TV Plus (Afrikaans)

Die krake begin wys

Tim en Zoe se huwelik is op die rotse. . .

-

Die argitek Tim (Marco Spaumer) se ambisie, geldgierig­heid en dryf om mag en aansien te hê is besig om sy huwelik te pootjie. Hy en sy vrou, Zoe (Lauren Joseph), het die een argument ná die ander. En wanneer hulle weer koppe stamp – spesifiek oor die kuseiendom wat Tim op onderduims­e maniere in Maart bekom het wat tot die oorspronkl­ike eienaar se dood gelei het – vererg Tim hom en gaan slaap die aand in ’n hotel. En daar gebeur iets in die hotel wat Zoe by ’n kruispad in hul huwelik gaan bring.

VERTROUE VERBREEK

Tim is op dun ys, want nie net sit hy en Zoe nie langs dieselfde vuur nie, maar Zoe se tannie Bridgette (Denise Newman) – wat ook sy baas is by Jacobs Property Developmen­t (JPD) – het finaal haar vertroue in Tim verloor ná die kuseiendom-debakel, want dit het JPD se deure amper vir goed gesluit.

Bridgette soek Tim uit haar persoonlik­e en werkslewe en sy moedig Zoe aan om meer uit te vind oor wat presies die aand gebeur het toe Tim by die hotel oorgeslaap het – veral wanneer Zoe ’n hotelstrok­ie in Tim se klere kry waarop daar staan hy het ’n bottel sjampanje bestel en Tim skielik hul afspraak die aand kanselleer. “Eintlik het Tim werklik ’n krisis by een van JPD se boupersele en dis waarom hy nie sy date met Zoe kan maak nie, maar arme Zoe se brein werk oortyd weens al die krapperigh­eid tussen hulle. Sy probeer skelm deur sy foon gaan, maar Tim vang haar uit, en dan beskuldig sy hom daarvan dat hy ’n affair het wat Tim ten sterkte ontken,” sê Lauren.

IN KOOKWATER

Zoe voel skuldig oor sy Tim van ontrouheid beskuldig het en probeer opmaak deur Tim aan te moedig om saam met haar, sy pa,

Chris (Marcel van Heerden), en Chris se meisie, Kate (Annelisa Weiland), op ’n wegbreek na Paternoste­r te gaan.

Tim stem in, maar kort daarna trek Zoe kop uit.

“Zoe kry ’n sonbril in Tim se kar en wanneer sy hom uitvra oor wie s’n dit is en hoe dit daar gekom het, kan Tim nie verduideli­k nie,” sê Lauren.

Woedend en seergemaak jaag Zoe Tim weg en eis van hom om vir haar ruimte te gee sodat sy kan besin oor hul huwelik aangesien hy nie die waarheid oor die sonbril wil vertel nie. En asof Tim nie klaar in kookwater is nie, maak Bridgette die water vir hom nóg warmer: “Bridgitte het kringtelev­isiemateri­aal opgespoor van die hotel wat wys Tim is saam met ’n ander vrou by die hotel. Bridgette sê vir hom sy sal dit nie vir Zoe wys nie, maar hy wat Tim is moet haar die waarheid vertel. Hy is nou in hoek,” verklap Marco.

JY IS NIE WELKOM NIE

Tim speel oop kaarte met Zoe en sy is in afgryse. “Sy wil glad nie met hom praat nie en dreig om prokureurs in te roep wat Tim desperaat maak om sy huwelik te red,” sê Marco.

Dinge raak net erger wanneer Bridgette olie op die vuur gooi deur vir hom te sê hy is nie meer welkom op kantoor nie.

“Tim voel verneder, want nie net is hy moontlik sy huwelik kwyt nie,” sê Marco. “Maar ook dalk sy eens rooskleuri­ge toekoms by JPD.”

Dis natuurlik moontlik dat Zoe op haar eksliefie

Wade (Dean John Smith) se skouer gaan huil, maar nou lyk dit asof Wade reeds ’n ander liefie in sy lewe het . . . (lees meer langsaan).

 ?? ?? Zoe kan haar ore nie glo nie wanneer Tim (inlas) aan haar erken hy het oor die tou getrap.
Zoe kan haar ore nie glo nie wanneer Tim (inlas) aan haar erken hy het oor die tou getrap.
 ?? ??
 ?? ??
 ?? ??
 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa