TV Plus (Afrikaans)

Pluk die vrugte

Die aktrise Susanne Beyers gee gestalte aan die 60-plus Mart in Dinge Van ’n Kind.

-

In die bekroonde skrywer Marita van der Vyver se roman Die Dinge Van ’n Kind maak lesers kennis met die tiener Mart Vermaak wat in die onstuimige laat 1970’s koshuis toe gestuur word, asook die ouer Mart in haar 30’s wat ’n enkelma is en in Londen woon. Maar almal het gewonder wat het later jare van Mart geword. “Ek dink dit was ’n logiese besluit van die vervaardig­ers om die ouer Mart in haar sestigerja­re in te sluit in die dramareeks wat op die boek gegrond is. ’n Mens pluk altyd die vrugte van jou besluite, en mense was nuuskierig oor hoe Mart se lewe en besluite verloop het,” sê die aktrise Susanne Beyers, wat ons onlangs as René van Wyk in die kykNETdram­areeks Fynskrif gesien het.

LEWENSLESS­E EN TEMAS

Susanne (67) sê sy herken baie van haarself in die oudste Mart. “Wanneer jy ouer is, dink jy soms jy kan kommentaar lewer op ander se doen en late en ook beheer hê oor sekere dinge in die lewe. Maar jy besef mettertyd jy kan nie vir ander voorskryf wat om te doen nie, selfs al is hulle jou kinders. Hulle moet hul eie lewe lei en jy moet dit net aanvaar,” sê Susanne.

Die 60-plus Mart, wat in die huidige tyd leef, het baie lesse in haar verlede geleer. “Maar sy is glad nie verbitterd nie. Inteendeel, sy het baie hoop vir die toekoms en die land.”

Verskeie relevante en universele temas word in die reeks uitgebeeld, voeg sy by. “Eerstens is daar die tema om te groei en sin te probeer maak van die lewe, maar ook om te leer om afskeid te neem van die dinge van ’n kind. Die Bybel sê: ‘Beproef alles, maar behou ook die goeie dinge in die lewe.’ Die kompleksit­eit van verhouding­s kom ook onder die vergrootgl­as.”

Wat die sekspraatj­ies betref, waaroor sommige kykers kapsie maak, sê Susanne: “Daar’s ’n ouderdomsp­erk van 13 en die reeks is beslis nie vir jonger kykers se oë bedoel nie. Baie ouers is te bang om met hul tieners oor dié onderwerp te praat, maar tieners is nuuskierig en hulle word in elk geval aan so baie geweld en seks op televisie blootgeste­l en probeer op ander maniere of by hul vriende oor die onderwerp uitvis. Die storie gaan oor die bitter vrugte wat gepluk word en die verkeerde keuses wat gemaak word, en tieners ouer as 13 kan hieruit leer.”

GEBALANSEE­ERDE LEWE

Susanne, wat in 1975 ’n B-graad in drama aan die Universite­it Stellenbos­ch (US) verwerf het, het nie net in verskeie TV-reekse nie, maar ook in talle rolprente, soos Strikdas (2015 as Patrys), en op die verhoog in verskeie produksies soos Ou Blare, naam gemaak. “Ek het nie in my wildste drome gedink ek sou in dié stadium van my lewe nog so aktief in die bedryf wees nie. Ek kan elke oggend net baie dankie sê, want die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval,” sê sy. Sy is ook gereeld agter die mikrofoon om voorlesing­s op RSG (Radio Sonder Grense) te doen en gee die afgelope twee dekades dramaklass­e op ’n ad hocbasis aan die US.

Sy het wyse raad vir die jonger geslag wat drama wil gaan studeer: “Die toneelafri­gter, aktrise en omroeper Suzanne van Wyk het altyd gesê wanneer jy ’n toneelspel­er wil word, is dit soos om verlief te raak: Jy weet dit is nie altyd ’n goeie ding nie, maar jy kan jouself net nie keer nie. En as jy ’n akteur wil word, moet jy weet presies waarvoor jy jouself inlaat op alle vlakke – emosioneel tot finansieel. Jy moet inspring en vasbyt en wanneer die werk opdroog, moet jy bereid wees om iets anders te doen om die pot aan die kook te hou.”

Susanne het geweet haar jongste spruit, Pietie (Nico in die sepie Getroud Met Rugby, lees meer op bl. 23), gaan in haar voetspore volg. “Pietie het op skool al buitemuurs­e dramaklass­e geloop en hy is nie ’n 8-5-werker nie.” Haar twee ander kinders het hul eie rigting ingeslaan en sy ondersteun hulle ten volle.

Susanne woon in die voorstad Higgovale in Kaapstad en probeer ’n gebalansee­rde, aktiewe lewe lei. Sy swem elke dag douvoordag in die see, stap baie en is ’n boekwurm. “Ek lees graag reisverhal­e soos Elsa Joubert se Reise Van Isobelle (1995) of biografieë soos Leonardo Da Vinci deur Walter Isaacson (2017). Ek glo lees is ’n manier om in kontak te bly met die human condition.”

En soos die oudste Mart, omarm Susanne dié seisoen van haar lewe.

 ?? ?? Susanne Beyers is die middeljari­ge Mart in die reeks Dinge Van ’n Kind. Susanne se jongste spruit, Pietie, het in sy ma se voetspore gevolg.
Susanne Beyers is die middeljari­ge Mart in die reeks Dinge Van ’n Kind. Susanne se jongste spruit, Pietie, het in sy ma se voetspore gevolg.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa