusre­ekss Doctor Who) verduideli­k daar is ’n dieper storie as “net reis deur tyd. In sy kern is dit ’n verhaal van verlies, maar moenie ’n fout maak nie, dis beslis nie ’n tragedie nie. Dis ook nie wetenskapf­iksie nie. Daar is ’n tydreisige­r, maar daar is niks wetenskapa­gtig in die program nie.” Hy voeg by: “Dis ’n storie van buitengewo­ne liefde, dis ’n grootse verhaal van twee mense wat deur die noodlot bymekaarge­bring is. Dis ’n verhaal van twee harte wat bestem is om bymekaar te wees.”

Clare sê sy was ietwat senuweeagt­ig oor die rol, want sy het die boek gelees en was dol oor die storie. “My agent het my gevra om die oudisie te doen en ek was nie seker nie. Ek het gesê ek stel nie belang nie, want ek wou nie iets opmors waarvan ek so baie gehou het nie. Miskien is dít waarom ek uiteindeli­k die rol aanvaar het, want ek was verlief op die karakters wat Audrey geskep het. Ek het dié verpligtin­g gevoel nadat ek met die vervaardig­ers gepraat het. Toe hulle sê hulle soek my, was ek oortuig. Ek dink ek het die boek reeds ’n dosyn keer gelees. Ek het ’n hernude behoefte gehad om in Clare se kop te kom en die gevoel van verlies te verstaan, asook die nuwe sin van liefde in een verhaal.” Theo aan die ander kant weier om die boek te lees, en voeg by: “Ek laat my lei deur die vervaardig­ers. Ek wil nie teruggehou of beperk word deur wat geskryf is nie. Ek gee lewe aan Henry en hy is nou deel van my.”

 ?? ?? Henry (links) en Clare se lewe is ’n wipwarit vanweë Henry se toestand.
Henry (links) en Clare se lewe is ’n wipwarit vanweë Henry se toestand.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa