TV Plus (Afrikaans)

Vele talente

Jenna-Leigh woel en werskaf op talle terreine.

-

Almal ken haar as die nuusanker by eNuus wat saans met die woorde “goedheid en guns” groet. Jenna-Leigh, wat op 15-jarige ouderdom ’n vrywillige omroeper en vervaardig­er van ’n jeugprogra­m by die radiostasi­e Vallei FM in Worcester in die Wes-Kaap was, het ook in April by Die GROOT Ontbyt-span (op kykNET) as mede-aanbieder aangesluit. En agter die skerms het sy nóg hooi op haar vurk.

Jy lees al sowat nege jaar nuus by eNuus. Word dit met die jare se ondervindi­ng minder senutergen­d?

Jou selfvertro­ue neem oor die jare toe en dit help met die senuwees. Ek moes in die begin gou leer om die senuwee-skoenlappe­rs onder beheer te kry, want dit kan jou fokus belemmer. Hoewel ek glad nie meer op my senuwees is voor uitsending­s of onderhoude nie, voel ek steeds die las van die groot verantwoor­delikheid wat ons as nuuselers het om die nuus geloofwaar­dig, akkuraat en met respek aan ons kykers oor te dra. Ek doen dit al lank genoeg om te weet as jy as aanbieder ongemaklik voor die kamera is, maak jy jou kyker ook ongemaklik. Hulle moet vertrou jy is in beheer en jy moet hul aandag kan vasvang.

Jy het al op soveel verskillen­de terreine in radio en televisie van aanbieding, vervaardig­ing tot redigering, uitgeblink. Wat is jou grootste passie?

Dis altyd moelik om te kies! Juis daarom is aanbieding dalk my gunsteling, want dit bied my die geleenthei­d om al my vaardighed­e te gebruik. By eNuus werk ons ook as deel van die redaksie en het dus insae in die inhoud van die bulletin. Teen die tyd dat jy op die lug is, het jy reeds jou navorsings-, videoredig­erings-, stemen skryfvaard­ighede gebruik.

Jou man, Ed, is pastoor by die Grace Court Impact Centre in Randburg, Johannesbu­rg. Hoe is jy by die gemeente betrokke?

Ek is assistent-pastoor en medestigte­r van Grace Court Impact Centre. Ons het takke in Johannesbu­rg, Worcester en Mogwase in Noordwes. Benewens prediking, administra­sie en oorhoofse leierskapv­erantwoord­elikhede, help ek ook met pastorale sorg. Ek is uitvoerend­e direkteur van die nie-winsgewend­e been van die organisasi­e en behartig verskeie gemeenskap­sprojekte, soos Cycle Breakers, wat op die sosiaal-ekono-miese bemagtigin­g van die jeug fokus.

Watter nuwe uitdagings stel Die GROOT Ontbyt aan jou?

Die grootste uitdaging is nie om vroeg op te staan nie, maar eerder om vroeg te gaan slaap. Ná eNuus en dan Arendsvlei, een van my gunsteling-plesiere, (lees meer op ble. 24 en 25), is al die ligte in my huis af. Die ander uitdaging is om wel belese te wees sodat jy ’n verskeiden­heid onderhoude met gemak kan voer.

Jy het reeds twee boeke Goedheid En Guns (2014) en Church Girl Problems (2018) uitgegee. Indien jy ’n volgende boek skryf, watter onderwerp sal jy kies?

Eerstens wil ek die bygewerkte weergawe van my boek Goedheid En Guns, wat handel oor my lewensreis, laat herdruk. In die nuwe weergawe is twee ekstra hoofstukke om lesers op hoogte te bring van waar ek tans in my persoonlik­e lewe is. Mense wag al so lank daarvoor en ek kan nie tred hou met al die navrae en bestelling­s as self-gepublisee­rde skrywer nie. Die nuwe weergawe word ook deur my maatskappy Bilong Breakthrou­gh Solutions uitgegee. Daarna kom Vrot Aartapels aan die beurt. Dié boek lei jou om al die vrot aartappels wat jou vooruitgan­g belemmer, uit te skakel.

As TV-nuusleser word jy voortduren­d met slegte en ook goeie nuus gekonfront­eer. Wat gee jou hoop in ons land?

Daar is soveel meer goeie as slegte nuus in Suid-Afrika. As jy daarvoor soek, sal jy dit vind. Die goeie nuus, tesame met die mense, profetiese woorde asook die talle voetsoldat­e wat werk om ons samelewing te verbeter, laat my glo daar is hoop vir Suid-Afrika. Ons sukkel nog om saam te bou, maar ons kan goed saamveg. Ten minste sal Suid-Afrikaners saam veg teen die land se politieke, ekonomiese en morele ondergang.

 ?? ?? Jenna-Leigh Bilong is ’n gesoute nuusleser by eNuus en deesdae ook mede-aanbieder van Die GROOT Ontbyt. ‘Daar is soveel meer goeie as slegte nuus in Suid-Afrika.’
Jenna-Leigh Bilong is ’n gesoute nuusleser by eNuus en deesdae ook mede-aanbieder van Die GROOT Ontbyt. ‘Daar is soveel meer goeie as slegte nuus in Suid-Afrika.’
 ?? ?? Jenna-Leigh (links) en haar man, Ed Bilong.
Jenna-Leigh (links) en haar man, Ed Bilong.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa