Dinge wat jou slyp
Cintaine vertel van haar eie kindwees, dankbaarheid en heling.
Dinge Van ’n Kind
Seisoen 1 kykNET (*144) Dinsdae 20:00
Toe Cintaine Schutte (34) se skoen onlangs in die eerste 20 minute van haar teaterproduksie Mutton Hour by die Suidoosterfees in die Kaap breek, het sy dit eenvoudig uitgetrek, weggegooi en kaalvoet verder gespeel. Want vir haar sak die gordyn nooit – dis deurdruk, aanhou en boonop in-dieoomblik-leef-en-geniet in alles wat sy aanpak.
“Eintlik het Covid my onfiks gemaak,” sê sy nadat sy en van haar stam, soos sy na onder andere die akteur De Klerk
Oelofse (aanbieder van die speletjiesprogram Kyk Wie Praat) verwys, weer op die verhoog was. Haar effense hees lag klou aan jou en dis onmoontlik om nie saam met haar te glimlag nie. Sy noem haarself eerder ’n storieverteller as ’n aktrise en teksskrywer – en dit is sy ook. Sy het al bykans 50 teaterproduksies onder haar (kaal of gesoolde!) voete, sy is al benoem vir meer as 20 toekennings (waarvan sy verskeie gewen het), en verlede jaar was daar 15 programme en flieks op Showmax waarin sy gespeel het of waarby sy agter die skerms betrokke was. Dit sluit alle genres in, van satires soos Die Kasteel waarin sy Michellay was, tot die regsdrama Fynskrif waarin sy Katrien gespeel het.
En as jy nie êrens haar uitdrukkingsvolle gesig met die diep kuiltjie in haar ken gesien het nie, sou jy haar hoor oor Radio Sonder Grense toe sy boeiend
Die Mooiste Sprokies Van Grimm (’n keur deur die skrywer Marita van der Vyver met illustrasies deur Piet Grobler) voorgelees het. Nou is sy weer te sien as een van die drie weergawes van die karakter Mart in Dinge Van ’n
Kind, gegrond op die einste Marita se bekende boek wat in 1994 verskyn het. En sy kén Mart. Cintaine speel al vir verskeie jare in ’n gelyknamige eenvrouverhoogproduksie en was maar net te dankbaar – ’n woord wat voortdurend deel van haar woordeskat is – vir ’n rol in die TV-reeks.
DIE IMPAK VAN DETAIL
Toe sy hoor die produksiemaatskappy Nagvlug Films begin met ’n TV-reeks oor die boek wat deur die jare byna vir haar soos ’n Bybel geword het, was sy tegelyk opgewonde en huiwerig. Want die reeks gaan verder as die boek: Pleks van net die middel-Mart wat briewe skryf aan haar seun (gespeel deur Ludwig Binge, Tappies in die dramareeks Nêrens, Noord-Kaap) wat eintlik maar memoires aan jong Mart (gespeel deur Melissa
Myburgh, Mika in die komediereeks Kompleks) is, vertel die reeks die verhaal van Mart wanneer die boek se bladsye klaar is – kompleet met die ouer Mart (vertolk deur Susanne Beyers, Rene van Wyk in Fynskrif) se eie, nuwe worstelinge. “Ek was eers bang hulle
[die produksiemaatskappy] peuter aan iets wat soos ’n skatkis is, want die boek
is soos volksbesit. Maar ek het met Marita daaroor gepraat, en sy het gesê dis soos om jou boek te laat gaan en dit in ander tale te laat vertaal. Dis om jou baba te laat vlieg of om te hoop jou baba groei.”
En dis presies wat in die reeks gebeur. Al het jy nie die boek gelees nie, sal jy dadelik aanklank vind by al drie weergawes van Mart, ongeag jou eie ouderdom. “Die vervaardigers was eintlik half bederf met die boek wat so goed geskryf is. Alles was klaar ingekleur, daar was ’n bouplan wat omskep kon word in ongelooflike tonele.”
En getrou aan die boek is die reeks verfilm om die jong Mart in die 1970’s volledig uit te beeld in tonele wat jou onmiddellik na daardie era wegvoer.
“Ek weet hulle het aanvanklik met die koshuistonele gesukkel om TODlinne te kry,” sê sy met verwysing na die destydse Transvaalse Onderwys Departement se afkorting wat op alle skoolitems ingebrand was. “Die koshuiskamertonele is eers geskiet met sulke geel beddegoed. Marita het gesê dis maar oukei, dit verander tog nie aan die boodskap wat die tonele oordra nie.
“Maar toe kry hulle wel van die TOD-lakens in die hande en hulle moes dit oorskiet. Ek het Melissa gevra of dit die moeite werd was om al die moeite te doen om dit weer te verfilm, en sy het gesê beslis. Want dit plaas jou onmiddellik in daardie era. Want of jy ’n tannie of ’n oom is, jy sal daardie TODmerk onthou.”
BLY PRAAT
Uiteindelik gaan die reeks – en veral die boek – oor die soeke om êrens te behoort en liefgehê te word. “Ek weet baie mense trek hul skouers op en vra moet ons wéér oor apartheid praat (die era waarin die jong Mart se dae afspeel) of die grensoorlog, want dis holrug gery, maar já, ons móét. Want tog is die stories uiteindelik ook universeel.
“Namate jy grootword, is daar besliste bakens wat jou jou onskuld as kind laat verloor. Of dit nou iemand is wat jou hart breek of jou hormone wat inskop, en of jy ander trauma ervaar langs die pad. Ons het almal trauma wat ons verwerk.” En dis iets wat die reeks uitstekend uitbeeld.
OM TE ROU
Dis ook iets wat Cintaine self goed ken, die trauma wat hand-aan-hand met grootword loop. Haar pa is nou byna ’n jaar terug aan Covid oorlede. Die einste man, Bernhard, wat al toe sy 11 jaar was sy been in ’n ongeluk verloor het en in ’n rolstoel was, maar ook hoeveel keer haar bene was toe werk skaars en inperking die lewensap uit die vermaakbedryf gesuig het. “Ek skryf nou nog briewe vir hom,” sê Cintaine wat nes Mart nog altyd lief was vir skryf. Dis vir haar ’n vorm van meditasie. “Dit ontsluit my grootste geheime gedagtes. Dagboek hou was nog altyd deel van my. Ek het as kind so ’n swart en rooi padda-poef gehad waarop ek gesit en skryf het. Ek het darem mettertyd geleer ek hoef nie alles altyd in te hou en vir myself te hou nie. Dis hoe ek my eie drake oorwin. Maar ’n mens het ’n
weird verhouding met rou,” erken sy. Sy is al as kind geleer “om haar volume-knoppie af te draai”, vertel sy. Nie dat haar ma, Hesté, en die res van haar familie nie ondersteunend was nie. Inteendeel, Cintaine is nou nog naby aan al haar familie al het sy intussen haar Pretoria-wortels na die Kaap verskuif.
DROME EN DANKBAARHEID
Sy en haar man, Carel Nel, ook ’n akteur (hy was onder meer Grant in die dokkie Abraham Lincoln wat op die History Channel uitgesaai is) het so lief geword vir die Kaap, hulle het in 2019 in die middestad getrou. Hulle ken mekaar al langer as 10 jaar en haar vabond, soos sy hom noem, is een van die dinge wat haar lewe vervul. “Ek is sy grootste kritikus en hy is myne. Jy vind jou groove as jy mekaar so lank ken en in dieselfde bedryf werk. Wanneer ons saam aan ’n projek werk, gee ons onsself aan die einde van die dag ’n uur om daaroor te praat, en daarna skakel ons af. Dit raak wel tricky wanneer die een werk het en die ander een nie, want jy weet presies wat die ander persoon ervaar. Jy ken die jakkalsies in jou kop wat karring aan jou selfbeeld en die worry en die angs.”
Ja, daar is nog drome. Soos om haar meestersgraad in enigiets in Amsterdam te doen en Nederlands te leer praat. Om regie te behartig. Selfs net om te leer koek bak, want sy dink sy is ’n power bakker.
Maar al het sy steeds ’n droomlysie, draai die gesprek terug na dankbaarheid vir wat sy reeds het. Dankbaar dat sy nou in die Krugerwildtuin ’n skryfkursus van Marita kon bywoon – ook die laaste plek waar sy en haar pa saam vakansie gehou het. Dankbaar vir haar stiltyd wat sy met klein-Cintaine kan hê wanneer sy in een van haar notaboeke skryf en in haar kindwees en siel delf om enigiets en alles te verwerk. Dankbaar dat sy mense in die oë kan kyk, stories kan vertel en kan lag dat haar diep kuiltjie effens stywer trek. Dankbaar vir tee en haar kat en haar stammaats.
Want al het Cintaine ook al baie groot geword, is vreugde en ’n tikkie kindwees soos ’n TOD-stempel op haar menswees ingebrand.