TV Plus (Afrikaans)

Die wandelpad roep

Erns verken die wonderskon­e Tuinroete in die nuwe seisoen.

-

Elders: Tuinroete

Seisoen 5 Maandae kykNET (*144) 20:00 (begin 4 Julie)

Die joernalis en aanbieder Erns Grundling verken graag nuwe pelgrims- en staproetes, of dit nou oorsee of op eie bodem is. In Elders se seisoen 5, Elders: Tuinroete, neem hy ons weer op ’n stapavontu­ur wanneer hy en sy kameraspan ’n nuwe Pelgrimsto­g Van Hoop-staproete aanpak, dié keer van Uniondale tot in Mosselbaai. “Die roete is nog baie nuut en is verlede jaar vir die eerste keer in Junie gestap, maar vanweë die wonderlike natuurskoo­n en vennote se gasvryheid, is dit reeds baie gewild,” sê Erns.

NUWE FOKUS EN GASTE

Hoewel die nuwe roete van 274 km gewoonlik binne twee weke gestap word, het Erns en sy span ’n raps meer as ’n maand voete geklap op die roete. “Ons het soms ’n ekstra dag op ’n plaas of dorp gebly om met die boere en inwoners te gesels en inhoud te skep,” sê hy.

Soos in die vorige Elders-reekse het Erns weer spesiale gaste genooi om saam met hom te stap. “Ek wil nie ’n gas nooi net omdat die persoon bekend is en hopelik meer kykers gaan lok nie,” sê

Erns. “Dit is vir my belangrik om bewonderin­g vir ’n gas te hê.” Van die gaste in die nuwe seisoen sluit in die akteur Frank Opperman (Lourens Adendorff in die dramareeks Nêrens, Noord-Kaap), Karen Meiring (voormalige hoof van kykNET se Afrikaanse kanale), en prof. Thuli Madonsela (gewese openbare beskermer).

In die vorige seisoen, Elders: Namibië, het Erns, buiten enkele stapepisod­es, met ’n Toyota Prado, wat hy Die Woestynlee­u gedoop het, gereis. “In hierdie seisoen is die fokus hoofsaakli­k op stap en alles wat ek op die pelgrimsto­g en by die bestemming­s beleef. Daar is wel ’n Toyota Land Cruiser 300, wat dié keer Die Silwer Buffel heet, waarin ek van tyd tot tyd ry op dae wat ek nie stap nie, en wat ook vervoer vir die gaste is.”

HOOGTEPUNT­E EN UITDAGINGS

Erns vertel die natuurskoo­n en die mense is beslis hoogtepunt­e. “Wat hierdie roete so besonders maak, is 90% daarvan is op stil paaie deur die Klein-Karoo, Langkloof en Tuinroete. Op die meeste ander pelgrimsto­gte is daar dikwels kilometers en kilometers besige teerpaaie. Die inwoners se gasvryheid is werklik spesiaal. Hulle is opregte mense wie se hande vir niks verkeerd staan nie. Hulle het oop harte, ’n aptyt vir lekker lag, borde vol boerekos en natuurlik roosterkoe­k – altyd roosterkoe­k!”

Uitdagings is daar wel, voeg hy by. “Om 270 km te stap is reeds moeilik, en om dit te doen om ’n reeks te skiet, stel hoë eise aan die regisseur en kameraspan, en aan my as aanbieder. Maar danksy ds. Gert Nothnagel van die NG Kerk Herold naby George wat die roete administre­er se ondersteun­ing, en die gasvryheid van die vennote langs die pad, het ons die projek suksesvol voltooi.

“Nóg ’n uitdaging is die sterk fokus wat so ’n projek vra. Ek het nie tyd vir ander werk terwyl ons ’n Elders-seisoen skiet nie, want dit is vir my belangrik om teenwoordi­g te wees. Ek is ook lank weg van die huis, my vrou, Catharien, en ons honde, Suki en Mika. Netnou begin al drie vir my grom,” skerts hy.

DOELWIT EN GEWILDHEID

Erns sê dis vir hom die lekkerste en bevredigen­dste werk om ’n Elders-seisoen saam met sy vennote Frankie Opperman en PJ Kotzé van Bonanza Films te maak. “Toe ek die eerste Elders-seisoen in 2017 in Spanje verfilm het, het ek nooit kon droom die reeks sou soveel momentum kry nie. Indien kykers geïnspiree­r word om meer gereeld te stap en versteekte juwele in ons land en elders te verken, is my taak afgehandel. En as ek dit kan doen, kan enigeen dit doen.”

Daar’s beslis wêreldwyd toenemende belangstel­ling in pelgrims- en staptogte, sê Erns. “Covid-19 en die hoë brandstofe­n reiskoste speel ’n rol, maar mense vind ook heling en sin in stap. Die ou Latynse frase lui: ‘Solvitur Ambulando – it is solved by walking’.”

 ?? ?? Erns (links) en prof. Thuli Madonsela verken die nuwe Pelgrimsto­g van Hoop-staproete.
Erns (links) en prof. Thuli Madonsela verken die nuwe Pelgrimsto­g van Hoop-staproete.
 ?? ?? Catharien (links) en Erns ontspan saam met een van hul honde.
Catharien (links) en Erns ontspan saam met een van hul honde.
 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa